Eksodus 20: 1-17

Dit is ’n welbekende feit dat die eerste hartoorplanting ter wêreld in 1967 in Suid-Afrika deur dr Christiaan Barnard gedoen is. ’n Hartoorplanting gee vir mense ’n nuwe hart sodat hulle weer voluit kan leef. Dit is soortgelyk aan dit wat in die geloof met ons gebeur wanneer ons in Jesus Christus as ons Redder glo – ons word nuwe mense met nuwe harte. God gee vir ons in die Bybel bepaalde riglyne wat ons help om te verstaan hoe ons met hierdie nuwe harte moet leef.

Reeds vroeg in die Bybelse verhaal, in Eksodus 20, gee God vir sy volk, waar hulle deur die woestyn trek, riglyne vir hoe hulle moet lewe as sy kinders. Ons ken hierdie riglyne as die tien gebooie. In die tien gebooie word God se verbond met Israel formeel vasgelê. So word die tien gebooie ’n etiese kode wat die leefwyse van die volk bepaal. Maar terselfdertyd is die tien gebooie soveel meer as ’n stel wette of ’n etiese kode. Dit is ’n uitdrukking van God se wil vir sy kinders wat daarop gerig is om vir ons ’n vol en vervulde lewe te gee, om God se beeld in ons te herstel.

Die tien gebooie is daarom ’n hartsaak. As ons verstaan dat God vir ons ’n nuwe hart gegee het toe Jesus Christus vir ons aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan het, sal ons verstaan dat ons hierdie gebooie moet nakom. Nie sodat ons gered kan word nie, maar juis omdat God ons klaar gered het. Omdat ons in Christus ’n hartoorplanting gekry het, sal ons uit dankbaarheid die tien gebooie wil nakom. Dan sal ons die tien gebooie verstaan as God se wil vir ons lewe – ’n genadegawe wat vir ons die pad wys na die ware lewe, maar terselfdertyd ’n waarskuwing teen die verkeerde pad.

Gebed

Dankie dat U, Here Jesus, vir ons deur u kruisdood en opstanding ’n nuwe hart gegee het. Help ons om volgens u wil te leef sodat ons lewe sal getuig van liefde vir U en ons naaste, soos die tien gebooie ons leer. Amen.

Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom / Hervormde Teologiese Kollege

Share via
Copy link
Powered by Social Snap