Broers en susters in onse Here Jesus Christus

So ‘n paar jaar gelede het hulle in die oerwoude van een van die Indonesiese Eilande afgekom op ‘n ou man wat in ‘n grot weggekruip het, nog geklee in die flenters van die uniform van die Japannese Leër. Hy was nog vas onder die indruk dat die Tweede Wêreldoorlog aan die gang is, al is dit reeds vyftig jaar vantevore beëindig. Tydens die oorlog, het hy is hy geskei van sy makkers en hy het in die bosse gaan wegkruip uit vrees vir sy lewe. Op ‘n keer het hy uitgeloer en ‘n groot gewerskaf onder die Amerikaanse troepe op die hawe gesien en toe gedink dat hulle regmaak vir ‘n groot aanval, min wetende dat hulle eintlik besig was om op te pak om huis toe te gaan. Soms het hy nog skote gehoor, maar die vrede het reeds aangebreek, die oorlog was verby, al het daar nog hier en daar ‘n paar skermutselings plaasgevind. Diep in die grot het hy bly wegkruip, al het vrede aangebreek. Vir vyftig jaar moes daardie arme Japannese soldaat in absolute vrees geleef het, want hy het gedink die oorlog gaan nog aan.

Nou moet ons nie sommer net vinnig sê ‘maar hy is darem maar lekker simpel, die agter-die-klip ou soldaat!’ nie — ons moenie dit sê nie, want sien, ons maak maar baie keer net so!

Ware vrede, die enigste ware, blywende vrede — die vrede waarvan die Bybel praat — dit het al bykans twee duisend jaar gelede aangebreek, maar ons leef asof die oorlog aan die gang is! Die laaste, die beslissende veldslag was die kruisdood en opstanding van Jesus Christus. Vrede wat begin het tot ‘n babatjie in Betlehem in ‘n krip gebore is. Toe die engelekoor gesing he: Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!

Vrede op aarde: dit is nie maar net ‘n leë droom van iets wat eendag nog ver in die verskiet gaan gebeur nie. Dit is ‘n werklikheid en dit is die waarheid — die vrede van Jesus Christus, vrede tussen God en mens, is hier, dit is nou hier!

Ja, die troepe van die bose is nog aan die rondmarsjeer, soos 1 Petrus 5 dit sê: Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind¸en ja, sy boosheid en sy slinkse sette het nog nie afgeneem nie — hoe nader die eindtyd kom, hoe meer desperaat gaan die Bose word en hoe feller gaan sy aanslag teen die gelowiges wees. Maar sy mag is klaar gebreek, sy rug is geknak: die oorlog is gewen, al vind daar nog van tyd tot tyd ‘n skermutseling plaas.

Maar nou leef baie mense, ook baie godsdienstige mense, asof dit nog nie so is nie, asof die oorlog maar nog steeds aan die gang is, asof Jesus se koms na die aarde eintlik niks verander het nie.

Iets hiervan sien ons ook in die gedeelte wat ons vanoggend uit Markus 2 gelees het. Jesus is aan huis van die tollenaar Levi — beter bekend as Matteus. Daar is ‘n klomp mense daar bymekaar, mense wat deur die godsdienstige leiers van die tyd neerhalend beskryf sou word as ‘n klomp tollenaars en sondaars.

En nou lees ons nie dat Jesus hier besig is om ernstig vir hulle te preek nie, nee, Hy is besig om saam met hulle om ‘n tafel te sit en lekker te kuier, lekker te eet. Lukas 5 sê dat hulle ‘n groot feesmaal gevier het!

Die godsdienstige leiers, die Fariseërs, was duidelik nie beïndruk nie. Sulke optrede pas nie by iemand wat hom voorhou as die messias nie — en veral nie saam met tollenaars en sondaars nie. Hulle het geglo aan ‘n lewe van streng dissipline, ‘n lewe van gereelde vas en bid, vas waarmee hulle juis nou besig was, saam met die volgelinge van Johannes die Doper. En toe van die mense daar dit sien, vra hulle vir Jesus hoekom Hy en sy volgelinge nie vas nie. Waarop Jesus dan antwoord: Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? Nee, solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal ’n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dan, op daardie dag, sal hulle vas.

Jesus sê in soveel woorde : Hier staan die Bruidegom voor julle en julle sien hom nie! Nou is dit nog die tyd om fees te vier en as jy feesvier, kan jy tog nie vas nie! Spoedig is Ek nie meer by julle nie en dan kom daar swaar tye, tye wanneer dit weer nodig sal wees om te vas as teken van julle toewyding aan My!

Sien, die Fariseërs vas omdat hulle dink dat hulle deur te vas deel van die uitverkorenes, van die bruilofsgaste kan word. Die dissipels weet hulle is bruilofsgaste, en hulle kan bly wees daaroor. Dit is die groot verskil tussen iemand wat leef soos ‘n dissipel en iemand wat leef soos ‘n Fariseër: ‘n dissipel leef van dit wat aan hom of haar geskenk is en geskenk word, die Fariseër wil leef van dit wat hy self in die hande wil kry; die dissipel leef vanuit die vreugde van die genade wat Jesus, die Bruidegom aan hom gee, die Fariseër wil vanuit homself vir homself probeer leef en daarom leef hy in onvrede en in vreugdeloosheid. En dit is twee goed dié wat nie bymekaar pas nie: eie roem, verdienste wat verwerf word, aan die een kant, én genade wat geskenk word deur die verlossing in Jesus Christus aan die ander kant. Die goed pas nie bymekaar nie, want sien, God doen nie laslapwerk nie!

God doen nie laslapwerk nie! Maar dit is so baie keer wat ons van die evangelie probeer maak – ‘n laslapkombers! Hierdie stukkie doen ek soos ek wil, daardie stukkie sal ek doen soos Jesus wil. Hierdie stukkie van Jesus se verlossing aanvaar ek, daardie stukkie wil ek nog op my eie probeer regkry — en so loop ons rond met ‘n klomp stukkies van Jesus die Saligmaker waaraan ons probeer vasklou, maar ons sien nie die volle prentjie nie en ons kom nie uit by die volle vreugde van die fees van die saligheid nie!

Jesus sê: Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want dan skeur die nuwe lap nog ’n stuk van die oue uit, en die gat word net groter. Niemand gooi ook nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan laat die wyn die sakke oopbars, en die wyn sowel as die sakke gaan verlore. Nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi.

2 Korintiërs 5:17 sluit hierby aan: Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

Die evangelie van Jesus Christus bring nie herstelwerk nie, dit bring verlossing; dit wil nie maar net die oue opknap nie, dit vertel van die nuwe lewe in Jesus Christus. En God doen nie halwe werk nie en Hy doen ook nie laslapwerk nie. Ons is daarom nie half gebakte, half gelapte Christene nie. Ons is feesgangers met nuwe klere aan met bekers wat oorloop van nuwe wyn!

As Jesus tydens die feesmaal by Levi die gelykenis van die lap en die wyn vertel, sou die feesgangers daar besef het dat nuwe klere en nuwe wyn in die Joodse denke van daardie tyd tekens van God se vernuwende genade was. God maak ons van buite en van binne af nuut: Hy beklee ons met die kleed van sy genade, Hy vervul ons met die nuwe wyn van sy koninkryk. Daarvoor het Jesus gesorg toe Hy in ons plek aan die kruis gesterf het.

En nou wil ek dit weer sê: ook daar, veral daar het God nie halwe werk gedoen nie, Hy het nie laslapwerk gedoen nie. En daarom moet ons nie nou leef asof die oorlog nog aan die gang is nie, asof die vrede nog nie aangebreek het nie.

Ook die doop, broers en susters, is eintlik ‘n feesmaal. Want ook die doop is ‘n teken van vrede. Ook wat die doop betref het God nie laslapwerk gedoen nie. Want met die doop sê God: Ek sal julle God wees, Ek sal ook die God wees van hierdie kinders wat vanoggend gedoop word. Nie net ‘n lappie hier en ‘n lappie daar nie. Nee. Altyd. Al dwaal hulle soms af. Al dwaal hulle ouers soms af.

Want daar het vrede tussen God en mens gekom. En as teken van hierdie vrede word ons gedoop in die naam van die Vader, die Seun en Gees. Die Vader het hierdie vrede deur sy Seun gebring, en die Gees sal ook hierdie kinders vul met daardie vrede van God wat alle verstand te bowe gaan. Die doop sê: daar is vrede tussen ons en God. Daarom kan daar vrede op aarde en tussen mense wees.

Ek sluit af: God se liefde en sy ontferming is elke more nuut en dit maak my nuut, dit maak my van binne en van buite nuut; van buite is ek nuut want God beklee my met die nuwe klere van ‘n verloste kind van God, van binne word ek nuutgemaak wat die Heilige Gees woon in my en werk in my! Presies wat die doop ons leer. En as dit nie rede is om fees te vier nie, dan weet ek nie wat is nie.

En die beste, die heel beste manier om fees te vier is om iets te doen wat my die gelukkigste mens op waarde maak. Weet u wat maak ‘n mens gelukkig, regtig gelukkig? Om vir God dankie te sê maak ‘n mens gelukkig, om in wat ek sê en wat ek doen vir God dankie te sê — dit maak my die gelukkigste mens op aarde! 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap