Het jy al ’n begraafplaas gelees? Om grafkuns se simboliese betekenis te verstaan, gee inligting oor ons mense se geloof en lewensopvattings. As jy grafkuns kan verstaan, kyk jy met ander oë na grafstene!

Onthou jy toe jy as klein kind leer lees het? Eers was dit lekker om na die prentjies te kyk en letters te leer. Maar, sjoe, daardie toweroomblik toe jy besef jy kan self woorde lees. ’n Nuwe wêreld het oopgegaan. Wil jy graag grafstene “lees”? Dis ’n geloofsavontuur soos min! As jy “grafsteentaal” nie kan lees nie, gaan ’n deel van die storie by jou verby.

Grafkuns, veral op ou grafstene, is prentjies met Christelike betekenis. Motiewe wat dikwels gebruik is, is sirkelblomme, harte, ’n ster, ’n duif, die lewensboom, ’n skoenlapper, plante soos klimop (ivy), blomme, en groetende hande. ’n Bybelteks, Gesangvers of spreuk was ook gewild. Grafkuns ontwikkel ook en daarom lyk verskillende tydperke se grafte anders: pionierstyd, Victoriaans of vroeg 20ste eeu. Gewone mense, amateurkunstenaars en onderwysers se volkskuns spreek die meeste tot ’n mens. Probeer gerus om J Celestine Pretorius se insiggewende boek Die geskiedenis van Volkskuns in Suid-Afrika te lees.

Op Paassondag – vanjaar 31 Maart 2024 – word van kansels af verkondig dat Jesus opgestaan het. Hierdie boodskap is egter nie net vir die “veilige ruimte” van kerkgeboue bedoel nie. Sommige gemeentes begin Paassondag met ’n vroeë byeenkoms in ’n begraafplaas of by die gemeente se gedenkmuur. Daar, juis tussen die grafte wat ons herinner aan die dood, word verkondig dat Jesus lewe. By die graf- of gedenksteen van ’n geliefde of lank oorlede voorouer of ander persone, kan ons getroos staan omdat ons glo Hy lewe en almal wat ons “vooruitgegaan” saam met Hom.

In die SP Engelbrecht-museum is drie grafstene van Voortrekkermans. Die steen van Pieter Daniel Jacobs (1780-1845) van Heidelbergdistrik is 95 x 46 x 4 cm. Ongelukkig is baie kantstukke afgebreek. Letters in Nederlands is 2 cm hoog. Toe ’n nuwe grafsteen in 1983 opgerig is, het hierdie steen sy weg gevind na die Kerkmuseum. Willem Cornelis Janse van Rensburg (1818-1865), oudpresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek (1862-1864), se steen is 140 x 75 x 10,5 cm met letters 23 mm hoog. Hy en sy eggenote is op sy plaas in die Rustenburgdistrik begrawe en later in 1974 saam in die helde-akker van die eerste Pretoria-begraafplaas, Kerkstraat-Wes, herbegrawe. Hierdie museum-begraafplaas word tans netjies gehou en bewaak. Derhalwe kan besoekers gerus daar besoek aflê. Versiering van bogenoemde stene lê hoofsaaklik in die sierskrif en die grootte en afwerking van die steen. Die Van Rensburgsteen vertoon heelbo ’n diagonale insnyding en twee smal kolomme weerskante van die skrif.

Natuurlike klip is gebruik om die gedenkstene te vervaardig – donker grysblou en donker rooibruin leiklip en sandsteen. Blootstelling aan die natuurelemente soos groot temperatuurskommelings verweer hierdie stene – anders as marmer en graniet. Daarom is bewaring indien moontlik onderdak aan te bevele soos in die geval by ’n museum. Die meeste begraafplase is ongelukkig vandag nie meer plekke van eerbied en respek, en les bes bewaring nie. Vandalisme lei tot ’n tragiese vernietiging van hierdie unieke kultuurerfenis. Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika het ’n begraafplaasprojek met ’n landwye poging om alle grafte af te neem om biografiese inligting en daarmee saam volksgrafkuns digitaal te bewaar. Gaan kyk by graves-at-eggsa.org. Een van hul wenke om die ou letters en prente beter te lees, is om met ’n skoon verfkwassie koekmeel in te vryf. Dit beskadig nie die historiese erfenis nie en werk uitstekend.

Die derde steen is van Frans Abraham Booysen (1803-1887) van Vlakfontein, Bronkhorstspruitdistrik. 72 cm hoog by laagste vlak van pilaar voor; 78 cm hoog agter by hoogste punt van pilaar; 42 cm x 24,5 cm. Die reliëf aan die voorkant staan 1 cm uit. Kleinletters 30 mm; hoofletters 50 mm hoog.Die Booysensteen (sien foto) is ’n standsteenblok met inskripsies op al vier sye. Heelbo is ’n gebroke pilaar. Dit beteken dat ’n lewe afgebreek is; dat die familiehoof, ’n steunpilaar van krag, gesterf het. ’n Pilaar is ook die verbinding tussen hemel en aarde, en só getuig dit van die gebrokenheid van ons aardse bestaan. Ons sien ’n engel met gesig en vlerk. ’n Vredesengel wat nie ’n swaard dra nie – die oorledene sterf byvoorbeeld nie gewelddadig nie. Die engel word omsirkel met ’n lourierkrans – ’n simbool van geloofsoorwinning en eerbetoon. Die immergroen lourier roep: ewige lewe! Die maan vertel van tydsverloop in die lewensiklus: dood, hergeboorte (bekering) en ewige lewe. Die vyf blaartjies van die vier rosies dui op die vyf wonde van Christus aan die kruis. Kruise is deur ons Protestantse voorouers as Rooms beskou en is daarom uiters skaars op ou stene. Die verdorde of gebroke roos verwys meestal na ons verganklike verwelking. En dan staan daar op die agterkant: Waar liefde is / is vrede / Waar vrede is / woont God.

Gaan lees ’n bietjie in hierdie opstandingsdae die prentjies op jul gemeente se gedenkmuur. Gaan stap deur ’n veilige begraafplaas. Elke steen is soos ’n kunswerk. Moenie met ’n begrafnisgesig die besoek bring nie. Grafsteenkuns ontlok verwondering. Moenie ’n grafsteen sien as ’n kennisgewingbord wat die einde van iemand se pad aandui nie; beskou dit eerder as ’n gedenkplaat wat op die oorgang wys. Ons graf is mos nie ons laaste bestemming nie. Toe ek die eerste keer, nadat ek geleer het van grafkuns, grafstene “lees”, was dit ’n ongelooflike ervaring!

(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap