Ek en my gesin het onlangs in die Noordelike Drakensberge naby Clarens vakansie gehou. Clarens is vernoem na die dorpie Clarens in Switserland.

Clarens in Switserland is waar president Paul Kruger die laaste jare van sy lewe deurgebring het. Sy huis daar is op die oomblik in die mark vir R214 miljoen. Nadat hy oorlede is op 14 Julie 1904, is sy oorskot na Suid-Afrika gebring. Hy is op 16 Desember 1904 in die heldeakker in Pretoria begrawe.

Clarens met sy grondpaaie en sandsteenhuise is in 1912 gestig, tot eer van president Paul Kruger. Die pad van Clarens na Golden Gate lewer ’n pragtige klein begraafplaas op. Hierdie begraafplaas van hoofsaaklik die Van Reenen-familie is ook die laaste rusplek van die laaste eienaars van die Golden Gate-plaas. Die begraafplaas is ’n klein maar waardevolle stilhouplek vir mense wat hou van ’n bietjie geskiedenis.

In hierdie begraafplaas is die mooi verhaal van twee jongmense opgesluit. Die grafte van Valerie Wilcocks (22) en Johan Bestendig de la Harpe (21) is daar. Dié twee jongmense het op mekaar verlief geraak. Ongelukkig het die Wilcocks- en De la Harpe-familie glad nie oor die weg gekom nie, en die twee jong mense is verbied om mekaar te sien. Daar was ’n jare lange vete tussen die twee families. Dit klink soos ’n Afrikaanse Romeo and Juliet.

Valerie en Johan het albei uit gesiene families gekom.

Valerie Wilcocks se pa was  Carl Theodorus Muller Wilcocks, ’n Boereoorlog-kommandant. Hy het gewoon in Fauresmith. Op 22 Maart 1900 is hy in Jagersfontein gevang, en toe na die krygsgevangenekamp Diyatalawa in Ceylon gestuur tot aan die einde van die oorlog. Ten tyde van sy dood was hy die administrateur (1929-1936) van die Oranje-Vrystaat. Hy was ook een van die eerste direkteure van Sanlam in 1918 en tot met sy dood visevoorsitter. Valerie se ma was Hester Aletta (van den Berg) Wilcocks; sy is in 1917 oorlede.

Johan Bestendig de la Harpe was die seun van Percival (bekend as Percy) de La Harpe wat op 16 Mei 1875 in Humansdorp in die Kaap gebore is. Hy is oorlede op 6 April 1957 te Lusthof in Fouriesburg, Vrystaat. Sy ma was Lily Johanna van Reenen, gebore op 17 Junie 1876 op Ladybrand. Sy is op 20 Februarie 1965 te Golden Gate in die Vrystaat oorlede. Die egpaar het die omgewing “Goue Hek” genoem na aanleiding van die goue son op die berge weerskante van hul plaas. Vandaar die naam “Golden Gate”.

Johan se oupa aan vaderskant was Johan Bestendig, wat in die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 geveg het. Hy is in Fouriesburg op die ouderdom van 56 gevang. Hy het drie plase besit, naamlik Blackwood en Lusthof in die Bethlehem-distrik, en die groot plaas Caledonspoort in die Ficksburg-distrik.

As gevolg van die vete tussen die families het die twee jongmense in die berge met hul perde gaan ry en dan op ’n geheime plek ontmoet. Johan se perd se naam was Moskou.

Op 18 Desember 1932 het hulle weer in die berge gery om tyd saam deur te bring. Die vorige dag kon hulle mekaar nie sien nie, omdat Johan sy 21ste verjaardag saam met sy familie gevier het. Op 18 Desember het daar ’n donderstorm opgesteek terwyl hulle in die berge was. ’n Weerligstraal het hulle getref, en albei jongmense, asook Moskou, is doodgeslaan op Mount Aux Sources.

Daar is ’n ysterplaat opgerig op die presiese plek waar hulle en Moskou dood is. Die staproete lei na die kettingleer wat na die bokant van Mount Aux Sources gaan.

Hierdie tragiese gebeure het daartoe gelei dat die twee strydende families vrede met mekaar gemaak het. Valerie Wilcocks en Johan Bestendig de la Harpe is langs mekaar in die begraafplaas begrawe.

Hierdie verhaal laat my daaraan dink dat ’n mens vrede moet maak met jou naaste voordat dit te laat is. Die weerligstraal van die lewe kan ons ook enige dag tref, en dan is daar nie meer tyd om vrede te maak nie. Ons kan maar net weer kennis neem van Jesus se woorde in Matteus 5: 23 en 24: As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

 *** Met dank aan ds Carel Johann de Bruin van die SP Engelbrecht-museum vir sy insette.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap