Aan die vooraand van die 72ste Algemene Kerkvergadering stroom studiestukke, beskrywingspunte en agendas van voorlopige besprekingsvergaderings in. Een van die opdragte van die 71ste AKV was dat die saak van kinders se deelname aan die sakrament van die Nagmaal heropen moet word.
Studiemateriaal is voorberei deur die Kerkkomitee: Erediens sodat ons biddend in afhanklikheid van die Here oor die saak in ons gemeentes kan nadink. In hierdie verband is die studiestuk van prof Johan Buitendag, Saam in een liggaam: Deelname van kinders aan die Nagmaal (2001), heringedien saam met ’n studiestuk van dr Tanya van Wyk, Kinders se deelname aan die Nagmaal: ’n Oorsig oor tersaaklike aspekte.
Dit is nie ’n nuwe saak nie – in 1991 het prof Andries van Aarde reeds gepleit dat ondersoek na die kinderkommunie gedoen moet word. Daar is ook die afgelope 30 jaar omvattende navorsing hieroor gedoen.
Ons het dit goedgedink om met kinders hieroor te gesels. Die kinders se ouderdomme wissel van 11 tot 18 jaar. Een van hulle het verlede jaar belydenis van geloof afgelê, twee lê oor ’n paar maande belydenis van geloof af, en die res is nog besig is met die NHKA se kategese. Die deelnemers was Ruben (graad 5), Emmarie (graad 6), Christy (graad 8), Dawid (graad 10), Dylan (graad 11), Diandra (graad 11) en Annemi (graad 12).
Hoekom dink jy vier ons Nagmaal?
Annemi: Om ons daaraan te herinner dat Jesus gesterf het vir ons sondes, dat Hy dit gedoen het uit liefde vir ons, en dat ons ons lewe aan Hom moet wy.
Dylan: Dit is ’n verbondsete om Jesus se dood en opstanding te herdenk.
Dawid: Ek dink ons vier Nagmaal omdat Christus die eerste Nagmaal gevier het, en die dissipels het sy voorbeeld gevolg en daarmee aangehou na sy dood, as herinnering. Ek dink as Christene het ons dit ons plig gemaak om die dissipels na te volg en Christus se dood vir ons sondes te herdenk.
Christy: Om die belofte wat ons afgelê het tydens belydenis van ons geloof te onthou en deel te hê aan die liggaam en bloed van Jesus.
Emmarie: Om te onthou dat Jesus vir ons lief is.
Ruben: Ek dink ons vier Nagmaal as ’n belydenis van geloof – dat jy glo dat Jesus aan die kruis gesterf het sodat ons hemel toe kan gaan.
Watter betekenis het die Nagmaal vir jou?
Annemi: Dit sê dat Jesus vir my lief genoeg was om sy lewe op te gee vir my sodat ek vir ewig saam met Hom kan leef.
Dylan: Aangesien ek nog nie die Nagmaal kan gebruik nie, sien ek dit as ’n belangrike mylpaal in my geloofslewe. Dit gaan soveel meer beteken wanneer ek dit die dag mag gebruik.
Diandra: Dis moeilik om te sê aangesien ek nog nie Nagmaal mag gebruik nie, maar ek dink dis ’n groot verantwoordelikheid waar jy die kans kry om beter te probeer leef en jou sonde reg te maak voor die Here en die persone wat jy te na gekom het.
Dawid: Die Nagmaal se betekenis vir my is om my, deur die brood as ’n simbool van sy liggaam te eet en die wyn as ’n simbool van sy bloed te drink, daaraan te herinner dat Hy vir ons sondes gesterf het.
Christy: Dit sê dat jy ’n Christen is en belydenis van geloof afgelê het.
Emmarie: Jesus het vir ons sonde gesterf.
Ruben: Ons word deur die brood en wyn herinner aan die liggaam en bloed van Jesus – Hy was die offer vir ons sondes.
Van wanneer af mag lidmate Nagmaal gebruik? Hoekom dink jy is dit so?
Almal: Nadat jy belydenis van geloof afgelê het.
Annemi: Belydenis van geloof leer jou hoekom jy deelneem aan die Nagmaal en hoekom dit so belangrik is. Die Nagmaal is ook ’n herinnering aan die belofte wat jy afgelê het.
Dylan: Die belydenis van geloof is baie belangrik vir die Nagmaal aangesien ’n mens eers deur die kerk opgevoed moet word om die werklike betekenis agter die ete te kan verstaan. Voor belydenis word die Nagmaal en verskeie gebruike deur middel van kategese vir ons geleer.
Diandra: Eers as jy jou geloof bely het, neem jy die verantwoordelikheid vir jou eie sonde en lewenswyse. Dit was voor belydenisaflegging die verantwoordelikheid van my ouers nadat hulle die doopbelofte afgelê het. Dus is jy dan eers verantwoordelik genoeg om te verstaan waarom jy die Nagmaal gebruik.
Dawid: Ek dink as jy jonger is en nog nie jou geloof bely het nie, gaan jy nie verstaan wat besig is om rondom jou te gebeur nie omdat jy te jonk is.
Emmarie: As jy ouer is, sal jy beter verstaan.
Ruben: Ek dink dit is so omdat daar in die Bybel in 1 Korintiërs 11: 27 staan: Elkeen wat op ’n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. Dit beteken dat as jy nie die Nagmaal ernstig opneem nie, sal jy gestraf word deur die Here. Jong kinders is nog te klein om te onderskei tussen wat reg en verkeerd is. Kinders kan dalk die Nagmaal op die verkeerde manier gebruik.
Sal jy graag nou al wil Nagmaal gebruik as jy mag? Hoekom sê jy so?
Ruben: Ja, nie omdat ek aan die gemeente wil bewys dat ek glo dat Jesus aan die kruis gesterf het nie, maar omdat ek vir die Here wil dankie sê dat Hy my vergewe en vir my sondes aan die kruis gesterf het.
Emmarie: Nee, ek dink daar is nog te veel om te leer en baie goed wat ek nog nie weet nie. As Mamma en Pappa Nagmaal hou, dan weet ek Jesus is lief vir my, al neem ek nie self deel nie.
Watter impak, indien enige, dink jy sou vroeëre deelname aan die Nagmaal in jou lewe en in jou verhouding met God gemaak het?
Annemi: ’n Negatiewe impak. Ek dink ’n mens moet ’n sekere vlak van volwassenheid bereik voor jy belydenis van geloof aflê en Nagmaal gebruik. Omdat dit so ’n belangrike belofte is, moet jy volwasse daaroor wees. As ek vroeër daaraan deelgeneem het, sou ek nie die belangrikheid daarvan verstaan het nie; ek sou naïef daaroor gedink het, en dis verkeerd om Nagmaal te gebruik en nie te weet hoekom dit so belangrik is nie.
Dylan: Ek dink nie dit sou ’n impak gehad het nie. As kind het ek geleer dat die Nagmaal net vir grootmense is juis omdat ek dit nog nie verstaan nie. Daarom glo ek dat dit geen invloed op my verhouding met die Here sou hê nie.
Diandra: Ek dink nie daar sou enige verskil in my verhouding met God gewees het nie. Ek sou net nie die Nagmaal so waardeer het as wanneer ek dit nou kan begin gebruik nie.
Dawid: Ek dink nie dit sou ’n groot impak op my gehad het nie, want ek was dalk te jonk om te verstaan wat aangaan. Ek voel wel deel van die Nagmaal deur in die banke te sit en te luister wat gebeur.
Christy: Nagmaal is soos ’n geskenk wat jy kry na geloofsbelydenis. ’n Mens sal nie so dankbaar wees daarvoor as jy dit vroeër in jou lewe mag gebruik nie, omdat jy nie die betekenis sal verstaan nie.
Enige ander gedagtes rondom die Nagmaal wat jy graag wil deel?
Ruben: Onthou, as jy ooit Nagmaal gebruik, moet jy dit baie ernstig opneem.
Diandra: Ek voel dit sal vinniger gaan as ons Nagmaal bedien in die banke in plaas daarvan om by die tafel te gaan aansit.
Prof Buitendag vat dit raak as hy sê: “Geloof en geloof alleen is die bedding van die gesprek. Anders gesê, ons het hier nie met ’n argument te doen van volwassenagmaal teenoor kindernagmaal nie – daar kan maar net een Nagmaal wees – maar of Nagmaal ontvang mag word voor geloofsbelydenis plaasvind? Of nog anders gesê, mag enige ander toelatingsvereistes vir die Nagmaal geld as alleen die Doop?”
Die werklikheid is dat belydenisaflegging iets geword het wat dit nie veronderstel was om te wees nie. Dit vra miskien ’n herverstaan en dekonstruksie. ’n Mens kan nie bepaal wanneer iemand gelowig word nie. Wanneer Ruben (11 jaar oud) soos volg antwoord op die vraag of hy graag Nagmaal wil gebruik, kan hierdie geloofservaring nie van hom weerhou word nie. “Ja, nie omdat ek aan die gemeente wil bewys dat ek glo dat Jesus aan die kruis gesterf het nie, maar omdat ek vir die Here wil dankie sê dat Hy my vergewe en vir my sondes aan die kruis gesterf het.”
(Ds Elmien Shaw is leraar in Gemeente Swartkop)