Britse argeoloë het naby die dorp Bēt Sjemesj ’n groot grot ontdek waarin hulle tekens gekry het dat nekromansie daar beoefen is. Nekromansie is ’n begrip wat betrekking het op die raadpleging of oproep van die geeste van dooies.
Bēt Sjemesj is in ’n heuwelagtige gebied 30 kilometer suid van Jerusalem geleë. Die grot waarin tekens van hierdie praktyk gekry is, het ’n lang geskiedenis wat strek van die Bronstyd tot in die Bisantynse tyd en is bekend as die Te’ōmimgrot.
Die bygeloof oor dooies
Die bygeloof dat die geeste van dooies uit die dood gewek en geraadpleeg kan word, kom al van ver uit die verlede. In die antieke en klassieke tyd het mense slaap, drome en die dood as mediums gesien waardeur die toekoms vir hulle uitgelê kon word. In een van die ou Mesopotamiese formules wat in ’n inskripsie gekry is en gebruik is om die geeste van dooies op te roep, lui die teks soos volg:
Stof van die onderwêreld, mag dit uit die donkerte vir my ’n gees bring! Mag dit die lewe in die dooie man se ledemate terugbring! Ek vra jou, o besondere skedel van skedels: Mag dié een wat in hierdie skedel is, my antwoord!
Nie almal in die antieke en klassieke tyd was behep met die opwekking van die geeste van dooies nie. Die meeste mense het gevoel dat die dooies met rus gelaat moes word.
Die Romeine het ’n groot bygeloof oor die teenwoordigheid van dooies gehad. So word byvoorbeeld vertel dat Nero ’n neurotiese obsessie oor die teenwoordigheid van geeste gehad het. Hy het veral geteister gevoel deur die gees van sy ma, Agrippina, wat hy laat vermoor het.


Die Bybel oor nekromansie
In die Bybel is daar 28 verse wat oor swart magie, toordery en die oproep van dooie mense se geeste handel. Die Joodse samelewings was oor die eeue heen streng gekant teen die beoefening van sulke praktyke.
In die wetsliteratuur het die Levitiese wet die raadpleging van waarsêergeeste en die oproep van afgestorwenes ten strengste verbied (Lev 19: 31; 20: 6). Die bepaling gaan selfs verder en lees dat mense wat sulke dinge doen, beslis moet sterf (Lev 20: 27).
In die wette van Deuteronomium staan soortgelyke gebooie geskryf (Deut 18: 11). Selfs die profeet Jesaja is ernstig afwysend teenoor sulke praktyke (Jes 8: 19; 19: 3; 29: 4).
Die duidelikste voorbeeld van teenstand teen die oproep en raadpleging van die geeste van dooies, kom uit die verhaal van die vrou van En-Dor wat by haar huis ’n waarsêerput gehad het waar sy die geeste van dooies opgeroep het (1 Sam 28: 7). Saul het haar genader om die gees van die profeet Samuel op te roep. In die Hebreeuse teks word sy ’n boa (ōf) genoem, wat die uitdrukking is vir iemand wat as medium optree om voorspellings te maak of dooies se geeste op te roep. Dié woord is ’n leenwoord wat uit die Hetitiese woordeskat kom en onder die Filistyne gebruik is.
Volgens die ou tekste het die mense wat daarop geroem het dat hulle oor die vermoë beskik om die geeste van afgestorwenes op te roep, ’n put by die huis gehad waaruit die dooies se geeste dan geroep word. Dié put is die “put van die geeste” genoem, wat in die Afrikaanse vertalings van die Bybel as ’n waarsêerput vertaal word. Die geeste wat uit die put sou verskyn, sou dan soos kwetterende voëls klink, maar wat net deur die medium vir die dooies gehoor of verstaan kon word. In die Egiptiese tekste word dié geeste selfs in menslike gedaantes, maar met die koppe van voëls, beskryf.
Wanneer die vrou van En-Dor vir Samuel uit die put sien opkom, gil sy omdat sy nie regtig so iets verwag het nie. Op Saul se versoek oor wat sy sien, verklaar sy dat sy ’n ou man met ’n mantel uit die stof (grond) sien opkom (1 Sam 28: 13).
Dié ervaring klink soos die Sumeriese en Babiloniese formules wat met die oproep van dooies se geeste gebruik word. Die Hebreeuse verhaal maak dit duidelik dat wat Saul gevra en die vrou van En-Dor gedoen het, verkeerd is. Die boodskap wat die gees van Samuel aan Saul gee, is ook nie goeie nuus nie. Of dié vrou Israelities was en of sy ’n Filistyn was, word nie gesê nie; wat wél gesê word, is dat Saul en sy seuns hul dood gaan ontmoet.
Die ontdekking in die Te’ōmimgrot
Die ontdekking wat in die Te’ōmimgrot gemaak is, bevestig dat die grot in ’n stadium gebruik is vir die praktyk om die geeste van afgestorwenes op te roep. Wanneer ’n mens by die grot ingaan, beland jy onmiddellik in ’n groot portaal [sien foto van die Te’ōmimgrot se breë ingang © Boaz Zissu, Haaretz]. Vandaar lei ’n gang onder die grond dieper in die heuwel in na ’n verskeidenheid ander verskanste kamers. Dit is in hierdie kamers dat argeoloë op tekens afgekom het dat die grot gebruik is vir die oproep van dooies se geeste.
In sommige van die verskanste kamers is enkele pylpunte uit die Laat Bronstyd gekry, asook 120 Romeinse olielampies en hake wat in die rots ingeslaan is waaraan die lampies gehang is. Verder is erdekruike gekry, ’n klompie silwer en goue muntstukke wat vlugtelinge van die Bar Kochba-opstande met hulle saamgedra het, enkele Romeinse dolke, asook drie kraniums (die boonste deel van ’n mens se skedel) [sien foto’s van sommige van die 120 Romeinse olielampies en ’n mens se kranium wat in die Te’ōmimgrot gevind is © Boaz Zissu, Haaretz]. Teen die wande van die kamers is boonop ’n aantal sketse en inskripsies uitgekrap wat verder bevestig dat dooies se geeste daar opgeroep is.
In die beoefening van nekromansie, wanneer die geeste van dooies opgeroep word, het die kranium ’n groot rol gespeel om die gees van die dooie op te roep. Die wapens is ook bykomend in ’n ritueel gebruik om die verskyning van demone af te weer sodat net die verlangde gees sy verskyning kon maak.
Die Te’ōmimgrot is oorspronklik deur Israelitiese gemeenskappe gebruik. Gedurende die Bar Kochba-opstand (132-136 nC) het die Joodse rebelle daar geskuil en hul aanvalle op die Romeinse soldate geloods. Nadat die Romeinse soldate die grot by die rebelle afgeneem het, het hulle die grot vir hul eie praktyke gebruik, onder andere om die geeste van dooies op te roep.
Agter, diep in die grot, kom ook ’n lopende fontein voor. Dié fontein is by die plaaslike gemeenskap bekend as Die Moeder met die Tweeling. Die fontein het sy naam uit ’n volkslegende ontvang. Volgens hierdie legende het ’n vrou wat kinderloos was van die water van die fontein gedrink en daarna met ’n tweeling swanger geraak. Die fontein is saam met die kraniums, lampies, kruike en dolke gebruik om deel te vorm van ’n klein heiligdom of orakel wat die Romeinse soldate daar ingerig het. Aan die goed weggesteekte area in die grot is dit volgens die argeoloë duidelik dat die oproep en raadpleging van die dooies daar in groot geheimhouding plaasgevind het.
Hoewel nekromansie wyd veroordeel is, selfs onder die Romeine, is die praktyk nogtans beoefen. Die Romeinse keisers Nero en Hadrianus was groot aanhangers van die bygeloof dat die geeste van dooies opgeroep kon word. Een uitvloeisel daarvan is byvoorbeeld die bestudering van lignomansie, of lampadomansie. Dit is glo die vermoë om ’n boodskap van die geeste, of van demone, in die beweging van die lampies se vlamme en die sirkel van die rook te kan verstaan.
Die raadpleging van dooies word in die Bybel ernstig veroordeel. Van Saul word selfs gesê dat die Here hom laat sterf het, omdat hy by die gees van ’n dooie navraag gedoen en dié geraadpleeg het (1 Kron. 10: 13, AFR2020).
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
