Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Markus en Johannes vermeld glad nie eens die geboorte van Jesus in hul evangelies nie, maar begin by sy doop: want in `n sekere sin begin alles werklik daar…
- Jesus se doop was die begin van sy bediening; van sy verlossingswerk, die begin van sy lydensweg…én sy verheerliking.
Terwyl Johannes besig was met sy prediking en verduidelik het dat Jesus se doop baie kragtiger as sy eie sou wees, het Jesus self na hom gekom en gevra om deur hom gedoop te word!
- Johannes het gevoel dat hy nie waardig was om Hom te doop nie, en wou hê dat Jesus hóm moes doop.
Jesus dring egter daarop aan om deur Johannes gedoop te word? HOEKOM? Omdat Hy daardeur in die plek van die sondige mens kom staan…
Die heel eerste ding wat Jesus doen wanneer Hy met sy bediening begin, is dat Hy Hom sáám met sondaars — of liewer die berouvolle sondaars— onderwerp aan die doop van Johannes die Doper…
Johannes het `n bekeringsdoop gedoop (Matt 3:11): Daarom sou `n mens eintlik verwag het dat Jesus Hom nié deur Johannes sou laat doop nie.
- Hy was immers sonder sonde: Hy het dus nie nodig gehad om Hom te bekeer nie (3:14).
Maar tot Johannes se verbasing dring Jesus daarop aan dat Johannes Hom moet doop (3:15).
- Waarom? Omdat Jesus hier in ons plek optree… soos Hy later in ons plek sou sterwe…
Jesus het in ons plek kom staan; Homself soos `n sondaar laat behandel…sodat óns sondeskuld betaal kon word; sodat ons van sondeskuld vrygespreek kon word!
Dáárom laat Jesus Hom doop deur Johannes die Doper. Hy laat Hom doop soos `n sondaar:
- Of soos Paulus dit in 2 Korintiërs 5:21 stel: Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel, sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.
As Jesus in ons plek kom staan deur Hom te laat doop deur Johannes die Doper, aanvaar Hy sy roeping om ons straf te dra… Dan begin sy lydensweg…
En dán skeur die hemel!
- Dan aanvaar God dit; dan verseël God dit! Dan – vir `n oomblik word dit hemel op aarde want ons sien iets van God:
Die Gees van God daal op Jesus neer en `n stem uit die hemele sê dat die heilsbeloftes van God, die beloftes van verlossing vandag vervul word…
- `n Stem uit die hemel sê: Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek my. Tegelykertyd kom die Gees van God soos `n duif op Jesus:
In die Ou Testamentiese tyd is mense (veral profete en konings) gesalf met die oog op die amp wat hulle beklee of hul taak wat hulle moes vervul:
- So dui die salwing of toerusting van Jesus met die Heilige Gees aan op die begin van sy openbare optrede.
Wanneer Jesus deur Johannes die Doper gedoop word, word die Ou Testament vervul: die lydende Kneg waarvan Jesaja 53 praat, is hier! Hy aanvaar sy roeping/ die taak wat Hom opgelê is…
Die gebroke verhouding tussen God en mens gaan nou weer herstel word, want die lydende Kneg (Jes 53) het sy roeping aanvaar!
- Die lydende Kneg waarvan Jesaja 53 praat begin sy weg van vernedering en lyding deur Hom soos `n sondaar te laat behandel; deur Hom te laat doop deur Johannes die Doper.
Jesus word as`t ware gedoop met die oog op sy dood. Want wat hier (by sy doop) begin, sou uiteindelik daar (aan die kruis op Golgota) eindig:
- Toe Jesus opkom uit die water nadat Hy deur Johannes gedoop is, rys die kruis as`t ware reeds voor Hom op…
Nie dat dit alles vanselfsprekend daarop sou uitloop nie, inteendeel. Telkens sou Hy versoek word. Telkens sou hy beproef word.
- Telkens sou Hy voor die keuse gestel word om af te wyk, om te draai, om die dood te ontwyk, om die gevolge van sy doop te vermy; (om sy verlossingswerk te laat vaar…).
Die heel eerste ding wat onmiddellik na Jesus se doop gebeur, is presies dit. Hy word uitgedryf in die woestyn en deur Satan versoek (Matteus 4:1-11).
Die Satan wil Hom afbring van die pad wat Hy met sy doop begin loop het: Hy word telkens versoek, ja, tot kort voor sy dood daar in die tuin van Getsemane… Ja… hoe nader die heil is, hoe sterker die kragtige werkinge van die Godsryk, hoe sterker, dringender, dreigender, gevaarliker, hoe boser word die aanslae en versoekinge van die Bose.
- Jesus oorwin egter al hierdie versoekings deur telkens terug te gryp na sy doop;
- deurdat Hy sy destydse keuse (by sy doop) herhaal;
- deurdat Hy as`t ware die stem uit die hemel wéér hoor en wéér glo…en daaraan getrou bly.
Dwarsdeur sy lewe op aarde word Jesus al hoe verder gelei op hierdie weg van lyding en vernedering:
- Elke keer moet Hy die keuse wat Hy by sy doop gemaak het opnuut herbevestig… en elke keer raak dit erger, moeiliker!
Maar elke keer gryp Jesus terug na sy doop; herbevestig Hy sy besluit by sy doop om soos `n sondaar behandel te word om ons straf te dra… sodat ons van sondeskuld vrygespreek kan word.
Uiteindelik, by sy eintlike doop, die “laaste” doop, die ”doodsdoop aan die kruis”, roep die ongelowige wêreld uit: Waarlik, Hy was die Seun van God!! Behalwe net
dat Hy dit nie wás nie, maar ís!
- Maar sodat ons dít kan weet, moes Hy opstaan: uit die dood, uit die graf – soos destyds uit die water van die Jordaanrivier… na sy doop deur Johannes die Doper.
Weer eens alleen, maar weereens in ons plek, as Eersteling uit die dood, wat voor ons uit gaan…
- Omdat Jesus – van sy doop… tot en met sy dood – hierdie pad lydensweg] enduit geloop het, kan ons nou óók gedoop word; kán ons nou skuldvergifnis ontvang!
Omdat Hy die lydende Kneg was wat weer vir ons die weg na God gebaan het, kan ons nou leef onder `n oop hemel, onder `n hemel wat nooit weer sal toegaan nie!
- Want sedert die dag toe Jesus gedoop is, staan die hemele nog steeds oop oor die hele wêreld, oor ons almal, óók vandag!
Amen