Die Hervormde Kerk het nog altyd die teologiese opleiding van predikante aan ’n universiteit hoog op prys gestel. Dit blyk uit die feit dat die Hervormde Kerk ’n sleutelrol gespeel het in die vestiging en uitbouing van ’n teologiese fakulteit aan die Universiteit van Pretoria.

Daarom is daar ook op ’n deurlopende basis gesprek oor teologiese opleiding in die Kerk. Dit is ’n voorreg om ook my stem tot hierdie gesprek te voeg in die vorm van ’n refleksie oor my ervaring van my studies. Dit is allermins ’n maklike opdrag om ’n oorsig oor my belewenis van ses jaar se studies te bied. Boonop is dit ’n uiters subjektiewe onderneming. Ek kan maar net vanuit persoonlike belewenisse, tekortkominge en omstandighede hieroor praat.

Om teologie te studeer, is ’n ontdekkingsreis wat tegelykertyd verrykend en uitdagend is. My teologiese studies was ’n groeiproses. Ek het gedurende daardie ses jaar nie net akademies gegroei nie, maar ook op geestelike vlak. Die dosente begelei teologiestudente vanaf ’n “Sondagskool-geloof” na ’n tweede naïwiteit waarin ’n mens krities met Bybelse tekste en teologiese kwessies omgaan, maar steeds die geloofsaspek behou.

Ek het in 2014 by ’n diverse, multikulturele en multikonfessionele Fakulteit Teologie aan UP ingestap. Ek het studeer vir ’n vierjarige BTh-graad, waarna ons ’n eenjarige MDiv-graad moes doen. Gedurende ons sesde jaar het ons ’n Nagraadse Diploma in Teologie en Bediening voltooi, wat praktiese werk by ’n gemeente insluit. Intussen het van die grade se name verander, maar die beginsel bly dieselfde.

As student van die Hervormde Kerk het ek die voorreg gehad om nie net ’n teologiestudent in die algemeen te wees nie, maar om ook in die besonder ’n Hervormde student te wees wat ’n plek by die Van der Hoff-studentevereniging het en aanvullende klasse by die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) bygewoon het.

Die hoof van die HTK en dosente van die Fakulteit het moeite gedoen om verhoudings met ons te bou. Omdat die Teologiese Fakulteit die kleinste fakulteit op kampus is, het ons dosente ons op die naam geken. Die oorgrote meerderheid dosente wat vir my klas gegee het, was nie net akademiese lektors nie, maar mentors. Dit was by die Hervormde dosente dat ek van Hervormde teologie en etos geleer het. Hulle en die NG dosente het die reformatoriese basis van ons teologie gelê. Hulle het nie net hul kennis met ons gedeel nie, maar ook hul harte en geloof. So het hulle nie net my sekerhede en vooronderstellings uitgedaag nie, maar ook my denke gestimuleer.

As studentegroep het ons goeie bande met mekaar gesmee. Gedurende my eerste jaar was sommige van ons teologieklasse in Engels en het ons klas gehad saam met alle studente van alle denominasies. Vanaf my tweede jaar het ons in Afrikaans saam met die NG studente klas gehad en ons het ook saam afstudeer.

Ons is blootgestel aan verskeie teologiese tradisies, bewegings en teoloë. Ons het verskillende perspektiewe op teologiebeoefening bestudeer. Kontekstuele teologie, missionale teologie, reformatoriese teologie, Afrika-teologie, feministiese teologie, bevrydingsteologie en eko-teologie is maar net enkele van die perspektiewe waarmee ons te doen gehad het. Die modules van elke vakdissipline het ons op die hoogte gebring van die internasionale teologiese diskoers en navorsing op daardie gebied.

Dit is noodsaaklik dat ’n mens blootgestel word aan ’n kontekstuele teologie wat rekening hou met die uitdagings van die Suid-Afrikaanse samelewing. Tog bly daar ’n gaping tussen teorie en praktyk. Dit sal seker altyd daar wees. Maar soms voel dit vir my, hier waar ek in die tweede jaar van my bediening is, of ons in sommige opsigte in die Fakulteit voorberei word vir ’n kerk wat nog nie bestaan nie. Of dan nie in die Hervormde Kerk se geval nie.

Daar was ook gebeure rondom universiteitswese wat gedurende my studies plaasgevind het. Tydens my derde jaar was daar die landwye stakings rondom die #Feesmustfall-beweging. Verder het die taalkwessie rondom die uitfasering van Afrikaans by UP tydens my studies aan die orde gekom. Die dekolonialisering en afrikanisering van kurrikulums het ook stadig maar seker begin intree tydens my laaste studiejare.

Vandat ek afstudeer het, het baie dinge verander by die Fakulteit. Soos wat die NHKA besig is met herstrukturering, sinergie en herbelyning vir meer bekostigbare en effektiewe kerkwees, is dieselfde prosesse ook maar by die universiteit aan die gang.

Ongelukkig is daar altyd iets wat in die slag bly wanneer sulke prosesse geïmplementeer word. Ek het byvoorbeeld verder studeer in antieke tale, maar tans is die toekoms van antieke en semitiese tale, soos ons dit ken, by UP in die gedrang. Iets soos “Bybelse” Hebreeus pas nie in by die rigting waarin die universiteitswese beweeg nie. Dit is maar net een voorbeeld. Daar is nog talle ander. Tog vertrou ek dat ons steeds in die toekoms ons teologiese opleiding aan ’n universiteit sal kan doen.

Ek kan met dankbaarheid terugkyk op my studiejare en die vormende invloed van dosente en kontekstuele Bybels-reformatoriese teologie. Ek hoop van harte dat studente oor 20 jaar van nou af steeds dieselfde sal kan sê.

(Ds Marina Kok is leraar in Gemeente Potchefstroom)

af
af
Deel met behulp van
Copy link