Inleiding
Die Reformasie van die 16de eeu en die vernuwingsbeweging van die vroeë 20ste eeu het albei, onder andere, uit ʼn intense bestudering van die Romeinebrief ontstaan. Martin Luther (10 November 1483 – 18 Februarie 1546) en Karl Barth (10 Mei 1886 – 10 Desember 1968) was die twee hooffigure van hierdie belangrike periodes in die kerkgeskiedenis (óf eerder die geskiedenis van die uitleg van die Skrif soos wat Ebeling 1947 en 1954 daarna verwys). Albei het vroeg in hulle loopbane “kommentare”oor die Romeinebrief gepubliseer. Hierdie kommentare sou die gang van die teologiegeskiedenis (en selfs aspekte van die sekulêre geskiedenis) radikaal beïnvloed het.
My bydrae konsentreer op die voorwoorde van Luther en Barth se kommentare. Die voorwoorde verklap tot ʼn groot mate die teologiese, godsdienstige en kulturele krisisse en debatte van die onderskeie tydperke. Dit gee ons ook ʼn aanduiding van die hoofargumente waarop die outeurs gekonsentreer het. Die voorwoorde bevat genoeg inligting om ʼn aanduiding te kry waarteen daar kapsie gemaak is en wat die nuwe koersaanduiding behels het.
Die uiteindelike en vanselfsprekende vraag is of hierdie kommentare vir ons in 2019 in Suid-Afrika nog van waarde is. Kan die bestudering van hierdie ou literatuur ons help om weer op ʼn Reformatoriese koers te kom; óf is dit té laat en nie die moeite werd om te probeer nie?
Martin Luther
Martin Luther ([1522] 1990[i]) het in 1522 ʼn voorwoord[ii] tot die Romeinebrief[iii] geskryf. Hierdie voorwoord is een van die belangrikste Reformatoriese geskrifte. In hierdie voorwoord vind ons ʼn kernagtige samevatting van Luther se hermeneutiek.
Die eerste sinne van die voorwoord verduidelik Luther ([1522] 1990) se waardering vir die Romeinebrief:
Hierdie brief is met reg die belangrikste gedeelte [das rechte Hauptstück] van die Nuwe Testament en daarom die hart en kern [allerlauterste] van die evangelie; ʼn Christenmens moet [hierdie brief] nie alleenlik woord vir woord uit die hoof ken nie, maar ook daagliks daarmee besig wees soos daaglikse brood vir die siel, aangesien dit nooit té veel en grondig gelees of oordink kan word nie. Hoe méér dit benut word, soveel kosbaarder word dit en lekkerder smaak dit. Daarom wil ek ook my bydrae daartoe lewer om deur middel van hierdie voorwoord ʼn poort te open … dat dit soveel beter deur elke persoon verstaan kan word … hierdie [brief van Paulus] is ʼn helder lig, wat ten volle in staat is om die hele Skrif te verhelder[iv]. (p. 45)
Volgens Luther is die verstaan van die volgende woorde wat gereeld in die Romeinebrief gebruik word van uiterste belang vir die verstaan van die brief as sodanig: Wet, sonde, genade, geloof, geregtigheid, vlees en gees. Die woord “wet” moet nie volgens menslike maatstawwe verstaan word nie. “Wet” in die Romeinebrief het nie te make met voorskrifte wat mense moet doen en laat nie. Dit het, met ander woorde, nie met blote wetgewing en riglyne vir menslike handeling te make nie – met ander woorde, by dít waarby die hart nie betrokke is nie. “Wet” het te make met dít waaroor God oordeel. Hy oordeel nie bloot oor die gehoorsaamheid van wetsvoorskrifte nie, maar oor die hart van die mens wat by ʼn daad betrokke was. God straf werke wat nie van ganser harte gedoen is nie, aangesien sulke werke huigelary is, en selfs leuens kan wees. Om hierdie rede noem Psalm 116:11 alle mense leuenaars, aangesien niemand van ganser harte God se wet wil gehoorsaam nie. Elke mens is traag om die goeie te doen, maar is begerig om die bose te doen. Waar daar nie die vrye lus is om goed te doen nie, dáár is die hart nie by die wet nie – en dáár is sonde en die toorn van God ter sprake. Dus: Uitwendig, menslik gesproke, kan mense wetsgehoorsame burgers wees, maar nog steeds onder God se oordeel kom, aangesien hulle nie werklik die goeie wat die wet voorskryf, wil doen nie ([1522] 1990:45-46).
Luther ([1522] 1990:46) verduidelik sy argument aan hand van Romeine 2:9-11 waar Paulus stel dat sowel Jode as nie-Jode onder God se toorn verkeer omdat hulle kwaad doen – ten spyte van die feit dat hulle wetsgehoorsame mense is. “Om kwaad te doen” beteken om wette uiterlik te gehoorsaam, maar om dit te gehoorsaam op grond van vrees vir straf óf uit liefde vir beloning, en om daarom gehoorsaam te wees sonder “vrye lus en liefde vir die wet”. Dade van die wet wat uit dwang en traagheid gedoen word, is nie “goeie werke”nie, en is daarom sonde – óf anders gesê, “ten diepste ʼn vyand van die wet’”. In die lig van hierdie argument is dit verstaanbaar dat Luther ([1522] 1990:46-47) die wet in hoofstuk 7:14 “geestelik” noem. “Geestelik” is iets wat werklik uit die hart gedoen word, sonder dwang of beloning. Wetsgehoorsaamheid sonder “hartsbegeerte tot gehoorsaamheid” is sonde. Goeie werke wat traag gedoen word, impliseer vyandskap teen die wet – en dít is sonde. Uiterlike werke van die wet is dus “nutteloos”, aangesien dit volgens hoofstuk 3:20 nie voor God regverdig maak nie. Mense word mislei wanneer daar gemeen word dat mense wat werke doen “genade sal ontvang”.
Die vraag is egter nou: Hoe moet Christene met die wet omgaan? Wat is nodig vir ware wetsgehoorsaamheid? Wanneer word die wet gehoorsaam sonder dwang, vrees of verlange na beloning, maar op grond van vrye hartsbegeerte? Luther ([1522] 1990:47-48) herinner daaraan dat Paulus in hoofstuk 5:5 daarop wys dat die Heilige Gees die “vrye liefde en lus om die wet te gehoorsaam’” aan gelowiges skenk. Die Heilige Gees skenk egter hierdie liefde en lus alleenlik aan hulle wat op grond van die prediking van die evangelie aan Jesus Christus glo. In die lig hiervan argumenteer Luther dat dit net die geloof is wat regverdig maak, aangesien dit die mens in staat stel om die wet te vervul. Hy argumenteer soos volg: Die Heilige Gees maak die hart gewillig en vry om aan die eise van die wet te voldoen; en só spruit die goeie werke vanselfsprekend voort uit die geloof. Luther verwys na hoofstuk 3:31waar dit lyk of Paulus die wet ten gunste van die geloof wil prysgee. Dít is hoegenaamd nie die geval nie, aangesien hy ʼn ander argument voer, naamlik dat die werke van die wet eers deur die geloof gedoen word (vgl. [1522] 1990:47-48).
Luther ([1522] 1990:48-49) gee vervolgens aandag aan die woord “sonde”. Hy wys daarop dat Paulus “sonde” nie bloot verstaan as uiterlike oortredings nie, maar as die “hart” wat die verkeerde wil doen. Die verkeerde wat die hart begeer, is die ongeloof. Die hartsbegeerte om in ongeloof te lewe, is die diepste rede vir die “lus om die bose te doen’ (vgl. bv. Adam en Eva Genesis 3:2vv). Jesus noem ook in Johannes 16:6 die ongeloof sonde – die weiering om Christus in die geloof te aanvaar, is die diepste rede vir die sonde. Voordat daar dus oor uiterlike wetsoortredings gepraat word, moet daar ingesien word dat die “hart’” die onwilligheid om te glo, die wortel van die sonde is.
Aansluitend by die vorige argumente verduidelik Luther ([1522] 1990:48-49) die verskil tussen die begrippe “genade” en “gawe”. “Genade” is God se welwillendheid of guns waaruit Hy ons die gawes van die Heilige Gees wil skenk (vgl. Rom 5:15). Ten spyte van die feit dat die gawes van die Gees in ons toeneem, word ons nogtans nie volkome mense nie, aangesien die begeerte na die bose en die sonde in ons bly en stryd voer teen die Heilige Gees (Rom 7:5; Gal 5:16vv). Met die genade is dit egter gans anders. Dít word nie stuksgewyse aan ons geskenk nie, en word nie deur die sonde bedreig nie. Om hierdie rede word ons ten volle, deur die geloof, voor God geregverdig. Ons is en bly dus na die vlees sondaars, maar aangesien ons in Jesus Christus glo en die Heilige Gees ontvang het, is God ons genadig en oordeel Hy ons nie op grond van die sonde wat in ons harte bly nie. Dít is Luther se verstaan van die uitdrukking simul iustus et peccator.
Die volgende begrip wat verduidelik word, is “geloof”. Luther ([1522] 1990:49-50) onderskei tussen valse en ware geloof. “Valse geloof” is die geloof wat meen dat geloof alleen nie genoeg is nie, maar dat werke daarby gevoeg moet word voordat daar sprake van redding kan wees. Hierdie geloof berus op hoorsê, maar dring nie in tot in die hart nie – en lewer daarom ook nie vrugte op nie. “Ware geloof” is die werk van God in ons, wat ons verander en nuut gebore laat word (Joh 1:13), sodat ons nuwe harte en gesindhede deur die Heilige Gees ontvang. Dan maak hy ([1522] 1990) die volgende beroemde uitspraak:
O, dit, die geloof, is ʼn lewendige, werkende, doenig-magtige ding, sodat dit onmoontlik is, behalwe weens nalatigheid, dat dit nie werke na vore sal bring nie. Dit vra ook nie óf goeie werke gedoen moet word nie, aangesien, voordat ʼn mens vra, het hy dit alreeds gedoen en gaan voort om dit te doen. Wie nie sulke werke doen nie, is ʼn gelooflose mens … en weet nie wat geloof en of werke is nie (p. 50)
“Geloof” gaan hy ([1522] 1990:50) voort, “is ʼn lewendige, onwrikbare vertroue [Zuversicht] in God se genade”. Hierdie geloofsvertroue en insig maak ʼn mens “vrolik en ʼn aangename wese voor God en die medemens”. Op grond hiervan is die gelowige “bereidwillig om aan almal goed te doen, leed te verduur, God lief te hê en te loof … sodat dit onmoontlik is om werke en geloof te skei”.
Luther ([1522] 1990:50-51) gee vervolgens aandag aan die woord “geregtigheid” – volgens hom een van die sentrale begrippe van die Nuwe Testament. “Geregtigheid”en “geloof” gaan hand aan hand. “God se geregtigheid”[Gottes Gerechtigkeit] of “geregtigheid wat voor God geld” – juis omdat dit God se gawe is en aan mense skenk wat nodig is”. Deur die geloof word die mens van sy skuld ontneem en ontwikkel hy die lus om God se gebooie te gehoorsaam, waarmee hy God eer, en aan Hom skenk wat hy Hom verskuldig is. Danksy hierdie geloof dien hy ook sy medemens. Hierdie tipe van geregtigheid kan die menslike natuur en die vrye wil en eie krag nie bewerk nie; aangesien niemand aan homself geloof kan skenk nie óf ongeloof kan wegneem nie. Wie dít wil voorgee, is besig met die sonde van selfbedrog.
Luther ([1522] 1990:51-52) sluit hierdie begripsverduideliking af met die begrippe “vlees en gees”. “Vlees” beteken by Paulus nie onkuisheid nie, maar alle gestaltes en aspekte van menswees buite die geloof om (Gal 5:19vv). Die diepste kenmerk van “vlees” is dus die sonde van ongeloof. “Geestelik” is wat die mens in sy totaliteit dien – en dít is die dinge van die toekomstige lewe. “Geestelik” is dus nie die dinge van die innerlike lewe nie, maar die dinge van die eskatologie.
Die res van Luther se voorwoord ([1522] 1990:52-61) bestaan uit kort samevattings van die verskillende hoofstukke. Dit is nie vir hierdie bydrae van belang nie.
Karl Barth
Die eerste voorwoord tot Karl Barth se Romeinebriefkommentaar is in Augustus 1918 (101 jaar gelede) geskryf. In die navorsing word daar egter met die gedagte gewerk dat die eerste uitgawe van die kommentaar in 1919[v] (dus 100 jaar gelede) gepubliseer is. Hoe dit ook al mag wees, hierdie “kommentaar” is van groot historiese waarde en verdien oordenking deur ʼn Kerk wat hier en daar nog belangstel om Reformatories genoem te word.
Die eerste uitgawe ([1918] 1919) van die Romeinebrief het wel aandag getrek, maar die groot deurbraak het eers met die tweede uitgawe (1922) gekom. Weens die tydsbeperking word hier slegs aandag gegee aan die eerste uitgawe van 1919.
Die inhoud van die voorwoord van die eerste uitgawe van 1919
Barth (1947:V) begin sy kort voorwoord deur daarop te wys dat “Paulus as seun van sy tyd, met sy tydgenote gepraat het”. Wat egter veel belangriker is as hierdie feit, is dat “hy as profeet en apostel van die ryk van God met alle mense van alle tye gepraat het”. Die verskille tussen toe en nou, daar en hier, is wel van belang, maar hierdie verskille raak nie die hart van die saak nie. Barth erken die belangrikheid van histories-kritiese navorsing, maar verkies steeds die ou inspirasieleer. Hierdie metode laat groter reg geskied aan die saaklike inhoud van die teks. Barth wil egter nie ʼn keuse maak tussen die twee metodes nie. Wat hy wel wil, is om die historiese karakter van die teks te lees teen die agtergrond “van die gees van die Bybel – en dít is ʼn ewige gees”. Wat in die verlede ʼn saak van erns was, is vandag steeds ʼn saak van erns. Die verstaan van geskiedenis (Geschichtsverständnis) is ʼn voortgaande proses, ʼn gesprek tussen die wysheid van gister en die wysheid van môre – wat een en dieselfde is. Vir hierdie insig bedank hy sy vader, Fritz Barth. Barth gee te kenne dat sy boek met “ontdekkingsvreugde” (Entdeckerfreude) geskryf is, aangesien hy nie ʼn belangelose toeskouer was nie. Paulus se stem was vir hom nuut, en hy hoop dat dit ook vir ander nuut sal wees (1947:VI). Hy besef dat daar nog talle sake is wat nuut ontdek moet word, en daarom beskou hy hierdie boek as ʼn stukkie vooraf-arbeid. Hy nooi ook ander uit om saam met hom die ontdekkingstog aan te pas. Hy hoop op ʼn nuwe vraagstelling en manier van navorsing van die Bybelse boodskap. Sou dít gebeur, kan hierdie boek maar wag, aangesien die Bybel self belangriker is.
Die historiese konteks en teologiese motiewe agter die 1919-uitgawe
Teologiese inhoud en konteks[vi]
Die eerste Romeinebrief was Barth se eerste poging om ʼn nuwe toegang tot die Christelike boodskap te kry. Alhoewel hierdie eerste uitgawe in die skadu staan van die tweede uitgawe van 1922, was hierdie publikasie ʼn baanbreker. Barth het met hierdie parafraserende verklaring, wat tydens die laaste jare[vii] van die Eerste Wêreldoorlog (28 Julie 1914 – 11 November 1918) geskryf is, met die teologie van die 19de eeu (wat sterk deur Schleiermacher beïnvloed is) gebreek. Die historiese konteks kan nie as “teks” van Barth se teologie hanteer word nie; dit is hoogstens die aanhaakpunt van wat hy teologies wou sê. Anders gestel: Die historiese gebeure het nie die inhoud van sy teologie bepaal nie; dit is hoogstens gebruik as aktualiseringsterrein van sy teologie. Barth het teologie nie as “tydgeskiedenis”verstaan nie, maar hy wou ook nie teologie sonder sy oggendkoerant beoefen nie. Barth se teologiese poging het te make gehad met die vreemdheid van die boodskap oor God in Christus in die laat 19de eeu. Hierdie werklikheid wou hy weer ter sprake bring, aangesien dit uit die kerklike en kulturele lewe van Europa verdwyn het.
Vernuwing deur eksegese
Die sistematiese teoloog Barth het geoordeel dat sistematiese debatte vrugteloos sou wees. Hy was oortuig dat daar na die “Bybel en sy vreemdheid” teruggekeer moes word. Teoloë moes weer “hoorders van die vreemde evangelie” word. Die teoloog self moet onbelangrik raak sodat Paulus op die voorgrond kan tree. Paulus, en nie sy kultuurhistoriese en of sosiologiese konteks nie, moet weer ernstig geneem word. Op hierdie wyse het Barth gepleit vir die “teologisering van teologie” teenoor die gangbare godsdienshistoriese benadering van daardie tyd. Barth sou vandag seker die gedagte van ʼn “spiritualiteit-teologie” verwerp het, aangesien só ʼn onderneming nie kan bydra tot die waarneming van die werklikheid en realiteit van God nie. Hierdie noue band tussen wetenskap en geloof wat Barth voorgestaan het, sou deur talle (o.a. Von Harnack en Wernle) verwerp word as “versubjektivering van teologie” (vgl. Van der Kooi 2016a:190).
Hermeneutiek
Barth het hom volledig met Paulus geïdentifiseer en die kommentaar grootliks in die eerste persoon geskryf. Op grond hiervan het Hans-Georg Gadamer (1975:481) hierdie kommentaar as Barth se “hermeneutiese manifes” beskryf. Die horison van die eksegeet het met die horison van die outeur versmelt. Barth wou in direkte opposisie tot die liberale bewussynsteologie tree. Hy was oortuig dat die Bybel ʼn werklikheid en insig ter sprake bring waarby die gelowige eksegeet reeds direk betrokke is. Hermeneuties beskou, was hierdie ʼn nuwe aanslag. Wanneer die kategorie van die koninkryk van God nie meer ʼn ideaal is wat deur kulturele ontwikkeling gerealiseer moet word nie, en wanneer geloof nie meer met persoonlike geloofsbewussyn verwar word nie, kan daar ʼn nuwe eksegetiese en hermeneutiese aanslag ontwikkel word. Die eksegeet self sal nie langer die kern van die belangstelling wees nie, maar die objektiewe saak van die Bybel. Die selfuitleg van die godsdienstige selfbewussyn verdwyn dan voor die inhoud van die teks. Die histories-kritiese arbeid staan dan nie meer in die sentrum nie, maar word hoogstens as voorafarbeid beskou. Barth se bedoeling was om outeur en leser saam in die geskiedenis van Christus op te neem en om die “groot afgrond tussen teks en leser” te oorbrug. Eberhard Jüngel (1982:85) is korrek deur te verwys na ʼn “hermeneutiek van gelyktydigheid”.
Die omverwerping van die kultuur-optimisme
Barth se groot stryd was teen die Europese kultuur-optimisme. Die eskatologiese verwagting dat ʼn mensgedrewe kultuurontwikkeling in die realisering van die “koninkryk” sou uitloop, is deur Barth as die groot dwaling van die 19de eeu gesien. Hy het vanuit die werklikheid van God gedink en aanvaar dat die koninkryk reeds in Christus aangebreek het. Genade en heil was vir hom geen menslik-realiseerbare ideale nie. Danksy die invloede van Wilhelm Herrmann, Christoph Blumhardt en Hermann Kutter, het hy met die teenswoordige karakter van die heil gewerk. Daarby het hy met ʼn anti-psigologiese en anti-historiese interpretasie van die werklikheid gewerk. Berkouwer (1957) was dus korrek om Barth se teologie onder die opskrif, die triomf van die genade’, te plaas. By Paulus het Barth geleer dat God sy “groot ja” in Christus gespreek het. Om hierdie rede is dit nie nodig dat mense moet poog om die koninkryk te realiseer nie. Die oue is verby en die nuwe het reeds aangebreek (vgl. Van der Kooi 2016a:191-192).
Die kerkpolitieke konsekwensies
Barth het met behulp van die teenstelling Christus – Adam ʼn kultuurkritiese teorie ontwikkel. Die nuwe werklikheid in Christus staan teenoor die ou werklikheid van Adam. Die nuwe werklikheid is slegs toeganklik deur die geloof. Menslike pogings om die nuwe werklikheid te skep, is tot mislukking verdoem. Sowel die politieke konserwatisme (Wernle) as die sosiale vernuwers (Ragaz) word deur Barth gekritiseer. Omgekeerd is Barth deur hulle gekritiseer dat hy die geskiedenis afgradeer en die etiek minag. Barth het egter vasgehou aan ʼn “pligsvervulling sonder illusie” en op hierdie wyse afstand gedoen van die kombinasie van troon en altaar, asook die bose kringloop van protes en teen-protes (vgl. verwysings by Van der Kooi 2016a:192).
Enkele belangrike teologiese insigte
Luther
- Goeie werke as sonde
Werke van die wet, of goeie werke, is steeds sonde wanneer dit gedoen word uit vrees vir straf en/of hoop op beloning. Vandag se ”verskilmakery” word meestal gedoen in die hoop op komplimente en sosiale goedkeuring. Die oordrewe behoefte aan menslike erkenning is die groot dryfveer agter talle sosiale projekte. “Passie” vir ʼn bepaalde verdienstelike saak is steeds nie wetsgehoorsaamheid nie, aangesien daar nie goed gedoen word ter wille van goeddoen nie.
Barth
- Teologiese teologie en histories-kritiese eksegese
Barth het nie histories-kritiese eksegese geringgeskat nie, maar dít kan die saak van Paulus verbloem. Paulus se “saak” is die teenwoordigheid van God in Christus, en die koninkryk wat reeds in Christus aangebreek het. Wanneer die eksegetiese fokus op die “konteks” val, is daar ʼn sosiaal-politieke ideaal wat handelend bewaar óf geskep moet word. Geloof moet dan plek maak vir morele ywer. Is dit nie waar ons vandag ook staan nie? Sou my vermoede reg wees, sou ons ʼn verklaring hê hoekom die belangstelling in die Christelike godsdiens taan.
Wat maak ons met hierdie inligting?
Teologiegeskiedenis het nie die bedoeling om aan enkele belangstellendes in die geskiedenis interessanthede mee te deel nie. Historiese teologie het die bedoeling om krities in te meng in huidige diskoerse en godsdienstige praktyke. Dit wil mense uitnooi om vir ʼn oomblik krities na te dink oor dít wat tans onkrities op ons afgeforseer word. Ek meen dat minstens die volgende vrae bedink moet word:
- Dit lyk of mense vandag meen dat ons eerder op Efesiërs as Romeine moet konsentreer. Hoekom? Dui dit op die opheffing van geloof ten gunste van ʼn nuwe moraalleer?
- Is die aanhoudende “dwang” op lidmate om aan gemeenskapsprojekte deel te neem, en só “’n verskil te maak”, nie ʼn bewys dat al die belangrike begrippe van die Romeinebrief uit ons kerklike en kulturele lewe verdwyn het nie? Is dit nie ʼn aanduiding dat die “geregtigheid van God” – ja, God self – nie meer ʼn belangstelling vir Afrikaners is nie? Is ons nie terug waar Luther 500 jaar gelede, en Barth 100 gelede, was nie – baie goeie werke en ʼn afwesige God?
Die bemoeienis met mense soos Luther en Barth kan ons help om tot besinning te kom, en te keer dat almal geïntimideer word om tot saampraters gedegradeer te word wat selfroem tot die hoogste godsdienstige ideaal wil verhef. Die probleem is dat ons nie meer weet wat die “evangelie van Jesus Christus” is nie. Hiermee kan Romeine ons steeds help (só het ek gelukkig in Tübingen by Peter Stuhlmacher [1983[viii]] 1989:15-16, geleer).
Literatuurverwysings
- Armbruster, J., 2015, s.v. ‘Vorreden Luthers auf die Bibel’, in V. Leppin & G. Schneider- Ludorff (Hrsg.), Das uther-Lexikon, pp. 734-739, Bückle & Böhm, Regensburg.
- Barth, K., 1947, Der Römerbrief, Achter Abdruck der neuen Bearbeitung, Evangelischer Verlag, Zollikon-Zürich.
- Beintker, M. (Hrsg), 2016, Barth Handbuch, Mohr Siebeck, Tübingen.
- Berkouwer, G., 1957, Der Triumph der Gnade in der Theologie Karl Barths, T Preis (übersetzt), Neukirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn.
