Tessa Oppermann

Hoe het dit skielik laat geword?

Die oggend was so lank en stil,

die middag ruim en warm en gul.

Die afdraand van die dag is kil.

Hoe het dit skielik laat geword?

(Olga Kirsch)

Emeritaat, aftrede, afskaling – is dit noodwendig ’n kille afdraand, of lui dit ’n opwindende nuwe avontuur in?

Dít hang vir seker af van verskeie faktore: Was die afskaling uit vrye keuse, omdat ’n vooraf bepaalde ouderdom bereik is, of gedwonge? Is die persoon nog sterk en gesond genoeg om die nuwe fase met entoesiasme te betree? En wat wag aan die anderkant van die afsluitingsmoment?

Rondom hierdie groot oorgang in mense se lewens is daar baie kwinkslae en grappies. William Beveridge het byvoorbeeld gesê: Sommige mense word 65 gebore en is altyd reg om af te tree. Sommige bly 21 tot hulle 90 is.

En op Winston Churchill se 80ste verjaardag het ’n fotograaf grappenderwys opgemerk: Ek sal op jou 100ste verjaardag weer ’n foto neem. Churchill het geantwoord: Ek sien geen rede waarom dit nie kan gebeur nie, jong man, jy lyk vir my gesond genoeg!

Die afgelope jaar het ’n groot getal predikante van die NHKA die tuig neergelê – sommige om behoorlik tot rus te kom, ander met een voet steeds in die diens van ’n gemeente. Ons weet ook dat van ons predikante soms sommer nóg ’n doktorsgraad aanpak na emeritaataanvaarding!

Ds Thomas Dreyer (Durban) som die worsteling van skielike uitdienstreding én die uitsien na nuwe dinge goed op: “Aan die einde van Moses se 40 jaar waarin hy die volk deur die woestyn gelei het tot by die beloofde land, kom die Here na hom toe en sê dat hy die beloofde land kan sien, maar nie daar sal ingaan nie. Josua sal in sy plek die volk verder lei. Hierdie gedagte het my bygebly toe Maart 2018 aanbreek. ’n Mens het gevoel jy wil nog eers dit en wil nog meer, maar as die Here vir Moses kon sê iemand anders sal oorneem, dan moes hy daarin berusting vind. Na my 40 jaar in die bediening – en in dieselfde gemeente – het dit tyd geword dat ’n Josua moes oorneem.

Aanvanklik het ’n mens geworstel met vrae. Wat nou? Maar gelukkig is ons twee ywerige kampeerders, en ons lewensdroom om vir ’n onbepaalde tyd met die karavaan te reis, het aangebreek. Dit was ’n verrykende ervaring wat ons kan aanbeveel!

Gou het ons besef, emeritaat is nie stilsitdae nie. Ons het besef die Here het ons hande los gemaak om weer elders in die Kerk en gemeenskap te dien. Ons is dankbaar om die Kerk op ’n ander manier te leer ken – van Bela-Bela, Brits en Kathu (en ds Hans Britz), Upington tot in die Kaap.

Na agt maande is ons (tydelik) weer tuis. Daar is egter nog baie plekke in die land wat ons graag sal wil besoek. Ons is tans bevoorreg om weer tydelik betrokke te wees by ‘n vakante gemeente naby Durban.”

Ds John Putter (Drie Riviere) sê emeritaataanvaarding is ’n dag wat jy weet eendag gaan aanbreek, maar as daardie dag kom, kan jy dit eintlik nie glo nie, en kan ’n groot deel van die gemeente dit ook nie glo nie. “As jy 34 jaar in ’n gemeente werksaam was, soos ek en my vrou, Esther, is die afsnypunt van emeritaat nie maklik nie. Daar is soveel dinge wat langs die pad gebeur het – dinge wat jy al vergeet het, maar dinge wat jy baie gou weer onthou wanneer jy begin met die inpakkery van jou studeerkamer, en jy die hordes uitnodigings, gelukwensings, dankiesêbriefies, begrafnisbriewe, gemeentenuusblaaie en jaarprogramme weer sien. Dit is wanneer jy hierdie dinge weer onder oë kry, dat jy besef hoe ’n groot impak jy en jou vrou en gesin op vele mense gehad het, en hoe ’n groot impak hulle op jou lewe gehad het. Dan kom die besef by jou op: Watter voorreg om vir soveel jare in ’n wonderlike, gelukkige en opbouende verhouding soos hierdie te kon leef en werk!

