Broers en susters in onse Here Jesus Christus: 
Ons almal ken daardie gevoel van verbasing wanneer ons in ‘n laai rondsoek na iets en ewe skielik — en onverwags —op ‘n R50-noot afkom. Of, wanner ons wat mans is vir ‘n keer daardie baadjie na die somer uit die kas haal, en wanneer ons dit aantrek en in die sakke voel, daardie geldjie daar ontdek waarvan ons al lankal vergeet het.

Dieselfde, broers en susters, kan met ‘n mens gebeur wanneer jy die Bybel lees. Soms lees mens ‘n vers vir meer as een honderd keer, en dan, een dag, ewe skielik, lees jy iets in daardie vers raak wat jy al die vorige kere misgelees het.

Presies dit, broers en susters, het hierdie week met my gebeur. In die soek na ‘n gepaste gedeelte vir prediking oor die opstanding van Jesus het ek weer geblaai na Markus 14:28 en 16:7. Oor hierdie twee verse, broers en susters, is daar al boeke geskryf, en die inhoud van al daardie boeke is min of meer dieselfde. Hierdie twee verse, waarin Jesus vir sy dissipels sê dat Hy hulle vooruitgaan Galilea toe, sê al hierdie boeke, het net een van twee moontlike betekenisse: of Jesus het vir sy dissipels gesê Hy sal hulle in Galilea ontmoet na sy opstanding, of dat Hy hulle in Galilea sal ontmoet met sy wederkoms. Dit is waaroor die debat gaan.

En miskien, broers en susters, omdat ‘n mens al die argumente vir en teen watter mening ook al so in die oog hou wanneer hierdie twee verse gelees word, het iets in hierdie twee verse my nog altyd ontgaan. Ses woordjies, ses woordjies wat in die een vers staan en nie in die ander een nie. Ses woordjies wat daar staan vir ‘n bepaalde rede. Ses woordjies waarsonder niemand van ons eintlik kan lewe nie. En kom ek verduidelik.

In albei die verse, broers en susters, is die basiese gedagte dieselfde. Jesus self of ‘n boodskapper, sê vir die dissipels dat Hy uit die dood opgewek is, en dat Hy vir hulle in Galilea wag (of die nou na die opstanding of met die wederkoms is, is nou nie hier vir ons vandag ter sake nie). Dit, broers en susters, is wat gemeenskaplik aan hierdie twee verse is.

Maar daar is ook ‘n punt waarop hierdie twee verse van mekaar verskil. En dit is presies daardie ses woordjies waarvan ek gepraat het: gaan sê vir die dissipels, en in die besonder vir Petrus, Ek gaan hulle vooruit. En in die besonder vir Petrus, dit word gevoeg by 16:7, dit staan nie in 14:28 nie. En die vraag, broers en susters, wanneer ons hierdie verskil raaklees, behoort eenvoudig te wees: hoekom is dit so?

Net nadat Jesus in Markus 14:28 vir sy dissipels gesê het dat Hy, nadat Hy opgestaan het, hulle in Galilea sal ontmoet, beloof Petrus met die hand op die hart dat Hy Jesus nooit sal verlaat nie. Wag ‘n bietjie Here, sê hy. Praat maar met die ander hier. Spreek hulle aan. Maar nie ek nie. Nee Here, nie ek nie. Ek, ek wat Petrus is, sal U nooit verlaat nie.

Versigtig Petrus, antwoord die Here hom dan. Wees versigtig wat jy sê en beloof. Jy gaan my, nog voor hierdie nag wat kom verby is, nie minder as drie keer verloën nie. Waarop Petrus nie met net ‘n bietjie bravade terug antwoord: Lyk my nie U verstaan nie Here. Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!

Ons almal weet, broers en susters, wat tussen Markus 14:28 en Markus 16:7 gebeur het. Die Here se woorde het waar geword. Petrus se beloftes het onwaar geword. 
Hy het die Here verloën. Hy het sy kans gehad, maar hy het sy kans verspeel.

Jesus Christus, broers en susters, het geweet hoe Petrus na sy verloëning van Jesus gevoel het. En dit is asof die hemele vir Petrus sien val het — en dit is asof die hemel hom weer wil ophelp. Dit is amper of hulle opdrag aan die man met die wit klere by die graf (engel) gee om seker te maak dat die dissipels die boodskap so hoor dat Petrus weet dat hy nie uitgesluit is nie. Sê vir Petrus, wil hulle amper sê, dat een mislukking nie van ‘n mens ‘n misoes maak nie.

Daarom, gaan sê vir die dissipels, en in die besonder vir Petrus, die Here het opgestaan, en Hy wag vir julle in Galilea. Petrus kan ook maar kom. Hy mag ook maar kom. Hy moet ook kom. Woorde van gerusstelling, woorde wat iets sê van die blye evangelie, maar bo alles, woorde wat sê: by God is daar altyd ‘n tweede kans. Want gaan sê vir Petrus, hy wat so met hart en mond belowe het, wat so seker van homself was, wat toe aan die einde niks gedoen het wat hy belowe het nie, gaan sê ook vir hom: Jy kan ook maar kom Petrus, ook jy is welkom. Ek wag ook vir jou!

Hierdie boodskap, broers en susters, dat die evangelie van Jesus Christus aan ons altyd weer ‘n tweede (en derde en vierde) kans bied, is anders, so anders as vandag se wêreld. Want in vandag se wêreld is daar nie baie tweede kanse nie. Vra maar die man wat gepakketteer is. Vra maar die persoon wat by die onderhoud vir werk was, en as tweede beste beoordeel is. Vra maar die kolwer wat op 99 na daardie bal ver buite die wegpen gaan proe het, hy sal jou antwoord terwyl hy onder die stort staan, ja, vra maar die vleuel wat reg voor die doellyn die wendrie verbrou het deur aan te slaan, hy sal jou antwoord terwyl die ander span die bal by die skrum ingooi.

Dink maar mooi, broers en susters, daar is baie dikwels nie in ons tyd ‘n tweede kans nie. Deesdae is dit meer ‘n geval van ‘dit is nou of nooit’, ‘ons duld nie onbevoegde mense hier nie’, ‘onthou, jy het net een kans’, ‘jy moet bereid was om hard te wees om iewers te kom’, ‘moenie sleg voel nie, min mense bereik die hoogste sport’, en, ‘net die sterkstes oorleef’.

Gelukkig, broers en susters, is dit alleen so in die wêreld, en, kom ons sê maar, in ‘n wêreld wat ons self geskep het. ‘n Wêreld met ons reëls. God, broers en susters, se wêreld, het egter sy eie reëls. Ander reëls. En een daarvan is: by God het jy ‘n tweede kans. Gaan sê vir Piet, gaan sê vir Jan, gaan sê vir Petro, ek wag vir hulle. Gaan sê vir Petrus hy mag weer kom kolf.

Wat, broers en susters, het Petrus met sy tweede kans gemaak? Gaan lees dit maar gerus in die Johannesevan¬gelie (Joh 21). Hy het, toe hy Jesus op die oewer sien staan het, sy hemp uitgepluk, in die koue see van Galilea gespring, en na Jesus toe gehardloop. Die tweede kans wat Petrus gekry het, broers en susters, het gemaak dat hy die evangelie die hele pad na Rome uitgedra het. Ja, sy tweede kans het gemaak dat hy — soos oorlewering dit het — kop onderstebo in Rome gekruisig is. Omdat hy nie bereid was om Christus weer te verloën nie. Want hy het ‘n tweede kans gekry.

Die opstanding van Jesus Christus, broers en susters, hou vir ons as God se kinders dus ‘n belofte en ‘n opdrag in. Die belofte is dat ons, wanneer ons in Christus glo, ook eendag sal lewe wanneer ons sterwe, omdat ons saam met Christus gesterwe het toe ons tot geloof in Hom gekom het. Dit is hoe Paulus dit vir ons verduidelik.

Die opstanding van Jesus Christus, beteken egter nie net belofte, ‘n belofte vir eendag ver vorentoe wanneer ons sterf nie. Nee. Sy opstanding beteken ook opdrag, opdrag vir hier en nou. ‘n Opdrag, broers en susters, wat met ‘n tweede kans, derde, vierde en vyfde kans te make het.

‘n Opdrag wat sê: gaan vandag, gaan begrawe daardie ou mens, daardie ou Piet, Jan of Petro, daardie ou mens wat so geneig is om in vyandskap met God en sy naaste te leef. Staan dan op as nuwe mens, as mens wat God en sy naaste liefhet. En as jy dit gister nie reggekry het — al het jy probeer, of nie so hard probeer nie — doen dit vandag weer. Gaan begrawe weer daardie ou mens, en staan weer op in die nuwe lewe waar Christus besitter en koning van jou lewe is. Hy gee jou ‘n tweede kans.

In vandag se lewe, broers en susters, gebeur dit nie elke dag dat ons iemand teëkom wat ons ‘n tweede kans gee nie. Wat nog te sê dat ons ‘n tweede kans elke dag kry. In Jesus Christus, broers en susters, het ons egter so iemand.

Daarom: gaan sê vir die dissipels, gaan sê vir Petrus, en gaan sê in die besonder aan elkeen wat vanoggend in die gemeente (naam), daar in (voorstad of straat) sit, die Here het opgestaan, die Here gaan hulle vooruit, en Hy wag vir hulle. Hy wag dat hulle die ou mens sal begrawe, en sal opstaan as nuwe mense in Christus. Want my opstanding het dit moontlik gemaak. 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap