Dit is nou net meer as ’n jaar gelede dat ons lewens onherroeplik verander het. Ek het nog die Saterdag ’n familietroue gehad, ’n diens die Sondag en toe ’n vinnige wekie reses voor die tweede kwartaal begin. Om gou vir Ma in die Kaap te gaan kuier en die troufoto’s te wys.
Die troue was al volgens die nuwe maatreëls drasties verklein. By die Sondag se erediens het net sewe mense opgedaag. Op die lughawe was daar al mense met maskers – toe nog ’n vreemde gesig.
Net toe dit tyd word om terug te vlieg, kom die aankondiging van die Vlak 5-inperking. Niemand gaan meer êrens heen nie, beslis nie oor provinsiegrense nie. Al wat mag, is winkel toe om kos te koop en dit so min moontlik.
Ons moes gewoond raak aan die nuwe situasie, die reëls, regulasies en maniere van doen. Van aankondiging tot inperking was daar nie veel tyd om te dink of voor te berei nie. En toe is dit so: by die huis bly.
Skielik woon ek in die Kaap by my ma en broer in die huis waar ek grootgeword het. Vanuit die tuin is Tafelberg sigbaar. As die wind reg waai, hoor jy die see. Ma was bly oor die ekstra tyd saam. Ek was dankbaar oor die kosbare geskenk van tyd met haar. Dit sou andersins nooit moontlik gewees het nie.
Na ’n week vakansie moes ek weer begin werk. Ek swerf met die rekenaar van vertrek tot vertrek, van agterstoep tot voorstoep om ’n ruimte te vind wat kan voel soos werk. Waar ek nie in die pad van die huishouding sal wees nie. Waar voldoende stilte is vir die Zoom-vergaderings.
Ek rig my “kantoor” op die voorstoep in. Daar is ’n groot Brasiliaanse peperboom om na te kyk. Daar is voëltjiesang om na te luister. Ek is dankbaar vir die ruimte, meer as wat ek tot my beskikking het by my eie huis. En hier is ’n tuin!
Ek bekyk die tuin. Na jare se droogte en streng waterbeperkings in die Wes-Kaap is daar meer sand as gras. Ook die bome en struike is die ene dooie takke en blare. Ek weet nie of die dooie tuin nou juis goed sal wees vir my gemoed in hierdie tyd van inperking nie. Miskien is dit net deprimerend. Moet ek die tuin liewer vermy? Of sou dit tog goed wees om ’n bietjie uit te kom uit die huis, na die berg te kyk en vars lug in te asem?
Aan die begin van die inperking was dit nog Lydenstyd. Miskien, het ek gedink, pas dit juis goed by hierdie tyd van die kerklike jaar: meditasie op ’n dooie tuin. Om stil en stadig deur die doodsheid te stap, te kyk, dit in te neem. Om na te dink oor die verganklikheid van ons menswees, wat met Covid-19 weer sterk onder ons aandag gekom het. Om na te dink oor die toestand van menswees wat die dood van ons Here veroorsaak het en steeds matelose ellende in ons wêreld meebring.
Ek stap uit in die tuin met ’n sober gemoedstemming, gereed vir my “meditasie op ’n dooie tuin”. Maar soos ek stadig deur die tuin stap, sien ek groen hier, groen daar, groen oral! Die oleander toon geen teken van die afgelope jare se droogte nie. Tussen die lantana se dooie takke deur is daar tekens van groen en selfs ’n paar blommetjies. Die strelitzia het ’n klompie gehawende blare, maar daar is ook nuwe, gesonde blare. Daar is baie meer groen en tekens van lewe as deprimerende doodsheid.
Die “meditasie op ’n dooie tuin” word toe ’n Paasmeditasie. Dood én lewe, met méér tekens van lewe, groei en groen, as tekens van dood. Soos die Paasboodskap: deur die dood heen tot nuwe lewe, tot groei en bloei en vrug dra.
Met ’n heel ander perspektief op die “dooie tuin” voel ek geïnspireerd om naweke iets daaraan te doen. Tuinwerk het ek nooit in my lewe gedoen of gedink ek sal ooit daarin sin hê nie. In Kaapstad, my grootwordgemeente, was ek as jongmens een aand by ’n Bybelstudie oor die lewe na die dood. ’n Nederlander het vertel hoe baie hy van tuinmaak hou. Hy hoop dat daar vir hom geleentheid sou wees in die lewe hierna om te “tuinieren”. Ek onthou nog hoe ek gedink het: Nee dankie! Ek hoop regtig nie ek moet tuinmaak in die hemel nie. Harp speel en musiek maak sal vir my baie lekkerder wees.
Maar hier is ek toe met besem en snoeiskêr die tuin in. Ek begin die dooie blare en takke wegsny en wegvee. Op Vryheidsdag in April kyk ek met heel ander oë na dieselfde tuin as ’n maand tevore. Ek sien nie meer ’n “dooie tuin” nie. Ek sien ’n Paastuin.
Ek wonder hoe ons nou na ons selfde lewe kyk – met ander oë as ’n jaar tevore? Dalk het ons grense verskuif, het daar ’n soepelheid in ons denke en menswees gekom wat miskien ’n jaar tevore nie daar was nie. Dalk het die ondenkbare nie net denkbaar geword nie, maar moontlik. Dalk het dit ons tot aksie gebring.
Die Paasboodskap is nie net vir eenmaal per jaar in die maand April nie.
Die stil maar kragtige boodskap van hoop is vir alle tye en alle omstandighede.
(Prof Yolanda Dreyer is hoogleraar aan UP se Fakulteit Teologie en Religie,
en leraar by die Nederlandssprekende Gemeente in Johannesburg)
