As ’n mens 40 jaar lank met dieselfde man getroud is en 39 jaar lank in dieselfde huis woon, sien jy mense kom en gaan, en tuine verander en bure vertrek, en die paaie in jou omgewing uitbrei en verval, herstel word en verval, en beleef jy al hoe meer verandering na verandering. En jy verander self ook: in voorkoms, in denke, in voor- en afkeure; miskien verwerf jy nog ’n kwalifikasie of twee, en koop meer en meer boeke, en pak reg en gooi weg, en hopelik groei jy…

Maar nimmer sien jy jouself skielik as oud – al neem dit langer om ’n hele huis skoon te maak, en raak die energie ’n raps minder, en is dit nie juis maklik om plat op die mat by jou kleinseun te sit en legkaart bou as jy dink aan die opstaan nie!

Totdat jy op ’n dag in die optometris se spreekkamer staan, en hoor hoe sy oor die foon vir die oftalmoloog se ontvangsdame sê: Ek wil ’n noodafspraak reël vir my pasiënt – die tannie is baie angstig…

Die tannie. Waaragtig. En jy wil uitroep: Weet jy dat dié dame die jongste van sewe kinders is? Die laatlammetjie-kleinsus van ses fris broers? Al is net twee van hulle nog in die lewe, sy is steeds hul kleinsus. Die tannie is nie oud nie, sy is net…

Ouer. Nie oud nie, net ouer as vroeër. Daar is nog baie lewe en planne en drome en breinselle, allakragtie, wéét jy dit?

Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en gul.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?
(Olga Kirsch)

Dan hoor jy by die oftalmoloog: age-related macular degeneration. En daar is dit weer: oud, ouer, nog ouer…

Nie so lank gelede nie was jy nog een van die jong mammas wat hul kinders opgelaai het by die kleuterskool. En toe die laerskool. Hoërskool. Universiteit. Toe jy hul hande vasgehou het en besluit het hiernatoe en nie daarnatoe nie. So moet jy maak, so leer ek jou.

Nou vertel hulle jou: Nee Mamma, nie so nie. Nie nou nie. Ek sal Mamma wys hoe. En jy aanvaar dit gelate, laat hulle glo hulle weet regtig beter. Al sien jy hoe hulle gereeld terugtol na Mamma se mening, Mamma se raad…

Dus, al sê wie ook wat, “ouer” hoef nie my definisie te wees nie:

Die idee spring katvoet in haar kop:
’n reënboog pille land ongemerk in haar fyn
hand, glip rats by haar keel af. Sy spin
tevrede, dink die laaste sprong het begin,
haar kloue is in die lewe geslaan…

Sy land op haar voete.
Nog agt lewens oor.
(Aniel Botha)

Wat sal ek vrees – swakker sig, stadiger tred, woorde wat wegraak? Om weer te wees soos ’n kind, onseker maar steeds vol lewe, naïef vertrouend dat alles wel sal wees?

want al hoe meer
begin die dreigende seisoene na ’n sirkel lyk
wat geduldig op sirkulêre voltrekking wag
(Jeanette Ferreira)

En dan, wanneer die voltrekking uiteindelik kom:

neurie deuntjies vry van verdriet
hoor hoe die jong hoep-hoepies roep
die swart toktokkies sein en klop
die ou-ou kode tussen my en jou

wanneer die reën en groei weer kom
blare hand uitsteek na die son
kom soek my tussen heuningbos
waar ek knalgeel tussen die kwartsklip blom
(Christine Barkhuizen-le Roux)

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap