In die loop van 2022 het die Hervormde Gemeente Midrand in die ring van Johannesburg ontbind en met Gemeente Rooihuiskraal saamgesmelt. Die kerkgebou wat nou verkoop word, was geleë in 10de Weg, Erand Gardens (ook genoem Noordwyk) in Midrand. Dit is aan die westekant van die besige N1-snelweg tussen Johannesburg en Pretoria.

Vanaf die snelweg, ongeveer by New Road-afrit, is die pragtige goue koepel van die witgeverfde Russies-Ortodokse Kerk ’n bekende landmerk.  Effens noord daarvan het die klein Hervormde gemeente vir die laaste 25 jaar ’n kort maar ekumeniese verhaal van Afrikaanssprekende Protestante om te vertel.

Midrand is een van die sakegebiede in Suid-Afrika wat besonder vinnig ontwikkel het, veral sedert 2000. Elke jaar lyk die padkaart weer anders. Woonwyke, kantoorblokke, pakhuise, ensovoorts, skiet vinnig op. Mense kom en gaan. Navorsing wys dat hier nie Afrikaanssprekende skole is nie, en dit was oor ’n kwarteeu ’n uitdaging vir alle Afrikaanssprekende kerke in die omgewing omdat die getalle klein gebly het in hierdie vinnig sekulariserende omgewing. Die Hervormde gemeente se lidmaattal het gewissel tussen ongeveer 110 en later 30 lidmate.

Gedurende die kwarteeu wat die gemeente sedert Mei 1997 in Midrand gevestig was, het dit ’n besonder hegte en ekumeniese band ontwikkel met die Gereformeerde Kerk Midrand wat in 1999 gestig is om ongeveer dieselfde bedieningsarea te bedien. Daarmee het albei gemeentes beslis kerkgeskiedenis geskryf.

Ds André Groenewald was vanaf Augustus 1998 predikant van die gemeente. Aanvanklik het die Hervormers eredienste gebou in Laerskool Halfweghuis in Van Heerdenstraat. In 2002 het die Gereformeerde Kerk die vier erwe gekoop op die Erand-landbouhoewes waarop ’n woonhuis gestaan het. In 2004 het ’n gesamentlike eiendomskommissie van die Hervormde gemeente en die Gereformeerde Kerk ontstaan, wat ooreengekom het dat hulle saam die terrein sou besit en die woonhuis in ’n kerkgebou sou ontwikkel.

Op 18 September 2005 is die verboude woonhuis as kerkgebou in gebruik geneem en sou dit vir altyd gedeel word deur dié twee gemeentes. Dit was reeds ’n stukkie kerkgeskiedenis in sigself. Die verhoudinge was harmonies sodat vanaf ongeveer 2008 in skoolvakansies saam erediens gehou is. Vanaf 2015 is selfs ooreengekom om alle eredienste saam te hou, ook Nagmaal – wat tot in 2018 afwisselend deur leraars van die Hervormde of Gereformeerde Kerk bedien is. Hierdie ontwikkeling is veral deur ds Paula Eksteen noukeurig beskryf tydens haar deelsorg- en deeltydse bedieningstyd tussen 2008 en 2018. Sy het eweneens tussen 2013 en 2018 ’n groot rol saam met ander gespeel in die vestiging van die Afrikaanse privaatskool, Midrand Afrikaanse Akademie, op die NG Kerk Halfweghuis se terrein.

Vir die afgelope vier jaar na die vertrek van ds Paula Eksteen het ds Peet van den Berg, wat reeds by Gereformeerde Kerk Midrand die leraar was, volgens ’n unieke vennootskap ooreengekom dat hy herder van albei gemeentes sou wees tot sy emeritaat in 2022. Daar is verder onder meer afgespreek dat die eiesoortige liturgiese elemente van die kerkverbande ’n herkenbare plek sou kry in die eredienste.

Transformasie van Johannesburg-Noord na Midrand
Die lang verhaal is daarin geleë dat die Hervormde Gemeente Midrand in 1997 weliswaar van kerkplek verander het, maar nie ’n nuwe gemeente was nie. Dit was ’n voortsetting van die ouer Gemeente Johannesburg-Noord binne hul eie gemeentegrense. In 1998 is die naam na Midrand verander. Oplettende lesers van die Almanak sou opgemerk het dat die stigtingsdatum van Midrand as 1931 aangegee is. Die notules in die Kerkargief gee antwoord op hierdie jaartal.

In 1929 het Gemeente Kensington ontstaan om lidmate in die noordelike dele van Johannesburg te bedien. Daar was verskeie ingewikkelde redes wat nie nou relevant is vir ons verhaal nie, waarom reeds kort daarna in 1932 (nie 1931 nie – soos blyk uit argivale navorsing) weer ’n nuwe gemeente gevorm het in die noordelike areas Lyndhurst en Kew. So is Johannesburg-Noord gestig. Dekades lank was die kerkgebou op die hoek van Atholl- en Josephstraat in Highlands-Noord geleë. (Die gebou is in 2001 verkoop.) Johannesburg het gedurig gegroei, maar hierdie gebied het histories nooit baie Afrikaanssprekende bewoners gehad nie. In 1958 het die gemeente ongeveer 300 siele getel, waarvan 220 belydende lede was.

Dit blyk egter wel dat lidmate steeds meer en meer in ’n noordelike rigting verspreid gewoon het. Dit sluit dan gebiede soos Sandton, Rivonia en Leeuwkop in. Gedurende die 1960’s was die gemeente se noordelike grense gemeentes Verwoerdburg, Swartkop, Noordrand en na 1980 ook Olifantsfontein. Die afleiding kan tereg gemaak word dat Gemeente Johannesburg-Noord letterlik altyd noord gekyk het vir uitbreiding.

Uit korrespondensiestukke in die Kerkargief blyk dit dat daar reeds in 1970 melding gemaak is van die uitbreiding noord deur grond iewers in die omgewing van Halfweghuis (later Midrand) te koop sodat afgestig kon word en ’n selfstandige gemeente gevorm kon word. In 1972 was daar verkennende gesprekke tussen Johannesburg-Noord en Verwoerdburg oor moontlike kombinasies en die versugting na ’n sentrale kerkplek. In 1978 is selfs ’n fonds vir kerklike uitbreiding (verskuiwing) opgerig met grondaankope as oogmerk. Daarvan het egter helaas verder niks gekom nie.

Daarby het Johannesburg-Noord in 1980 ’n groot bedieningsgebied in die noordoostelike ontwikkelingsarea rondom Leeuwkop aan Randburg afgestaan – hulle sou die verlies eers later agterkom. Die afstigting van Olifantsfontein suid van die historiese dorp Irene (nou ingesluit by Gemeente Midstream) in 1980, en hul kerkbouplanne in 1981, het weer nuwe dinamika verleen.

Uit die kerkgeskiedenis leer ’n mens die tekens van tydige en ontydige optrede en hoe patrone dikwels herhaal. In September 1984 vind weer so ’n mylpaal-ontmoeting plaas, samesprekings in sake die bearbeiding van die [Noord] rand, maar kennelik sonder dat daar verder konkreet mee gehandel is. Die Ringskommissies van Johannesburg en Pretoria-Wes vergader met 21 persone. Die memorandum vanuit dié vergadering lewer interessante perspektiewe op. Almal besef dat die gebied wat toe al “Midrand” genoem is, binnekort geweldig gaan ontwikkel, en dat Johannesburg-Noord na die noorde sal moet versit. In die memorandum noem die gemeente dit self so: weens gebreke en tekortkominge kan die hupstootjie net nie uitgevoer word om die ideaal te verwesenlik nie.

Een van die tekorte was dat steeds geen grond aangekoop is nie, en die memorandum wys uit dat daar gehink is op twee gedagtes oor waar die gemeente ’n sentrum moes hê. Een voorstel was langs die N1 by die Buccleuch-Wendywood-wisselaar in Sandton se gebied, wat as sentraal beskou is. Daar was egter sprake van “Indiërgronde” – gekoppel aan ingewikkelde indelings wat met die destydse Groepsgebiedewet te make gehad het. Die ander voorstel was plasing van ’n gemeentesentrum op die “waterskeidingsbult” by die Kyalami/Halfweghuis-lyn naby New Road. Dit is die area waar Midrand se sakesentrum vanaf 2000 baie vinnig sou verrys, maar tussen die middel 1980’s en die verskuiwing na die Laerskoolsaal as kerkadres in 1997 het ’n dekade verloop.

En dit is die kort en lang verhaal van Gemeente Johannesburg-Noord/Midrand se unieke geskiedenis.

(Nándor Sarkady is die argivaris van die NHKA)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap