Ek het geen idee hoe laat dit is nie toe my selfoon vroegoggend skielik skril langs die bed lui. Ek besef wel dit is steeds stikdonker buite. Dit voorspel niks goed nie, dink ek by myself.

Die stem aan die ander kant is egter kalm en vriendelik – hoewel die swaar Europese aksent moeilik is om te volg. Hy stel homself voor, maar ek kan nie uitmaak met wie ek praat nie. Ek hoor dat hy in ’n vreemde sameloop van omstandighede, en te danke aan Google se vertaalfunksie, die nuutste uitgawe van Die Hervormer te lese gekry het. Hy bedank my dat ek in die redaksionele artikel ons lesers waarsku teen die gevare wat vals inligting gedryf deur kunsmatige intelligensie vir die globale ekonomie inhou.

Meteens tref dit my dat ek met niemand minder nie as Børge Brende, president van die Wêreld-Ekonomiese Forum (WEF), praat! Brende kla dat die meeste mense nie die WEF se waarskuwings oor KI ernstig genoeg opneem nie, veral omdat die gevare van klimaatverandering en internasionale konflikte veel meer aandag kry. En as kerkkoerante soos Die Hervormer, wat ’n gesonde reputasie vir feitelik-korrekte en etiese beriggewing het, aandag aan die saak gee, maak dit die WEF se opvoedingstaak baie makliker. Voor ek nog my waardering behoorlik kan verwoord, begin hy my uitvra oor die finansiële behoeftes van ons kerklike publikasies sodat hy ’n plan kan maak om vir ons ondersteuning te kry.

Nou helder wakker en op my voete begin ek syfers aframmel asof ek al weke vir sy oproep wag. Net toe ek begin dink dat my impromptu voorlegging die kol tref, voel ek ’n elmboog in my ribbes en deur die newels hoor ek: Jy mompel alweer in jou slaap… 

Maar dit het my nietemin aan die dink gesit: Watter impak maak ons kerklike media, en Die Hervormer in die besonder, werklik?

As amptelike mondstuk van die NHKA poog Die Hervormer steeds om in 2024 gelei te word deur die missie van die Kerk, naamlik om die goeie nuus van die evangelie van Jesus Christus te vier; die gemeenskap van die gelowiges te beoefen; diens te lewer; en getuienis te lewer teenoor alle mense oor die hoop wat in ons leef. Word daarin geslaag, is ’n positiewe impak min of meer ’n gegewe.

Die Hervormer dien as ’n belangrike instrument nie net vir kerknuus en teologiese en geestelike diepgang nie, maar ook vir maatskaplike bewusmaking en sosiale geregtigheid. Die impak van klimaatverandering, internasionale konflik, maatskaplike onrus, geslagsgebaseerde geweld, KI se onetiese sy, en vele ander brandende kwessies behoort altyd op die agenda te bly.

Die Reformasie was waarskynlik die eerste grootskaalse maatskaplike, politieke en godsdienstige revolusie wat gedryf is deur die gedrukte media. Rondom 1440 word die boekdrukkuns in Duitsland deur Johannes Gutenberg uitgevind en daarna spoedig landwyd en verder ontwikkel. Teen 1517 is daar reeds talle drukkerye regoor Europa wat meer as 30 miljoen afskrifte van ’n verskeidenheid publikasies uitgegee het.

Kort nadat Martin Luther se uitnodiging tot openbare debat deur middel van sy 95 stellings (wat hy aanvanklik volgens oorlewering op 31 Oktober 1517 teen die deur van die Kasteelkerk op Wittenberg vasgesit het) onder die aandag van die snelgroeiende drukkersbedryf gekom het, het die invloed van die gedrukte media op die openbare mening mense regop laat sit. Die onmiddellike en wye reaksie op die publikasie van die 95 stellings het blykbaar selfs vir Luther onkant gevang – in sy eie woorde: Ek sou heeltemal anders en baie meer akkuraat geskryf het as ek geweet het wat gaan gebeur.

Die bykans onbelemmerde verspreiding van inligting en idees het nuwe kommunikasiemoontlikhede ontsluit, die verbeelding aangegryp, en die Reformasie ’n verrassende maar broodnodige hupstoot gegee. Politieke en godsdienstige magte is uitgedaag op maniere wat voorheen haas ondenkbaar was. Die skielike toename in geletterdheid verbreed ook meteens die horisonne van die opkomende middelklas.

Danksy Luther se skielike bekendheid sou hy bloot die teks van nuwe preke, artikels of stellings na ’n goedgesinde drukperseienaar neem en gou sou dit soos ’n warrelwind deur die netwerk van drukkerye regoor Duitsland trek. Rondreisende handelaars en predikers was van die effektiefste verspreiders van die pamflette van dorp tot dorp. Die ongekende vermoë om so wyd en openlik oor aktuele kwessies te debatteer, het gelei tot groot opgewondenheid en ’n ervaring van betrokkenheid by iets betekenisvol. Op stadspleine en dorpsvergaderings, in voorhuise, klaskamers, kroeë en restaurante, is die inhoud van die disputate oor en oor bespreek. Die debat is onomkeerbaar na die “gewone” mense geneem.

Sedertdien is geen oorlog gewen (of verloor) sonder die media se invloed nie. Om die media aan jou kant te kry, was nog altyd die eerste stap in enige sosiale of politieke revolusie. Die pen is inderdaad magtiger as die swaard…

Hoewel die openbare opinie allermins kerklike media se fokus is, is die rol van Die Hervormer in uitdagende tye goed gedokumenteer. Verder dui leserstatistieke en -terugvoer op ’n leserskorps, en daarmee saam ’n invloed, wat tot ver buite die tradisionele grense van die Kerk strek. Ons Kerkkoerant was nog altyd op die voorpunt van bewusmaking – weliswaar nie om enige hedendaagse revolusie te voed nie, maar beslis om as broodnodige inligtingsbron en, les bes, ook as die Kerk se gewete, te dien. Sosiale media mag dalk die temperatuur akkuraat meet, maar die hartklop van die Kerk word steeds deur Die Hervormer weerspieël.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap