Het jy hulle al gesien? Die skimme wat douvoordag die plastiek en papier uit jou vullis uit versamel, wat jou kantoor of werkruimte se meubels kom afstof en die mat stofsuig, wat die stoep of voorportaal se teëls uitvee; diegene wat jou wasgoed was en stryk en geduldig die sitkamer se memorabilia – foto’s, aandenkings en skilderye – een vir een poets; daardie teenwoordigheid in die gastehuis of die hotelkamer, die een wat die toilet skoonmaak, jou handdoeke elke dag vervang; wat die skottelgoed was en die oorskietkos van jou bord in asblikke krap; die vroegoggend- en laataandstappers met emmers vol water, netjies gebalanseer op hul koppe; die liefdevolle ouer wat altyd die kombuis skoonmaak en die kinders se kamers netjies maak … het jy hulle raakgesien? Hulle is almal vroue – en hulle maak letterlik die Aarde skoon.
Dit is die getuigskrif van die menslike toestand dat diegene wat nie die gemors (letterlik) veroorsaak nie, die gevolge daarvan moet dra en die skade moet probeer ongedaan maak. Dit geld vir elke mens en land op die Aarde wat die spit moet afbyt as gevolg van die kombinasie van ’n verdraaide skeppingsteologie, ’n verdraaide teologiese antropologie en ’n neo-liberale filosofie wat die wêreld se ekonomie voortdryf.
Die besondere wyse waarop vroue met die natuurlike omgewing en ekologie in verband gebring word – met mooi en minder mooi implikasies – het ’n lang geskiedenis. Die Oostenrykse geskiedskrywer Gerda Lerner het dit in haar twee dekades van navorsing aangetoon. Antieke kulture en godsdienste het die Aarde se skeppende karakter met vroue se vermoë om lewe te skenk, in verband gebring. Derhalwe het ’n bepaalde tradisie ontstaan om na die Aarde as Moeder te verwys. Sy is “moeder” omdat die Aarde ons onderhou en voed. Hierdie metaforiese status van die planeet is weerspieël en versterk deur antieke kosmogonieë, waarin vroulike gode of moedergode die hoofkarakters in skeppingsverhale was. Selfs binne ons Christelike teologie is daar beeldspraak wat God as moeder of vroedvrou uitbeeld en na God se baarmoeder as lewensruimte vir skepping verwys. In die geskiedenis van Christelike spiritualiteit was vroue soos Hildegard van Bingen (1098-1179) en Klara van Assisi (1194-1253) voorlopers van ekologiese bewussyn oor die grootsheid van die skepping en die noue verband tussen alle aspekte van die kosmos.
Die antieke verband wat tussen die Aarde en moederskap getref is, en vandag nog van krag is, het beteken dat die vermoë om lewe te skenk ’n tipe magiese betekenis ontvang het, en dat vroue binne ’n verskeidenheid van kulture met respek en byna bonatuurlike agting bejeën is. Dit is algaande “uit-vertaal” uit die grondnarratiewe van beskawings en godsdienste. Ongelukkig het die skadukant van kultuur en sosialisering algaande meegebring dat vroue toegekende genderrolle ontvang het en hul waarde beoordeel is bloot op grond daarvan dat hulle lewe voortbring. As vroue dit nie kon (kan) of wou (wil) doen nie, het hul kultuur hulle verstoot. Ons sien spore daarvan steeds in baie dele van ons kulturele verskeidenheid in die wêreld. Die oorbeklemtoning van moederskap het ’n ander nadeel gehad en daar is navorsing wat aantoon hoe hierdie fenomeen deur politici in die wêreld misbruik is, ter wille van “volksplanting”. In sommige gevalle is hierdie volksplanting ook deur godsdienstige leiers aangemoedig.
Dit is bekend vandag dat ons met die nagevolge van die oorbevolking van die Aarde te kampe het. Die afgelope twee jaar se jaarlikse verslae van die wêreld se toonaangewende instansie oor klimaatsverandering – die Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC) – het aangetoon dat oorbevolking ’n direkte verband met stygende temperature het. Die rede daarvoor is die wyse waarop ’n groter aardse bevolking met krimpende hulpbronne oor die weg moet kom. Dit is in werklikheid wat aanleiding gegee het tot die Verenigde Nasies se volhoubare-ontwikkelingsinisiatief, wat vandag met 17 volhoubare-ontwikkelingsdoelwitte (sustainable development goals) verband hou.
Dit was vroue wat dekades gelede teen die misbruik van die hulpbronne van die Aarde begin protesteer het. Hierdie protes het verband gehou met die wyse waarop hulle ook dikwels misbruik is. Hierdie beweging het algaande as ekofeminisme begin bekendstaan. Vir vroueteoloë het die protes verband gehou met ’n verdraaide skeppingsteologie waarin die mensdom onbeperkte beheer oor die natuurlike omgewing gehad het, en ’n verdraaide teologiese antropologie waarin vroue op neerhalende of beperkende wyse as die mensdom se “helpers” geskets is.
Binne ekologiese bewussynsbewegings kan (en het) vroue dus verskeie bydraes om te lewer: Enersyds skep hulle bewussyn oor en protesteer hulle teen die misbruik van ons natuurlike hulpbronne, en andersyds skep hulle bewussyn oor die gevolge van die misbruik van vroue self: Statisties is die vroue van die wêreld onder die armstes van die armes – hulle is meer afhanklik van natuurlike hulpbronne vanweë hul meestal huishoudelik-verwante beroepe/take. Dit is hulle wat dikwels as broodwinners drie tot vier generasies aan die lewe hou. Dit is vroue se werk wat eerste in gedrang kom as hulpbronne skaars is. En dit is vroue wat die wêreld skoonmaak – letterlik.
Die Hervormer se fokus hierdie maand is skepping/ekologie/gesin. Dit is dus heel gepas dat beide die positiewe en negatiewe aspekte van vroue se byna vanselfsprekende assosiasie met die natuurlike omgewing belig word. Derhalwe wil ek kortliks hulde bring aan drie vroue wat die mensdom gehelp het om bewus te word van ons impak op die omgewing.
Dorothee Sölle (1929-2003) was ’n Duitse teoloog wat bekend geword het vir die vreedsame “politieke naggebede” (Politisches Nachtgebet) wat sy gereël het om te protesteer teen die Viëtnamese oorlog, maar veral teen die ontwikkeling van kernkragwapens. Onlangs is hierdie saak weer op die voorgrond met die verskyning van die film Oppenheimer, wat in Julie in filmteaters begin vertoon het. Die omgewingskritiek teen die gebruik van kernkrag is ook weer vandag op die voorgrond.
Wangari Maathai (1940-2011) was ’n Keniaanse omgewingsaktivis en die eerste vrou uit Afrika wat ’n Nobelprys ontvang het vir hierdie bydrae. Sy was die stigter van die Green Belt Movement, ’n nie-regeringsorganisasie wat hulself beywer het vir omgewingsbewaring. Hulle het gefokus op die herstel van die natuur deur bome aan te plant. Daar is vandag steeds ’n trotse nalatenskap in hierdie verband, en dit het aanleiding gegee tot ander soortgelyke bewegings, soos die Green Anglican Movement in Suid-Afrika.
Rosemary Radford-Ruether (1936-2022) is bekend as ’n moeder van ekofeministiese teologie in haar Amerikaanse konteks. Die verband tussen ons teologiese taal, die rolle wat ons vir mans en vroue skep, en die wyse waarop dit alles nadelig kan inwerk op die natuurlike omgewing, is deur haar belig. Sy het baie moeite gedoen om die skade van ’n skeefgetrekte teologiese antropologie aan te toon in haar bekende werk oor die geskiedenis van Christelike teologie, Women and redemption.
Al het vroue ’n besondere bydrae om te lewer ten opsigte van bewussyn oor en sorg vir ons natuurlike omgewing, is dit van kardinale belang dat die mensdom die verskeidenheid van stemme en bydraes met mekaar verbind en dat almal saam, soos ’n rivier se sterk stroom, vorentoe beweeg, skoonmaak en red wat nog te redde is. In hierdie opsig hoop ons dat ons nie te laat is nie. En in die woorde van Dorothee Sölle, vra ons:
Don’t stop dreaming me, God.
I don’t want to stop remembering
that I am your tree,
planted by the streams
of living water.
(Uit: Dream me, God. Gedig deur D Sölle; gepubliseer in die biografie oor haar lewe, geskryf deur Renate Wind)
(Prof Tanya van Wyk is medeprofessor in Sistematiese en Historiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria)