Vandag, op 26 Maart 2021, tydens die skrywe van hierdie artikel, is dit presies ’n jaar gelede dat Suid-Afrika ’n harde grendeltyd ingegaan het. Ek onthou die onsekere afwagting van daardie dag, die aanpassing in die weke wat gevolg het.
Almal moes tuis bly, en met hoë uitsondering kon ons noodsaaklikhede gaan aanvul. Oefen buite in die strate was verbode. Ek onthou die byna onheilspellende stilte snags, die vliegtuiglose blou hemel, die skoner lug, die beelde op televisie van ’n Italië wat onder die aantal infeksies en sterftes gesteier het. Ek onthou die verlange na eertydse Paasfeesvieringe, die debat of Nagmaal aanlyn in huise gevier mag word of nie.
Dan was daar die groeiende onbehae oor ’n aantal regulasies wat eerder by ’n totalitêre regime tuishoort. Armes het die meeste gely omdat die regering die uitdeel van kospakkies wou sentraliseer. Die drank- en sigaretverbod het die sluikhandel gevoed, korrupsie het gefloreer te midde van ’n sinkende ekonomie waar al hoe meer hul werk verloor het terwyl daar desperaat om oorlewing geveg moes word.
Teen hierdie agtergrond het ek op Donderdag 21 Mei 2020 met Zoom-gesprekke begin waarin al die ringe en soveel predikante moontlik betrek is. Die virtuele bywoning was redelik goed, en 145 predikante uit 36 van die 38 ringe het deelgeneem. Enkele emeriti het ook by die gesprekke aangesluit.
Vanjaar het ons op 25 Januarie 2021 met soortgelyke gesprekke begin, en ’n totaal van 149 predikante en emeriti het deelgeneem. Ek en dr Wouter van Wyk was deurgaans by die gesprekke betrokke, terwyl enkele Kommissielede op ’n rotasiebasis ingeskakel het. Dit is belangrik om te vermeld dat vlak 3-inperkinge gegeld het, net 50 lidmate eredienste kon bywoon, en besoeke aan lidmate steeds riskant was.
In die algemeen was die gees onder predikante goed, hoewel onsekerheid soms die ondertoon gevoer het. Ek wil enkele mededelings weergee wat waardevolle insig gebied het:
Ek weet nie meer regtig hoe om dominee te wees nie.
Ek weet nie of ek nog ’n gemeente het nie, dit maak my mal.
…hierdie is ons generasie se groot oorlog.
Gelukkig dat Covid-19 in die tyd van goeie tegnologie gekom het.
Eensaamheid as gevolg van Covid-19 het die nuwe pandemie geword.
Dan was daar ook kreatiewe benaminge en sêgoed soos Corona coaster, the unending unsayable wat die pandemie tot gevolg het, hek-en-stoep-huisbesoeke, stoepstories, Koronavoosheid, en die pandemie wat maak dat elkeen in sy eie bubble is.
Ons het ook dieselfde vyf vrae as in 2020 aan die hand van die Zoom Polls gedoen, en die anonieme antwoorde was onmiddellik beskikbaar:
- Het jy op Sondae gedurende die grendeltyd eredienste of boodskappe op watter wyse ook al met jou gemeente gedeel?
- Het jy die vrees dat lidmate ná die grendeltyd so gewoond aan aanlyn eredienste gaan wees dat hulle nie meer eredienste fisies gaan bywoon nie?
- Dink jy jou gemeente sal Covid-19 finansieel oorleef?
- Is jy al genader oor die moontlike vermindering van jou traktement en/of reistoelaag?
- Dink jy dat fisieke afstand soos gedurende die grendelsituasie toegepas en vrese vir moontlike infeksie vanweë hernude uitbrekings in die toekoms, ’n uitwerking op lidmate se uitlewing van fisiese koinonia sal hê?
Die vyf vrae wat tydens albei gesprekke gevra is |
||||||||
Vrae |
Ja |
Nee |
Onseker |
Totaal |
||||
|
2020 |
2021 |
2020 |
2021 |
2020 |
2021 |
2020 |
2021 |
Vraag 1 |
141 |
144 |
3 |
2 |
1 |
3 |
145 |
149 |
Vraag2 |
22 |
42 |
83 |
51 |
40 |
56 |
145 |
149 |
Vraag 3 |
84 |
106 |
9 |
9 |
52 |
34 |
145 |
149 |
Vraag 4 |
45 |
44 |
100 |
104 |
|
1 |
145 |
149 |
Vraag 5 |
64 |
92 |
50 |
34 |
31 |
23 |
145 |
149 |

(Lees die artikel “Meningspeiling onder predikante van die NHKA” in Die Hervormer van Julie 2020.)
Wat vraag 1 betref, was daar grootliks konsensus. Feitlik almal het eredienste op die bes moontlike manier met gemeentelede gedeel. My indruk is dat predikante op uitsonderlike wyses te werk gegaan het en buitengewone moeite gedoen het. In sommige gemeentes word daar tot op hede gereelde dagboodskappe aan lidmate deur middel van WhatsApp versend.
By vraag 2 was daar ’n toename in predikante wat hul vrees uitgespreek het dat lidmate ná Covid-19 nie meer geredelik eredienste fisies sal bywoon nie. Dit bly ’n vraag wat die langtermyn-uitwerking van die pandemie op fisiese bywoning van eredienste gaan wees. Gaan Covid-19 ’n nuwe verskuiwing na meer huisgebonde eredienste tot gevolg hê, veral as sommige kenners voorspel dat die virus met al sy variante nog ’n leeftyd met ons gaan wees?
Daar is ’n groter optimisme (vraag 3) by dominees dat hul gemeentes wel Covid-19 finansieel gaan oorleef. Heelwat kollegas het gemeld dat hul inkomste wonderbaarlik gestyg het ten spyte van die feit dat die gewone fondsinsamelingsprojekte nie kon plaasvind nie. My indruk is dat die pandemie offervaardigheid, om watter redes ook al, by baie verhoog het. Een kollega het tydens die gesprekke opgemerk: Ons kan by die charismatiese kerke leer wat offervaardigheid beteken. Hy het daarby die beginsel van tiendes bepleit.
Gelukkig het die antwoorde by vraag 4 redelik dieselfde gebly, wat bemoedigend is. ’n Mens kan maar net hoop dat volgende vlae nie verdere druk op die ekonomie gaan plaas nie. Goeie reëns in die meeste dele van die land die afgelope groeiseisoen, het oorlewing op die platteland makliker gemaak. Mynbou in sekere sektore het ook vir ’n ligpunt gesorg.
Vraag 5 het ’n toename getoon, en meer predikante is bekommerd dat Covid-19 ’n uitwerking op die fisiese uitlewing van koinonia sal hê. Die dra van maskers, die handhawing van fisieke afstand en die elmbooggroetery bewerk tog ’n soort skugterheid en terughoudendheid wat nadere kontak betref. Tyd sal leer wat die langtermyneffek sal wees.
My dank en waardering aan die Kerk se predikante wat by hierdie gesprekke betrokke was. Die groot voordeel van die pandemie is waarskynlik die wyse waarop dit ons aanlyn vaardighede versnel het. 18 maande gelede sou ek nooit kon droom dat die Kerk soveel eredienste, geprekke en vergaderings in die kuberruim sou hou nie. Ek is van mening dat hierdie werkwyse ’n waardevolle aanvulling tot die gewone bediening is, en dat dit hier is om te bly.
(Dr André Ungerer is voorsitter van die Kommissie van die AKV en hoof van die HTK)