Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.” (Matteus 16: 24-25, AFR33/53).

Die Christelike geloof was vol verhale van mans en vroue wat so toegewyd was aan Christenskap en om dissipelskap uit te leef dat hulle selfs bereid was om vir hul geloof te sterf. Wanneer ons na hul lewens kyk, sien ons werklik ’n prentjie van Christus. Hierdie vroeë Christene het gevoel dít was die ware seën – om martelaarskap te aanvaar en jou lewe op so ’n manier aan God toe te wy dat dit eindig in die dood, om letterlik die kruis op te neem en Jesus tot die dood toe te volg. Hierdie verhale gee ons as Christene in die 21ste eeu leiding oor hoe om ons stories te leef, ons kruis op te neem met vertroue, opoffering en gehoorsaamheid.

Ek dink van die aangrypendste van hierdie verhale kom uit die eerste paar eeue van die kerk se bestaan, toe dit nog onwettig was om ’n Christen genoem te word. Sommige van hierdie gelowiges het uiteindelik martelare geword wat vir hul geloof gesterf het, sonder om ooit moed te verloor. Dit was ’n misdaad om Christus te volg, strafbaar met die dood. Christene is vermoor vir geen ander rede nie as die feit dat hulle Christus gevolg het.

Hierdie doodsvonnis laat Christene vra: Hoekom? Hoekom, as ek my lewe aan God gee? Hoekom, as ek my lewe leef soos Christus geleef het? Hoekom gebeur dit met my? Hoekom moet ek vermoor word vir my geloof?

Ons idee van martelaarskap kom waarskynlik uit die Nuwe Testament en Jesus se leer van dissipelskap. Wanneer Jesus ons van dissipelskap leer, sê Hy nooit dat dit maklik sal wees nie. Hy sê immers: As jy in my voetspore wil volg, tel op jou kruis en volg My. Vir die vroeë Christene was dit nie ’n metafoor nie, dit was die werklikheid.

In my en jou stories kom ons ook dikwels kruise teë. Kruise wat ons op die vlakte van wanhoop laat sit. Soveel keer rol dieselfde vraag oor ons lippe wat Christene al van die vroegste tye af vra. Hoekom? Hoekom, as ek my lewe aan God gee? Hoekom, as ek my lewe leef soos Christus geleef het? Hoekom gebeur dit met my?

Dit is waar God se verhaal met jou lewe begin – die verhaal van vertroue, opoffering en gehoorsaamheid. Natuurlik hou ons daarvan om ons eie storie te skryf. Terwyl ons dit skryf, is dit ’n storie waar die lug blou is, die veld groen van lente die hele jaar deur. ’n Verhaal sonder siekte en dood, sonder bekommernis, sonder stryd oor môre, sonder haat, afguns en woede, sonder kruise.

Maar God skryf ook ons storie. ’n Verhaal van vertroue, opoffering en gehoorsaamheid. Ons moet die verhaal leef wat God vir ons geskryf het. In die vertroue dat God sal voorsien. Hy het nog altyd voorsien. Leef die storie met die wete dat niks ons van sy liefde kan skei nie.

Leef die storie in gehoorsaamheid. Stap die pad, selfs met intense stryd. Ons kan die pad stap terwyl ons aan God vashou. Leef ook die storie met opoffering. Ons moet so leef dat ons eie stories opgeoffer word, sodat God sy storie saam met ons verder kan skryf en klaar kan maak. Ons moet net ons storie aan die Here toevertrou.

God vra dat hierdie pad gestap word. Hy gee uitkoms – gee net jouself. God wil hê ons moet na Hom toe kom en ons beste gee. Hy kom na ons deur die Offerlam aan die kruis – sy beste.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap