’n Oud-kapelaankollega van my het eenmaal oor kerklike leierskap gesê dat daar altyd mense agter jou is. Die probleem, het hy gesê, is net dat jy nie altyd weet of hulle jou volg of jaag nie…

Oor die laaste ses jaar dat ek as die redakteur van Die Hervormer gedien het, het ek besef dat dit ook die geval met die redakteur van ’n kerklike publikasie is. Telkens moes ek by kollegas hoor dat “niemand” Die Hervormer lees nie, dat ons nie aktuele artikels plaas nie, en dat die gedrukte weergawe ’n dinosourus is wat in die verlede hoort en deur ’n elektroniese weergawe vervang moet word. Dan was daar mense wat kwaad was omdat die redaksie besluit het om nie hul briewe of bydraes te publiseer nie, en ander wat kwaad was omdat ons wel iets gepubliseer het.

Soms twyfel ’n mens maar en wonder jy hoeveel van hierdie aanklagte waar is en hoeveel nie.

Dan gebeur iets soos op die pas afgelope Algemene Kerkvergadering waar verskeie mense tydens tee- en etenstye na my gekom het en kom dankie sê het vir ’n goeie publikasie wat getrou maandeliks na hul gemeentes gestuur word. Op die laaste dag van die AKV is ek bewoë gelaat toe ’n onbekende ouderling my hand gevat het en my met trane in sy oë bedank het vir die laaste ses jaar se uitgawes van Die Hervormer.

Dit is op sulke oomblikke dat ’n mens vergeet van die lang ure en nagte wat jy wakker gelê het. Dit is op sulke oomblikke dat jy besef dat Die Hervormer nog op die regte pad is en dat ’n mens, ten spyte van ander se menings en jou eie twyfel, tog goeie werk gedoen het. Dit is op sulke oomblikke dat ’n mens weer besef dat wat jy vir die Heer van die kerk doen, altyd ’n voorreg is. En wat hierdie voorreg selfs nog meer spesiaal maak, is wanneer jy dit saam met ’n ongelooflik bekwame en professionele span kan doen.

Ek het eenmaal gelees dat Ronald Reagan, oudpresident van die VSA, besef het dat hy nie oor genoeg ondervinding beskik om die land alleen te regeer nie en dat hy hom toe met die beste moontlike kundiges omring het. Hierdie feit, reken kenners, is die rede hoekom hy ’n suksesvolle president kon wees.

Toe ek ses jaar gelede as redakteur van Die Hervormer aangewys is, het ek besef dat ek op my eie nie hierdie reusetaak suksesvol kon doen nie. Gelukkig was ek omring deur die beste moontlike kundiges waarvan enige redakteur kan droom. In die eerste plek het Tessa Oppermann, produksiebestuurder, my lewe maklik gemaak met haar uiters professionele manier van werk. Oor 15 jaar se saamwerk as redaksielede van Die Hervormer het ons ’n spesiale werksverhouding ontwikkel en goeie vriende geword.

Dan die twee subredakteurs, ds Etienne Fourie en dr Johan van Staden. Hul wysheid en harde werk was van onskatbare waarde vir die sukses van Die Hervormer. Verder is dit die harde werk van Hugo van Niekerk wat maak dat die publikasie so goed lyk. Dan ook dr Wouter van Wyk wie se leiding en insigte en vriendskap vir my as redakteur baie beteken het.

Verder was daar oor die ses jaar verskeie ander mense wat ook in die redaksie gedien het en vir wie ek die wêreldse respek het. Ek was ook gelukkig om van die beste redakteurs wat Die Hervormer ooit gehad het, te kon leer voor ek die opdrag gekry het.

Seker een van die grootste uitdagings in hierdie ses jaar was die inperkings van 2020. Skielik is ons gedwing om anders te dink, anders te werk. Die redaksie was dit eens dat Die Hervormer nie as gevolg van die inperkings gestaak sou word nie. Ons het ’n klompie uitgawes elektronies uitgegee en so verseker dat Die Hervormer steeds maandeliks by ons lidmate uitkom. Tydens die inperking was dit ook vir die redaksie belangrik om hoop te bring in ’n tyd waarin mense onseker was en deur baie moeilike omstandighede gegaan het. Watter voorreg om ook in daardie tyd betrokke te kon wees by Die Hervormer.

As redakteur het ek sekere hoogtepunte beleef wat vir my uitstaan. Ses jaar gelede het ons weer Die Hervormer in koerantformaat begin uitgee, en dit is iets waarop ek baie trots is. Dan was daar die beriggewing oor die 100-jarige bestaan van die Teologiese Fakulteit wat in woord en beeld in Die Hervormer vasgevang is. So kan ek ook baie ander hoogtepunte, trotse oomblikke, uitlig.

My saamloop van 15 jaar met hierdie ongelooflike publikasie het nou tot ’n einde gekom. Ek weet egter dat Die Hervormer wat al in Jaargang 115 is, nog ’n toekoms het. Dit laat ’n mens maar klein voel as jy besef hoe oud hierdie publikasie is.

Ek weet egter dat die nuwe redaksie Die Hervormer tot nog hoër hoogtes gaan neem en dat ons in die Hervormde Kerk nog baie lank die voorreg gaan hê om maandeliks hierdie besondere publikasie te kan ontvang.

My dank aan elke medewerker wat artikels gelewer het. Vir dié wat die verspreiding moontlik gemaak het. Vir elke predikant wat Die Hervormer met entoesiasme aan jul gemeentes versprei het. Vir elke lidmaat wat getrou die Kerk se amptelike mondstuk lees.

Verder ’n woord van dank aan my liewe vrou en kinders wat my op hierdie reis ondersteun het. En die grootste dank aan my Hemelse Vader, wat hierdie werk aan my toevertrou het.

Groete!

Share via
Copy link
Powered by Social Snap