- Wie van julle kinders weet wat is Nagmaal?
- Vertel iemand vir ons wat doen die mense tydens Nagmaal.
- Wie van julle kinders het al Nagmaal gebruik?
- Wie van julle kinders wil graag Nagmaal gebruik?
- Hoekom?
Ons lees in die Bybel dat Jesus Christus die Nagmaal ingestel het die aand voordat Hy gekruisig is. Hy en al sy dissipels het in ‘n huis bymekaar gekom vir die Paasete. Hierdie ete het bestaan uit skaapvleis en ongesuurde brode (Amper iets soos hierdie brood). Weet julle hoekom juis skaapvleis en ongesuurde brood? Die skaapvleis het hulle herinner dat God hulle gered het uit Egipte (Onthou julle nog hoe die mense die bloed van ‘n jong lam aan die deurkosyne moes smeer en hoedat nie een van die Israeliete se kinders dood is in die nag nie), met die eet van die skaapvleis dink hulle daaraan dat God hulle gered het. En die ongesuurde brood het hulle herinner aan die lang reis wat hulle deur die woestyn moes stap. God het in die woestyn vir hulle manna en kwartels gegee om te eet, nou laat hierdie ongesuurde brood hulle dink aan die manna wat hulle in die woestyn opgetel en geëet het. Ja, God red ons nie net nie, maar Hy sorg ook vir ons. Is dit nie wonderlik om dit te weet nie?
Tydens hierdie paasmaal het Jesus vir sy dissipels gesê dat Hy die volgende dag aan die kruis gaan sterf. Weet julle hoekom het Jesus aan die kruis gesterf? Dit is reg! Hy het gesterf sodat ons hemel toe kan gaan. En die Nagmaal wat Jesus ingestel het, moet ons hiervan verseker en ons daaraan herinner, dat ons hemel toe gaan. Hoe herinner die Nagmaal ons daaraan dat ons hemel toe gaan?
Jesus het die brood gevat dit gebreek en vir sy dissipels gegee. Toe sê Hy: “Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis”. Net so ook het Hy na die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis”. Met ander woorde: Jesus sê vir sy dissipels: die brood wat julle nou eet is my liggaam en die wyn wat julle nou drink is my bloed. En daarmee het Jesus die nagmaal ingestel wat ons tot vandag toe nog gebruik.
Maar dink julle die brood wat ons aan die tafel eet is Jesus se liggaam? Dink julle die wyn wat ons drink is Jesus se bloed? Nee. Jesus gebruik ‘n beeld om vir sy dissipels iets te leer. Kom ek verduidelik dit vir julle aan die hand van hierdie skets (Fiets en Rooikruis). Wat sien julle? Dit stel ‘n fiets voor en dit stel ‘n ambulans voor, maar nie die fiets of die ambulans is hier nie. Net so is dit wanneer Jesus sê dat die brood sy liggaam is. Die brood stel net die liggaam voor — soos wat die prentjie ‘n fiets voorstel — die brood is nie Jesus se liggaam nie. Netso stel die wyn net die bloed voor, dit is nie regtig Jesus se bloed nie.
Wat wel belangrik is, is om te vra wat beteken die brood en wat beteken die wyn. Wie van julle weet wat is ‘n offer? ‘n Offer is ‘n lam of bok of iets anders wat geslag en op ‘n altaar gelê is. Dit was die gebruik in die verlede om iets te offer vir ons sonde. Hoe het ‘n altaar gelyk? Jesus sê deur die beeld van die brood en die wyn dat Hy soos ‘n lam op ‘n altaar is.
Jesus sê dat sy liggaam op Golgota gebreek sal word, dit wil sê Hy sal sterwe en dat sy bloed op die aarde sal val, net soos wat ons tydens die Nagmaal die brood breek en die wyn uitgooi in die beker. Net soos die offerlam op die altaar gelê word, sterf en sy bloed langs die altaar afdrup, net so sal Jesus se liggaam op Golgota op die altaar (kruis) gelê word en sal sy bloed op die aarde drup. Jesus het sy sterwe dus as ‘n offer gesien en die nagmaal, is die teken daarvan.
En weet julle wat is die beste van dit wat ek julle nou vertel het? Nadat Jesus as ‘n offer vir ons gesterf het, is dit nie meer vir ons nodig om offers aan God te bring nie, want Jesus het nadat Hy weer uit die graf opgestaan het opgevaar na God en sit nou as lewende offer aan die regterhand van God. Dit wil sê, ons offer, Jesus Christus, is altyd by God en daarom hoef ons nie meer offers te bring nie. En wanneer ons doodgaan, kom haal Jesus ons en neem ons saam hemel toe.
Elke keer as ons die nagmaal gebruik word ons opnuut verseker dat Jesus vir ons gesterf het en dat ons hemel toe gaan. Ons moet net glo dat Jesus werklik die Seun van God is, en dat sy offer (Jesus sélf) ons red. As ons die brood eet, dan dink ons daaraan dat Jesus ons red en vir ons sorg, net soos wat Hy in die woestyn vir die volk manna gegee het, en wanneer ons die wyn drink, dan dink ons daaraan dat God ons beskerm net soos wat Hy die Israeliete se kinders beskerm het nadat hulle die bloed aan die deure gesmeer het. God red en beskerm ons van die dood wat die gevolg van die sonde is.
Hoekom gebruik net groot mense en nie kinders nagmaal nie? Daar staan in 1 Korintiërs 11: 27: “Elkeen wat op ‘n onwaardige wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here”. En die Kerk is van mening dat kinders nie altyd kan onderskei tussen wat reg en verkeerd is nie. Voordat iemand nagmaal gebruik moet hy/sy eers ‘n paar dinge besef.
Eerstens: Die Bybel sê ‘n mens moet ‘n mishae in homself hê vanweë die sonde. Mishae beteken dat die mens vanweë die sonde ‘n afkeer in homself moet hê. Die mens moet eintlik vir homself vies wees omdat hy so besmeer is met modder van sonde. (Kinders verstaan dit nie altyd nie)
Tweedens: Die mens moet sy hand smekend na Golgota uitsteek en weet dat net Jesus hom kan red. (Kinders kan dit seker begryp en doen).
Derdens: Daar moet ‘n ernstige begeerte by die mens wees om hoe langer hoe meer in die geloof versterk te word. En hoe word ons in geloof versterk? Deur meer te leer van God. Daarom sê die kerk dat ‘n kind eers van God moet leer voordat hy/ sy die nagmaal mag gebruik.
Die kerk wil alleenlik die kind beskerm sodat die kind nie dalk die nagmaal op ‘n die verkeerde manier gebruik nie.
Volgend keer as julle van nagmaal hoor en sien hoedat die grootmense nagmaal gebruik, dan moet julle daaraan dink dat Jesus se liggaam gebreek is aan die kruis, net soos wat die brood gebreek word, en dat Jesus se bloed gedrup het, net soos wat die wyn in die beker drup. Jesus is die offer wat elkeen van ons red.
Amen