Januarie 1960, en die matriekuitslae is uit. Nuwejaarswense is reeds vergete. Februarie begin die universiteit. Ek gaan ’n predikant word. Opgewonde. Uiters onseker en bang vir dit wat voorlê.

Februarie 1960, en my tasse is gepak. My universiteitsloopbaan gaan weldra begin.

Ds Stoffel Smit van Gemeente Koster het alles vir ons gereël. Hy gaan saam met my en my ouers na Pretoria om my in te skryf by die universiteit. Langs die pad stop ons by ’n tafeltjie om lekker padkos te eet. Geen gevaar om beroof te word nie.

Dit voel of Koster en Pretoria duisende kilometers van mekaar af is. Uiteindelik is ons so 10 uur daar. Vir ’n plaasjapie is die verkeer in Pretoria verskriklik. Die universteitsgeboue is majestueus, indrukwekkend, asemberowend.

Ons staan in lang rye om in te skryf. Dit voel of dit ure duur. Daarna ’n korter ry om die dekaan, prof Ben Engelbrecht, te ontmoet en sy handtekening te kry.

Ds Smit en my ouers gaan laai my af by Voortrekkerkoshuis op die hoek van Lynnwoodweg en Duncanstraat. Schalk Botha (later professor in Kerkgeskiedenis) ontvang ons namens die Huiskomitee. Ek word geplaas in Pandak kamer nommer 2.

’n Bietjie later kom daar nog meer eerstejaars aan. Van die eerstes wat ek ontmoet, is Theuns Snyman, Stoffel Badenhorst, Willem Vorster en Willem Botha. Die volgende dag sit ons saam in ons eerste klas by die universiteit. Ons groepie het besondere vriende geword.

Op die foto hierby is voor Willem Vorster (later professor in Nuwe Testament by Unisa) en Bieks Beukes. Agter is Theuns Snyman (later dominee in die Hervormde Kerk), Willem Botha (later hoof van Laerskool Mayville in Pretoria) en Stoffel Badenhorst (Hervormde predikant en lank voorsitter van die Kerk se Raad van Finansies).

Willem Vorster was later ’n uiters begaafde Nuwe Testamentikus. Hy het direk na sy BD ’n doseerpos by Unisa gekry. Hy is ongelukkig op ’n jeugdige ouderdom oorlede.

Willem Botha het na sy eerste jaar oorgeslaan na onderwys. Hy was vir baie jare hoof van Laerskool Mayville.

Theuns, Stoffel en ek het al die jare besondere vriende gebly. In Februarie 2015 is Petra, Stoffel se vrou, oorlede. Toe Stoffel in November 2016. In Desember 2016 is Theuns se vrou, Ina, oorlede. Verlede jaar is Willem Botha in ’n woonwa-ongeluk oorlede.

Net ek en Theuns het toe oorgebly. Ons vriendskapsbande het gebly. Generaal Ouderdom, Majoor Siekte en Korporaal Afstand het gemaak dat ons mekaar nie gereeld kon sien nie. Die moderne elektronika het egter gehelp dat ons nog tot pas voor sy onlangse dood met mekaar kon praat.

Ek is dankbaar dat die Here ’n besondere mens, vriend en kollega soos Theuns Snyman op my lewenspad geplaas het. Ek is dankbaar dat ek vir sy dogter kon klasgee tydens haar opleiding as predikant. Ek is dankbaar dat ek sy ma en suster se predikant op Kempton Park kon wees en so ook ’n bietjie van sy uitgebreide familie kon leer ken.

Theuns was inderdaad – soos my pa van so ’n mens gesê het – ’n dissipel sonder bedrog. In Latyn sou hulle aangaande hom gesê het: nihil nisi bonum (niks behalwe goed nie).

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap