Daar kom oomblikke en tye wanneer die geprewel van woorde nie plek het nie… Moet ek praat of bly ek nou liewer stil? Ek praat nie van stilstuipe nie, maar van oomblikke en spasies van my menswees waar stil wees (Jes 30: 15) die beste antwoord en reaksie op iemand se lewensomstandighede is.
Stil wees is die oomblik wanneer dit ons aan woorde ontbreek omdat ons gewoon nie die antwoorde op iemand se lewensvrae ken nie! ’n Sensitiewe en ervare pastor weet wanneer om stil te bly. Stil wees gee op ’n manier erkenning aan wat iemand anders werklik ervaar. Nie hoe jý daaraan betekenis gee of dit vir die persoon verklaar nie. Mense se emosies en ervarings is uniek. Ons kan presies dieselfde ongeluk en/of gebeurtenis waarneem – tog bly elkeen van ons in ’n unieke spasie met ons eie unieke emosies. Ek is gewoon net nie waar jy in hierdie oomblik is nie. Stil wees help my om erkenning te gee aan die plek waar jy nou is. Stil wees help om eg en eerlik te sê: Ek weet nie!
Praat en luister is die pastorale vaardigheid wat my nader en/of verder van die oomblik af neem. Daar bestaan ’n wye verskeidenheid van pastorale teorieë en tegnieke wat die pastor help om in ’n dinamiese spasie met sy/haar vaardighede relevant en effektief te wees.
Ons bevind ons in ’n brose tyd. Mense is broos, breekbaar en verganklik. Lidmate en kollegas is emosioneel en geestelik uitgeput: Pandemiemoegheid en die angs van die tyd verlam en verduister ons hoop en drome. ’n Kollega deel haar lewensomstandighede met my: My moeder is Covid-positief. Sy sit alleen op haar hospitaalbed. Sy is moeg. Sy praat met God: Is dit die wyse waarop U gedink het my lewe moet eindig?
Gelowiges vra dieper vrae oor God en die lewe. Mense verstaan goed dat die lyn tussen lewe en dood dun is. Mense praat oor gebeure en bring hul seer onder woorde asof dit alles in stadige aksie gebeur het. Stil wees is ’n wyse waarop mense doelbewus kies om in die oomblik te handel. Om hul eie seer en broosheid onder woorde te bring. Waar is God in hierdie tyd?
Die realiteit van Covid sny oral diep. Die buitengewone druk op lidmate en predikante van die NHKA bly met die derde vlaag van die koronavirus hoog. Niemand is tans van hierdie ervarings en gebeure uitgesluit nie. Die ontwrigting en verlies word verder versterk deur vlamme en plundering wat onlangs nasionaal op ons mense losgebrand het. Infrastruktuur en verspreidingsnetwerke wat veral in hierdie tyd so nodig is, is vernietig. Die ekonomiese gevolge van dit alles leun swaar op elke gemeente van die Kerk.
Ons is God se mense. Ons behoort in lewe en in sterwe aan die Here. Die lewe van elke gelowige is diep gewortel en geanker in die lewe van Jesus Christus, ons Here.
Ek het, toe wilde storms gewoed het, diep onder, vaste rots gevind. Die woord wat my van ramp behoed het: God is my Vader; ek sy kind. My anker is dáár vasgemaak – ek glo! – niks sal dit los laat raak. (Liedboek van die Kerk, Gesang 501)
Die NHKA en elke lidmaat wil met deernis bly uitreik na elkeen wat in hierdie uitdagende tyd behoefte het aan liefde en ondersteuning. Elke gelowige is nou in hierdie tyd in die voorste linie van Lewe en Hoop wat daarvan getuig dat God naby en teenwoordig is. Dit is nou tyd om opnuut geanker en gegrond te wees in Jesus Christus. Natuurlik is die oomblik onstuimig en seer. My anker is dáár vasgemaak – ek glo! – niks sal dit los laat raak.
Mag ons aanraking sag en teer wees. Mag ons as Kerk in hierdie tyd relevant wees en die deernis wat God vir hierdie wêreld en vir my en jou het, met almal deel. Mag ons stil bly en weet: God is die Heer!
Seën ons, Here God, seën Afrika.
(Dr Frikkie Labuschagne is hoof van die Sentrum vir Gemeentelike Bediening)
