Geweld is ’n realiteit wat deel is van ons lewe in Suid-Afrika. Statistieke toon dat die Suid-Afrikaanse samelewing van die hoogste syfers van geslagsgebaseerde geweld teen vroue in die wêreld het. Hierdie dade van geweld veroorsaak nie net fisiese beserings nie, maar ook psigologiese verwonding, en psigologiese trauma in gesinne.
Die begrip morele verwonding (moral injury) het ontstaan uit die werk wat deur Jonathan Shay gedoen is met veterane van die Viëtnamese oorlog. As militêre psigiater werk hy met Viëtnamese oorlogsveterane wat gediagnoseer is met erge posttraumatiese stresversteurings (posttraumatiese stressindroom of stresversteuring – PTSS/PTSV). In gesprekke het hulle dikwels vertel hoe persone met gesag, byvoorbeeld offisiere in gevegsituasies, versaak het om te doen wat reg is. Volgens Shay veroorsaak sulke ervarings morele verwonding wat blywende sielkundige letsels laat. Die verraad wat oorlogsveterane op hierdie vlak ervaar, vernietig hul vermoë om te vertrou.
Klinies-psigologiese navorsing identifiseer ’n verdere vorm van morele verwonding, waar die probleem by die soldaat self lê. Dit is wanneer die soldate iets doen wat teen hul eie morele oortuigings is, of wanneer hulle sien hoe ander oneties optree. Die posttraumatiese stres van oorlogsveterane verskil egter van morele verwonding. Die oorheersende pynlike emosies van ’n persoon met PTSS/PTSV is vrees, afgryse en hulpeloosheid. Die oorheersende pynlike emosies van iemand met morele verwonding is skuld, skaamte, woede en verraad. Sommige van die gevolge van morele verwonding is depressie, angs, gebrek aan eiewaarde en selfdood.
Gesondheidsorgpersoneel en ander noodhulpwerkers soos paramedici, brandweerpersoneel en polisiebeamptes wat aan ernstige trauma blootgestel word, kan ook morele verwonding ervaar. Dit kan gebeur wanneer besluite geneem moet word wat tot lewensverlies kan lei. Nadat hulle op traumatiese gebeure gereageer het, kan hulle gefikseer raak op wat hulle anders kon gedoen het om die lewensverlies te voorkom of die beserings of skade te verminder. Hulle sukkel met gevoelens van skuld of skaamte (selfverwyt) wanneer hulle voel dat hulle teen die morele kodes van hul beroep opgetree het.
Morele verwonding is nie beperk tot diegene in die weermag, gesondheidswerkers en noodhulpwerkers nie. Mense wat ernstige fisiese/emosionele trauma ervaar, byvoorbeeld verkragting, aborsie, motor- of ander ongelukke, het ook ’n hoë risiko van morele verwonding. Nadat die trauma ervaar is, raak hulle dikwels gefikseer op wat hulle dalk anders kon gedoen het om die traumatiese ervaring te voorkom of anders kon gedoen het om die uitkoms van wat gebeur het, te verander. Hierdie obsessie gaan dikwels oor ’n vermeende oortreding van morele waardes.
By gesinsgeweld en geslagsgebaseerde geweld word ’n soortgelyke dinamiek aangetref. Carol Gilligan gebruik haar navorsing oor die vroeë ontwikkeling van kinders en die navorsing van Shay oor morele verwonding om haar eie verstaan van morele verwonding te beskryf. Morele verwonding vernietig vertroue, en dit het ’n negatiewe uitwerking op mense se vermoë om lief te hê. Die woorde van een van die veterane oor wie Shay berig, dat hy in sy hart geweet het dit is verkeerd, bevestig vir haar dat ons sin van goed en kwaad, reg en verkeerd, nie net gaan oor samelewingsnorme nie; dit is diep gewortel in ons menswees. Haar navorsing oor menslike ontwikkeling het gewys dat mense oor ’n diep innerlike wete beskik van wat reg is of nie. Samelewingswaardes bots egter soms hiermee. Dit is wanneer die manier waarop die samelewing voorskryf wat dit beteken om man en vrou te wees (manlikheid en vroulikheid) mense benadeel, beskadig en beperk. Dit bepaal ook wat sy die Love Laws noem – wat bepaal vir wie ons mag lief wees, hoe ons liefde mag bewys en uitleef, en in watter mate ons ander mag liefhê.
In die proses leer meisies om te verloën wie hulle weet hulle is, en watter vermoëns hulle het, om by die kultuur in te pas. In hierdie proses leer seuns om tipies menslike emosies van sorg en kwesbaarheid in verhoudings met ander te verloën. Hierdie samelewingsisteem wat afgedwing word, leer hulle dat om ’n man te wees (manlikheid) verhewe is bo om ’n vrou te wees. Morele verwonding wat maak dat mense teen hul diep innerlike wete van wat reg en verkeerd is ingaan, kan lei tot gesinsgeweld en geslagsgebaseerde geweld.
Dit hou verband met hoe waarde aan mense toegeken word. As waarde toegeken word op grond van geslag, ras, intelligensie en prestasies, veroorsaak dit morele verwonding. Dit kan daartoe lei dat dié aan wie meer waarde toegeken word, hulself sekere regte toe-eien. Die morele verwonding wat hierdeur veroorsaak word, lei tot die verlies en verloëning van eiewaarde by vroue. Ten opsigte van geslagsgebaseerde geweld, gaan dit ook oor die waarde wat aan mans toegeken word, of eerder die waarde waarop sommige mans dink hulle geregtig is en wat hulle toe-eien, teenoor die waarde wat aan vroue toegeken word. Dade van geslagsgebaseerde geweld soos verkragting en huishoudelike mishandeling tas die eiewaarde van vroue aan, en lei tot morele verwonding van vroue.
Hierdie verwronge beeld oor menswees en waarde verwond almal. Mense wat hulself die reg toe-eien om ander te mishandel, te verneder en te degradeer, is ’n voorbeeld van morele verwonding omdat hulle optree teen hul eie menslikheid, dit wat hulle diep binne hulself weet reg en verkeerd is. Geslagsgebaseerde geweld is nie beperk tot gewelddadige optrede nie, maar sluit ook woorde, prente, boeke en grappies in wat vroue afkraak en ander beïnvloed om vroue se waarde aan te tas. In die lig hiervan is dit nie net die optrede van mense nie, maar ook die samelewing se manier van dink en doen en praat en waarde toeken, wat moreel skadelik kan wees, en morele verwonding kan veroorsaak.
As dit duidelik word hoe ’n samelewing se manier van dink, doen, praat en waarde toeken morele verwonding veroorsaak, is optrede nodig. Pastorale sorg is een van die vakdissiplines van Praktiese Teologie wat gemoeid is met onderlinge sorg in geloofsgemeenskape. Waar samelewingsisteme mense beskadig, is deel van die sorg waaroor dit gaan in die pastoraat om krities te wees teenoor daardie sisteme en verandering te bewerkstelling. Die uitdaging is om te luister na die ervaring van diegene wat deur die samelewingswaardes verwond word. Die uitdaging is om die boodskappe te verander van wat dit beteken om ’n man te wees en wat dit beteken om ’n vrou te wees.
Genesing begin deur die rug te keer op die blatante en verskuilde diskriminasie op grond van geslag. Dit is om terug te draai na die evangeliese norme van onvoorwaardelike liefde en gelyke waarde. Dit gaan daaroor om onsself te herinner aan wat ons weet, en aan ons eiewaarde.
(Dr Annelie Botha is dosent in Praktiese Teologie met spesialiteit Pastoraat)
