Ek was in die Aula daardie dag tydens die Algemene Kerkvergadering toe daar gepraat is oor of kinders by die Nagmaal toegelaat mag word of nie. En toe kom die skokkendste voorstel denkbaar. Iemand stel voor dat ons moet besluit om nooit weer oor Kindernagmaal ’n besluit te neem nie.
Hier is ons nou weer, meer as ’n dekade later, en ons gaan weer by hierdie jaar se Algemene Kerkvergadering oor die toelating van kinders by die Nagmaal praat. Ek wil nie vandag ’n mening uitspreek oor die saak van die toelating van kinders by die Nagmaal nie; daaroor het ons al in hierdie publikasie geskryf en die saak sal voldoende by die Algemene Kerkvergadering bespreek word.
Nee, die debat het my weer oor die dinamiek van kerkwees laat dink. Die kerk as die half onverstaanbare werklikheid waarbinne ons ons geloof as gemeenskap van gelowiges uitleef.
Ek het Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins die eerste keer as jongman in my twintigs gelees, en ek het gereken dat ek nou, ver verby vyftig, seker uiteindelik genoeg wysheid en lewensondervinding het om die boek weer te lees en dalk hierdie keer te verstaan. So begin ek lees en skielik, onverwags, kry ek by Leroux ’n antwoord op die vraag wat al ’n geruime tyd by my gespook het oor die herbesoek aan die saak van Kindernagmaal. Leroux plaas die volgende woorde in die mond van Jock Silberstein, die patriarg van Welgevonden. Terwyl hy en sy aanstaande skoonseun, Henry van Eeden, in hoofstuk drie oor godsdiens en orde praat, sê Jock vir hom: Daar is ’n oorspronklike rede vir elke regulasie. Hoe komplekser die sisteem, hoe moeiliker om die presiese rede vir elke regulasie te bepaal. Regulasies word naderhand dogmas, waarhede waaroor daar nie meer te redeneer is nie.
Ek lees dit, gaan terug na die begin en lees dit weer, en daar kom die son vir my op. Ek sit en ek wonder, wanneer en hoekom is besluit dat kinders nie by die Nagmaaltafel mag aansit nie? En ek wonder of dit ’n ewigdurende waarheid is wat agter die eerste besluit gelê het.
Kom ons kyk weer na die aanhaling. Hy begin deur te sê dat daar ’n oorspronklike rede vir elke regulasie is. Ek het my kinders ook so geleer wanneer hulle teen reëls by die skool in opstand gekom het, dat daar ’n rede vir elke reël is. Maar dan stel hy dit dat hoe komplekser die sisteem is, hoe moeiliker raak dit om die presiese rede vir die reël te bepaal. En dan die hoogtepunt van hierdie stelling van Jock Silberstein: dat regulasies (reëls) later dogma word, waarhede waaroor daar nie meer geredeneer word nie.
Daarom het ek begrip vir die voorstel, hoe absurd ook al, dat besluit moet word om nooit weer oor iets te besluit nie.
Onwillekeurig dink ek aan ander groot besluite wat in die verlede deur die Kerk, ons Kerk, geneem is. Ek onthou hoe my ouers my vertel het van ’n tyd toe mans en vroue nie saam aan die Nagmaaltafel mag gesit het nie. En tog was daar ’n dag toe ons kerkvaders daaroor debat gevoer het en besef het dat dit verkeerd is en die reël, kom ons noem dit – in die lig van die aanhaling hierbo – die dogma daaragter, verander het.
Kom ons neem nog ’n groot oomblik in die geskiedenis van die Algemene Kerkvergadering. Ek onthou die opgewondenheid toe die eerste vrouepredikant, die eerste vrou as ouderling, die eerste vrou as diaken, in ons Kerk toegelaat is. Weer moes die Kerk ’n regulasie, ’n dogma, herbesoek en ’n besluit neem of die reël nie dalk verkeerd is en dalk verander moet word nie.
’n Meer onlangse voorbeeld is die besluit oor apartheid wat in 2010 geneem is. Die Kerk het iets wat in die harte van baie mense so goed soos dogma was, herbesoek en ’n besluit geneem wat lynreg teenoor die vorige besluit gestaan het.
Ek is seker dat as ek sou wou, ek nog vele sulke voorbeelde in die geskiedenis van ons Kerk en Algemene Kerkvergadering sou kon vind. Ek lees onlangs van iemand wat beweer dat mense hul vertroue in die Kerk verloor omdat die Kerk eers sus oor ’n saak sê, en dan so. Dink maar aan bogenoemde voorbeelde. Ek is egter van mening dat die feit dat die Kerk die besluite van die verlede kan herbesoek en eerlik kan erken dat die Kerk dit verkeerd gehad het, juis vertroue en nie wantroue nie in die Kerk by mense moet vaslê.
Oor die laaste dekade het ek al soveel kere besef dat ek anders oor sake dink en voel as toe ek nog jonger was. Ek kan nie dink dat dit verkeerd is om van mening te verander nie. Wanneer nuwe inligting beskikbaar raak wat daarop wys dat jou vroeëre verstaan van iets dalk verkeerd was en jy is nie eerlik genoeg om dan te verander nie, is jy doodeenvoudig hardkoppig en tree jy dom op.
Dit bring my terug by my inleiding oor die voorstel dat daar nooit weer oor die saak van die Kindernagmaal besluit mag word nie. So ’n redenasie is tog nie logies nie. Deur so ’n besluit te neem, sê jy eintlik dat jy al die inligting het en dat jou reël dogma word, en dat daar, volgens die aanhaling uit Leroux se boek, nooit weer daaroor geredeneer mag word nie. Ek glo nie dit is hoe ons met reëls en regulasies en dogmas moet omgaan nie. Geen besluit van ’n mens kan ooit volmaak of bo die tyd verhewe wees nie. Verder ken ons ook maar God se openbaring en saamleef met die mens net ten dele.
Ek weet nie wat die Algemene Kerkvergadering oor die saak van Kindernagmaal moet en gaan besluit nie. Ek is egter opgewonde oor die feit dat ons as Kerk die moed het om ons reëls, ons dogmas, te herbesoek en seker te maak of ons dit in die eerste plek reg gehad het.
(Ds Willem Sauer is redakteur van Die Hervormer en leraar in Gemeente Waterberg)