Die lewe na emeritaat is vir seker heelwat stadiger en stiller as voorheen – iets waaraan jy gewoond moet raak. Die eerste en moeilikste is natuurlik om uit ’n groot huis in ’n kleiner huis in te trek, en ’n plek vir al jou jare se bymekaarmaakdinge te kry. Tog kry alles uiteindelik hul plek en begin dinge weer leefbaar lyk.

Baie dankie, Drie Riviere, dit was ’n groot voorreg om vir soveel jare in vrede en liefde die Heer se werk te kon doen. Ons sal vir ewig dankbaar wees daarvoor.”

Ds Arie Kuyper (Villieria) het aan die einde van Maart 2019 afgetree. “Om meer as 41 jaar ononderbroke predikant in die kerk van die Here te mag wees en vir die afgelope 30 jaar in een gemeente te kon dien, laat ’n groot gevoel van dankbaarheid in my hart teenoor die Heer van die kerk en duisende mense met wie ek ’n pad kon loop deur my bedieningstyd as predikant heen. Ek besef om so lank te kon dien, is net genade. Met my aftrede lê daar ’n nuwe fase voor waarin ek hoop dat ek steeds diensbaar kan bly, soos deur die Here bepaal.

Wat my sal bybly, is die lief en die leed wat ek kon deel met baie mense. ’n Mens word as predikant eintlik onlosmaaklik deel van soveel mense se binnekring van familie- en gesinslewe. Daar was talle geweldige vreugdemomente, maar ook baie hartseer wat jy saam met al die lidmate ervaar het. Tog sal die blywende emosie altyd wees: Die Here hou ons vas in voor- en teëspoed. Die Here is goed vir ons.

Ek is bekommerd oor die lewe van die kerk vorentoe. Ek weet daar lê groot uitdagings vir die kerk in die toekoms voor. My troos is dat die Here self sy kerk in stand sal hou. Daarom is die toekoms gewis en seker.  Ons moet bly volhard in die geloof en met hart en siel die Here bly dien, ongeag watter hindernisse jy op die pad mag teëkom. Die boodskappe wat ek vir so lank aan die mense in die Kerk kon oordra, sal nou ook steeds die boodskappe aan my eie adres wees: Vertrou op die Here en Hy sal voorsien.”

Ds Jan Kay (Vryheid/Utrecht) wil nog nie te veel sê nie: “My situasie is dat ek pas afgetree het (einde Januarie 2019). Ek bly egter nog vir ’n paar maande aan in Vryheid en Utrecht waar ek die verantwoordelikheid het om eredienste en vergaderings te lei. Ek het dus nog nie enige ervaring van aftrede nie, maar sien wel daarna uit!”

Natuurlik loop nie alle predikante se pad na aftrede dieselfde nie. Ds Johan Viljoen vertel sy verhaal: “Nadat ek 17 jaar lank in my vierde gemeente was, met 23 voltydse bedieningsjare agter die rug, is die standplaas van Gemeente Witbank skielik opgehef (hoe dit gebeur het, is ’n storie op sy eie). Dit het almal van ons erg geraak en veral vir my oudste seun, wat toe in 2000 in matriek was. Skielik kon hy nie meer universiteit toe gaan nie, want Pa was werkloos. Vir ’n jaar en ’n half het ek rondgeval, rekenaarkursusse gedoen, webwerwe probeer verkoop, maar uiteindelik aan die einde van 2001 saam met my buurman begin werk in ’n finansiëledienstemaatskappy. Hy was vroeër by Sanlam en besluit toe om onafhanklik te begin werk. Saam het ons aspekte van die finansiële sakebedryf aangepak en ook weer gelos, onder andere ’n eiendomsmaatskappy en ’n korttermynversekeringsmaatskappy. Ons het baie dinge saam ondervind, maar uiteindelik besluit om eerder te fokus op beleggings, en voortvloeiend daaruit op aftrede en aftreefondsbestuur deur bepaalde onafhanklike batebestuursmaatskappye. Ek is steeds voltyds daarmee besig en voorsien glad nie dat ek gou sal ophou nie. Ek het nou reeds meer as 15 jaar se ondervinding in die bedryf.

Aangesien ek nie ’n pensioen van die Kerk ontvang nie (op 23 jaar diens kon ek nie pensioen ontvang nie en was ek verplig om uit die pensioenfonds te tree), moet ek steeds voltyds werk om die pot aan die kook te hou. Ek was twee jaar lank beroepbaar (sonder enige beroepe) voordat Gemeente Koornfontein, wat aanvanklik bestaan het uit 12 verskillende myndorpies tussen Witbank, Middelburg, Bethal en Kriel en wat weens mynbeleid drasties verminder het na net vier woongebiede, met net meer as 100 lidmate, my gevra het om hulle deeltyds te bearbei, vanaf 2002. Ek was by hulle betrokke vir ’n verdere 15 jaar, totdat die gemeente aan die einde van 2017 saamgesmelt het met Middelburg aangesien ons toe met ± 30 lidmate net nie meer die gemeente in stand kon hou nie.

Sedertdien preek ek gereeld hier in die ring van Middelburg en omliggende gebiede. Ek het verlede jaar byvoorbeeld steeds meer as 50 preke en oordenkings gehou in gemeentes en oor ons streeksradiodiens. Die emeritaat bring by my dus geensins enige verandering te weeg nie, en alles gaan maar net voort soos die afgelope paar jaar. Ek dink dat my siening van emeritaat of aftrede dus waarskynlik heelwat verskil van die meeste mense s’n.” 

Prof Natie van Wyk het reeds in September 2018 geëmeriteer, maar het daarna nog twee uitgawes van die Tydskrif vir Hervormde Teologie (THT) behartig, naamlik dié van Oktober 2018 en Desember 2018. Met laasgenoemde uitgawe het hy ook uitgetree as redakteur van dié tydskrif. In die voorwoord tot die heel eerste uitgawe, Januarie 2013, het die destydse voorsitter van die THT-redaksie en destydse voorsitter van die Kommissie van die AKV, dr Daan van Wyk (jr), soos volg geskryf: Die Kommissie van die AKV is saam met prof Natie van Wyk en sy redaksie opgewonde oor die moontlikhede wat die THT aan die Kerk bied. Daar is ongetwyfeld ’n baie groot behoefte aan spesifiek hierdie tipe navorsing en kommunikasie wat juis nou vir die Kerk so nodig is. Die Kerk behoort diep dankbaar te wees vir mense wat baie tyd en moeite doen en sonder vergoeding bereid is om hierdie arbeid te verrig. Ses jaar lank, vier uitgawes per jaar, het prof Van Wyk die insameling, versorging en kritiese beoordeling van artikels vir die THT met groot entoesiasme en nougesette aandag behartig, en so die droom van ’n populêr-wetenskaplike tydskrif vir die NHKA verwesenlik. Daar sal waarskynlik nog vele artikels en waarskynlik volledige publikasies van prof Natie van Wyk verskyn!

Proff Natie en Neltjie van Wyk en hul seun Gert tydens prof Natie se emeritaataanvaarding op Sondag 16 September 2018

Dr Kálmán Papp was sedert 2008 sekretaris in kerkverband by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA). Hy het reeds in April 2017 geëmeriteer, maar intussen aangebly by die BSA as deeltydse organiserende sekretaris. Aan die einde van Februarie vanjaar het hy finaal afgetree – maar hy gaan as preekhulp namens die BSA ’n aantal gemeentes en ringsvergaderings van die NHKA, Afrikaanse Protestantse Kerk en die Evangelies-Gereformeerde Kerk in die Wes-Kaap besoek. Dit is deel van ’n nuwe bedeling by die BSA om meer gereelde kontak met gemeentes (vyfjaarliks) en ringe (jaarliks) te bewerkstellig. Intussen is dr Papp en sy vrou, Leoné, wat pas as onderwyseres afgetree het, besig om hul aftreehuis in die Kaap gereed te kry!

Dr Kálmán en Leoné Papp – gereed vir die nuwe avontuur!

Prof Johan Buitendag, wat in November 2018 geëmeriteer het, het in Blitspos van 29 November 2018 verwys na Ferdinand Deist se boekie Oorstaptyd (1982), waarin die lewe voorgestel word as ’n treinreis, ’n reis tussen twee stede, waartussen daar geen direkte verbinding bestaan nie. As jy van die een stad na die ander wil gaan, moet jy dus een of meer keer oorklim. Hy skryf verder soos volg: ’n Predikant emeriteer op 65-jarige ouderdom. Dit geld ook vir dosente van die meeste Suid-Afrikaanse universiteite. Hierdie ingrypende omwenteling in my lewe het my hierdie November te beurt geval. Soos iemand dit iewers uitgedruk het, ons is almal slagoffers van ons eie geboortedatums, ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan.

Omdat die Universiteit goedgunstiglik aan my as Dekaan Sabbatsverlof toegestaan het voordat ek finaal uittree, kon ek sedert Maart my gedagtes laat gaan …

Ons lewe in ’n onverbiddelike en harde wêreld. Moet egter nie tou opgooi nie. Moenie net afklim by ’n stasie nie, maar klim oor. Voltooi jou trajek. Dit vra geloof in die rigting waarin die nuwe trein onderweg is. Glo in die sinvolheid van die bestemming van jou lewe.

Jy is ook nie alleen op hierdie reis nie. Eensaamheid is immers ’n selfweerspreking. Een en saam weerspreek mos mekaar! God kan vertrou word om deurgaans saam met jou te reis. Luister maar na Jesus aan die kruis: My God, my God, waarom het U My verlaat? Jesus is alleen, maar tog praat Hy mét God! Eensaamheid is vir die gelowige daarom altyd twee-saamheid!

God kan op hierdie roete vertrou word, al sluit dit stasies soos die eensaamheid van Getsemane en van Golgota in. Hy is die Begin, die Voortgang en die Voleinding. Die middelpunt van die Omtreklose Sirkel is altyd daar waar oorgeklim word.

Soms gryp siekte in, en moet ’n predikant met siekte-emeritaat gaan, soos ds Freddie Nortje (Bergsig) verlede jaar. Dit lyk of sy tweelingbroer, ds Ferdie Nortje (Outeniqua), dalk vanjaar dieselfde pad moet loop.

Ander kere kom aftrede onverwags op ’n predikant se pad, soos in die geval van dr Wian Kloppers, wat op 30 November verlede jaar gehoor het dat Konteks gestaak word en dat hy as redakteur met vervroegde emeritaat moet gaan. Maar dr Kloppers is ’n gevierde kunstenaar, en het ook al talle loodglasprojekte vir gemeentes deurgevoer. Hy is beslis nie iemand wat nou ledig gaan rondsit nie!

 

Dr Wian Kloppers saam met di Hannes van der Merwe en Leanie Oberholzer by van die loodglasvensters wat dr Kloppers vir Gemeente Pretoria-Oos ontwerp het

In die Maart 2018-uitgawe van Die Hervormer is genoem dat die Kommissie besorg is oor die langtermynrisiko wat dit vir die Kerk inhou wanneer ’n groot groep ouer predikante dalk op ’n gegewe tyd nie meer beskikbaar is om in die Kerk te werk nie. Die vraag is ook gevra waarom sommige predikante voortydig emeriteer. Dr Wouter van Wyk, sekretaris van die Kommissie van die AKV, het soos volg verduidelik: Die redelike groot groepe predikante wat in die 1970’s en 1980’s afgestudeer het, emeriteer nou. Dit is ’n natuurlike proses, en solank dit in proporsie met die Kerk se lidmaatprofiel gebeur, is dit nie kommerwekkend nie. Daar begin nietemin wel ’n tendens ontstaan dat predikante vroeër as ouderdom 65 emeriteer en daarna deur dieselfde gemeente gekontrakteer word om met dieselfde dienswerk voort te gaan. Die predikant ontvang dan emeritaat, maar ook ’n verminderde vergoeding van die gemeente. Hoewel dit in sommige gevalle ’n lewensaar vir sowel gemeente as emeritus bied, hou dit groot risiko vir albei in. Die predikant se pensioensituasie word op die lang duur baie nadelig geraak, terwyl die gemeente daarmee kan verval in blote instandhouding eerder as om die inspuiting van ’n nuwe predikant se inisiatief te ervaar.

Nogtans is dit verblydend dat ons gesoute leraars nog die geleentheid kry om in gemeentes te dien – hetsy as brugpredikante of as benoemdes. Vermaan Petrus ons nie immers só nie? As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien (1 Pet 4: 10).

(Tessa Oppermann is  produksiebestuurder by SENTIK)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap