Dr Robert Jones het pas ’n tweede PhD-graad aan die Noordwes-Universiteit behaal. Die onderwerp van sy proefskrif was Hermeneutiek van Kerkreg toegepas op die Kerkorde van die NHKA. Hierdie artikel is daarop gebaseer. Die tema van sy eerste PhD-graad, wat hy in 2010 behaal het, was Die vorming van ’n eietydse ampsbegrip: Jesus se oproep tot dissipelskap.
Kerkreg word beoefen in gehoorsaamheid aan die Hoof van die kerk, Jesus Christus. Dit impliseer ’n gehoorsaamheid aan die Woord van God, as onontbeerlik. Om hierdie rede kan dit dus nie anders nie as dat daar ’n voortdurende heen- en weer-beweging plaasvind tussen die Skrif en die kerkorde, omdat die kerk ook bely dat die Woord van God die bron is waardeur God Homself aan die mens bekendmaak, en daarom ook rigting aan die kerk gee. Die heen- en weer-beweging tussen die Skrif en kerkorde loop natuurlik deur die kerklike belydenis.
’n Kerkorde is daarom ’n unieke dokument wat gelees word teen ’n bepaalde Bybelse en teologiese agtergrond. ’n Kerkorde word anders geïnterpreteer as ’n wet- of reëlboek. Die bedoeling van ’n kerkorde is nie juridies van aard nie, maar teologies, en wel in dié sin dat dit die orde in die kerk reël in gehoorsaamheid aan die Woord van God. Daarom is dit noodsaaklik dat ’n kerkorde vanuit ’n bepaalde hermeneutiek (spesifieke verstaan van die kerkreg) benader word. Indien dit nie die geval is nie, bestaan die moontlikheid dat ’n kerkorde verkeerd geïnterpreteer en aangewend word.
So ’n verkeerde interpretasie en aanwending van ’n kerkorde kan die kerk onmeetlike skade berokken omdat die kerk se verstaan van homself daaronder sal lei. Daarom is dit deurgaans belangrik om in gedagte te hou dat die kerkorde ’n teologiese dokument is wat afgelei is uit die Skrif en kerklike belydenis, sonder om daaraan dieselfde gesag te verleen as wat aan die Skrif (norma normans) en die belydenis (normata normata) toegeken word. ’n Kerkorde bly ’n produk van menslike handeling wat in goeie geloof tot stand gekom het op grond van ’n bepaalde verstaan van die Skrif en belydenis.
Die kerkorde is op die Skrif gebaseer. Daarom word na die Kerkorde van die NHKA verwys as ’n Skriftuurlike Kerkorde.
Skriftuurlike kerkorde
Vir die NHKA om na sy Kerkorde te verwys as skriftuurlik, beteken dat die praktiese implementering van die orde in die kerk in verhouding tot die Skrif behoort te wees, oftewel afgelei word uit die Skrif. Dit beteken egter nié dat die Kerkorde direk uit die Skrif afgelei is in dié sin dat die Skrif bepaal hoe die orde van die erediens behoort te verloop, hoeveel kerkraads- en gemeentevergaderings per jaar gehou word, of hoe om met kerklike eiendom te handel nie – glad nie!
Die begrip Skriftuurlike kerkorde dui daarop dat die Skrif die kerkorde voorafgaan en dat ’n kerkorde so saamgestel behoort te wees dat hy hom enige tyd op die Skrif kan beroep. Skriftuurlike kerkorde gaan dus daaroor om die Christusregering, oftewel die beginsel dat Christus die Hoof van die kerk is, te laat realiseer. Dit beteken dat die opdrag van Christus aan sy kerk, soos gevind in die Skrif, ook in die kerkorde weerspieël word.
Kerkorde van die NHKA
Die verband wat bestaan tussen die Skrif, belydenis en kerklike orde soos verwoord in ’n Skriftuurlike kerkorde en bydra tot die unieke interpretasie en gebruik daarvan, het die volgende besondere betekenis vir die verstaan van kerkordelike reëlings:
Jesus Christus is die Hoof van die kerk
Die NHKA het gekies om die presbiteriaal-sinodale kerkbegrip te handhaaf. Dit beteken dat die Kerk bely Jesus Christus is die Hoof van die kerk. Hy regeer sy kerk direk deur sy Woord en Gees en indirek deur die ampte wat in vergaderings byeenkom. Die beginsel dat Jesus Christus die Hoof van die kerk is, dien dus vir die NHKA as vertrekpunt in sy verstaan van die regering van die kerk omdat die wyse waarop Christus self sy kerk regeer, gegrond is in die belydenis dat Hy die Hoof van die kerk is.
Jesus se Hoofskap oor die kerk dui nie net daarop dat ampsdraers in sy diens staan nie, maar elke gelowige wat deel uitmaak van sy kerk.
Met Christus as Hoof van die kerk word die kerk ook geleer om diensbaar te wees teenoor die wêreld soos wat Jesus kom leer het. Die kerkorde moet hierdie diensbaarheid van Christus weerspieël. Die feit dat Christus as Hoof self sy kerk regeer en in stand hou, hou ook die troos in dat Hy sy kerk in stand sal hou tot die wederkoms.
Kerkregering teenoor kerkbestuur
Die NHKA maak dit duidelik in sy Kerkorde in die aanhef tot Ordereël 4 dat die kerk regeer word. Die neiging na kerklike bestuur in plaas van regering het reeds voorgekom in die 19de eeu in Nederland. Deur kerklike bestuur toe te pas in plaas daarvan om die Christusregering van die kerk toe te laat, het die kerk in die geskiedenis vir homself verskeie probleme op die hals gehaal.
Wanneer die regering van die kerk vervang word met kerklike bestuur volgens hedendaagse bestuursbeginsels, sal dit die kerk van sy uniekheid en eiesoortigheid ontneem. Die kerk kan nie gelyk gestel word aan ’n wêreldlike instelling nie. Indien dit gebeur, word die belydenis wat die kerkorde eggo, verander in ’n beleid waarvolgens sy lede moet leef. So word die moontlikheid ook geskep dat sekere rolspelers binne die instelling bestuursposisies beklee en nie meer dienaars is wat die saak van die kerk dien nie. Die bestuur van die kerk dra dus die moontlikheid dat ook die amp van sy dienskarakter ontneem kan word. Op grond van bestuursposisies wat beklee word en kan lei tot ’n najaag van mag en gesag, kan ’n hiërargie ontstaan, iets waarvoor daar in die kerk van Christus nie plek is nie.
Die handhawing van die kerklike orde vind nie plaas op grond van die toepassing van die regte bestuursbeginsels nie, maar eerder op grond van die gehoorsame luister na die Skrif.
Stemming tydens kerklike vergaderings – noodmaatreël of demokrasie?
Stemming tydens kerklike vergaderings is ’n realiteit. Daar kan dus tereg gevra word of die kerk nie in hierdie verband trekke toon van ’n demokrasie nie. Na regte behoort daar tydens kerklike vergaderings glad nie gestem te word nie omdat die riglyne vir die kerk se werk neergelê is in die Skrif. Die vergadering word immers geopen by wyse van Skriflesing en gebed waartydens die leiding van die Heilige Gees afgebid word. Met die Skrif as norm behoort daar dus eenstemmigheid te wees tydens kerklike vergaderings. Tóg is dit nie altyd die geval nie en sal daar altyd ’n verskil van opinie wees. Daarom word gestem tydens kerklike vergaderings.
Dit beteken egter nié dat die waarheid van die Skrif en leiding wat van die Heilige Gees afgebid word, deur ’n meerderheid van stem bepaal word nie. Die nodigheid om soms ’n saak tot stemming te bring, dui juis op die tekortkominge en feilbaarheid van hulle wat die kerk uitmaak.
Dit is dikwels vir afgevaardigdes na meerdere vergaderings belangrik om sitting te neem mét stemreg terwyl daar ’n belangriker faset is in die proses van kerklike besluitneming as die uitbring van die stem, naamlik ’n gelowige bydrae tot die debat wat die stemming voorafgaan. Dit is ten laaste hierdie gelowige bydraes tot die debat wat uiteindelik die uitslag van die stemming behoort te bepaal. Debatvoering tydens die proses van besluitneming is uiters belangrik. Daarom kan geargumenteer word dat spreekreg tydens kerklike vergaderings baie belangriker is as stemreg.
Die uitslag van ’n stemming moet ook nie gesien word as ’n oorwinning wat behaal is tussen twee teenoorstaande voorstelle nie, maar eerder as ’n (nood)maatreël waardeur die Christusregering van die kerk gehandhaaf word.
Dit kan nie anders nie dat die woorde van die Nederlandse teoloog Noordmans neerslag vind in die wyse waarop óók die NHKA omgaan met sy Kerkorde: Kerklike denke is ’n voorwaarde vir die verstaan en gebruik van ’n kerkorde!
(Dr Robert Jones is leraar in Villieria en Derdepoort)