- Ebeling, G., 1947, Kirchengeschichte als Geschichte der Auslegung der Heiligen Schrift, Mohr Siebeck, Tübingen.
- Ebeling, G., 1954, Die Geschichtlichkeit der Kirche und ihrer Verkündigung als theologisches Problem, Mohr Siebeck, Tübingen.
- Gadamer, H-G., 1975, Wahrheit und Methode: Grundzüge einer philosophischen Hermeneutik, 4. Auflage, Mohr Siebeck, Tübingen.
- Jüngel, E., 1982, ‘Die theologische Anfänge. Beobachtungen’, in E. Jüngel (Hrsg.),
- Barth- Studien, pp. 61-126, Gütersloher Verlagshaus Gerd Mohn, Gütersloh.
- Leppin, V., 2015, s.v. ‘Vorlesungen’, in V. Leppin & G. Schneider-Ludorff (Hrsg.),
- Das Luther-Lexikon, pp. 728-734, Bückle & Böhm, Regensburg.
- Luther, M., [1522] 1929, ‘Vorrede auff das newe Testament. Aus der Bibel 1546’, in J.K.F. Knaake et al (Hrsg.), D. Martin Luthers Werke, Kritische Gesamtausgabe, Die Deutsche Bibel, 6. Band, pp. 2-10, Hermann Böhlaus Nachfolger, Weimar. (WA DB 6, 2-10)
- Luther, M., [1522] 1931, ‘Vorrede auf die Epistel S. Pauli an die Römer. Aus der Bibel 1546’, in J.K.F. Knaake et al (Hrsg.), D. Martin Luthers Werke, Kritische Gesammtausgabe, Die Deutsche Bibel, 7. Band, pp. 2-27, Hermann Böhlaus Nachfolger, Weimar. (WA DB 7, 2-27)
- Luther, M., [1522] 1990, ‘Vorrede zum Brief des Paulus an die Römer’, in K. Aland (Hrsg.), Luther Deutsch. Die Werke Luthers in Auswahl, Band 5. Die Schriftauslegung, 4. Auflage, pp. 45-61, Vandenhoeck &Ruprecht, Göttingen. (WA DB 7, 2-26).
- Luther, M., [1522] 2012, ‘Ein kleiner Unterricht, was man in den Evangelien suchen und erwarten soll’, in D. Korsch (Hrsg.), Martin Luther: Deutsch-Deutsche Studienausgabe, Band 1, Glaube und Leben, pp. 485–499, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig. (WA 10(I/1), 8, 12 – 18, 3).
- Luther, M., [2016] 2017, Die Bibel nach Martin Luthers Übersetzung. Lutherbibel. Revidiert 2017. Jubiläumsausgabe. 500 Jahre Reformation, mit Sonderseiten zu Martin Luthers Wirken als Reformator und Bibelübersetzer, Deutsche Bibelgesellschaft, Stuttgart.
- Melanchthon, P., [1521] 1997, Loci Communes. Lateinisch – Deutsch. Übersetzt von H.G. Pöhlmann, Hrsg vom Lutherischen Kirchenamt der VELKD. 2. Aufl., Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh.
- Stuhlmacher, P., 1989, Der Brief an die Römer, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen. (Das Neue Testament Deutsch, Band 6).
- Van der Kooi, C., 2016a, ‘Erster Römerbrief’, in M. Beintker (Hrsg), Barth Handbuch, pp. 189-194, Mohr Siebeck, Tübingen.
- Van der Kooi, C., 2016b, ‘Zweiter Römerbrief’, in M. Beintker (Hrsg), Barth Handbuch, pp. 195-200, Mohr Siebeck, Tübingen.
Eindnotas:
[i] Die weergawe wat in WA DB 7, 2-27; [1522] 1931:2-27 opgeneem is, en in ʼn verkorte weergawe in Aland afgedruk is, kom uit die 1546-Bybel – met ander woorde, uit die laaste uitgawe van die Luther-Bybel waaraan Luther self gewerk het; selfs nog kort voor sy dood op 18 Februarie.
[ii] Luther se voorwoorde tot die Bybelboeke bevat die kern van sy teologie. Dit verbaas dus nie dat verkorte weergawes van die voorwoorde opgeneem is in die Luther-Bybel (jubileum-uitgawe) van 2017 (vgl. Luther [2016] 2017). Die voorwoorde is tussen 1522 en 1545 geskryf en is kenmerkend van sy Skrifuitleg binne die verskillende konfliksituasies. Naas die voorwoord tot die Nuwe Testament (WA DB 6, 2, 1 – 10, 6), wat grootliks ooreenstem met die voorwoord tot die Wartburgpostille (WA 10(I/1), 8, 12 – 18, 3; [1522] 2012), is die voorwoord tot die Romeinebrief een van die belangrikste voorwoorde. Die voorwoord tot Romeine is ook die langste voorwoord. Hy dui aan dat die Romeinebrief die sleutel is tot die verstaan van die hele Nuwe Testament. Hy doen dit met ʼn begripsverklaring van die belangrikste begrippe wat reëlmatig in die Nuwe Testament voorkom. Luther volg Philipp Melanchthon se Loci Communes ([1521] 1997) in terme van die seleksie van die begrippe, sowel as die volgorde waarin dit bespreek word. Die enigste verskil is dat Luther nie in hierdie voorwoord die onderskeid tussen die twee Testamente bespreek nie – aangesien dit in die voorwoord tot die Nuwe Testament aandag kry (vgl. Armbruster 2015:734-735).
[iii] Luther is in 1512 aangestel as “professor in teologie”. Hierdie professoraat was egter nie toegespits op die “eksegese van die Ou Testament” nie, soos wat daar nog enkele dekades gelede gedink is. Hy was iets van alles – eksegeet, dogmatikus en praktiese teoloog. Sy eksegetiese werk het, naas sy disputasies, besondere aandag geniet. Sy eksegetiese en hermeneutiese werk is onteenseglik van hoogstaande gehalte. Ná sy uitleg van die Psalms (1513-1515), het hy hom in 1515-1516 tot die uitleg van die Romeinebrief gewend. Hierdie lesings is uitstekend bewaar en oorgelewer. Die lesings in sy eie handskrif is opgeneem in WA 56, terwyl die aantekeninge van sy studente opgeneem is in WA 57 (die laaste bande van die WA). Die lesings het bestaan uit woord-vir-woord en frase-vir-frase-verklarings. Daarnaas was daar glosse en ekskursies (Scholien) – met ander woorde, langer sistematiese besinnings oor woorde en woordgroepe. Luther het nie gehuiwer om tydens die lesings kerk-kritiese opmerkings te maak nie. Sy hoofbelangstelling was egter om die teologie van Paulus onder die knie te kry. Sy eksegese is egter teen die agtergrond van sistematiese vraagstellings gedoen. Die werkgeregtigheid van die Rooms-Katolieke Kerk het hom deurgaans begelei. Die vraag na die verhouding tussen geloof en werke het dus sy eksegese gerig. Luther se eksegese is plek-plek beïnvloed deur Augustinus en Johannes Tauler (vgl. Leppin 2015:728-730).
[iv] Al die vertalings is deur die outeur self gemaak.
[v] In die Barth Handbuch van Beintker (2016:469) word aangedui dat die eerste weergawe van die Romeinebrief in 1919 gedruk is. In hakies staan egter (ausgeliefert in Dezember 1918). Van der Kooi (2016a:189) stel dat Barth tot en met Desember 1918 daaraan gewerk het, maar die datum van die voorwoord word as Augustus 1918 opgegee (vgl. Barth 1947:VI). Barth het dus die voorwoord geskryf voordat die boek heeltemal voltooi is. My vermoede is dat die boek einde Desember gedruk en by boekwinkels afgelewer is, maar eers vanaf Januarie 1919 verkoop is. Die verkoopdatum is dus 1919, maar die drukdatum is 1918.
[vi] Enkele van die opskrifte kom ook voor by Van der Kooi (2016a:190-194).
[vii] In ʼn brief van 19 Julie 1916 het hy die eerste keer opgemerk dat hy besig is om Romeine eksegeties te ondersoek (Van der Kooi 2016:189).
[viii] [1983] dui op die jaar toe ek bevoorreg was om te luister na sy lesings wat uitgeloop het op sy kommentaar.
