Toe die aankondiging kom dat Suid-Afrika op 27 Maart 2020 ’n tyd van inperking sou betree, was die April-uitgawe van Die Hervormer reeds by die drukker. Nommer 1 van Jaargang 113, met ’n onseker vooruitsig oor die Kerk se publikasies vir die onmiddellike toekoms.

Die redaksie het koppe bymekaar gesit, en besluit om voort te gaan met die druk van die Mei 2020- en Junie 2020-uitgawe, omdat die Bybelse tydlyn wat ds Marius Venter vir die Jaar van die Bybel saamgestel het, vir dié drie uitgawes beplan is. 2020 is die jaar waarin die Bybelgenootskap (BSA) reeds vir 200 jaar in Suid-Afrika bestaan. Die Hervormer wou met die tydlyn aansluit by die BSA se jaartema, Die Bybel bring hoop vir almal, en bydra tot lidmate se kennis van die Bybel.

Maar die drie gedrukte uitgawes het by die Sinodale Dienssentrum se Derdepoort-kantore bly lê, omdat aflewerings gestaak is en daar buitendien nie in gemeentes persone was wat pakkies kon ontvang nie.

Derhalwe is besluit om van maand tot maand te oordeel of die druk van die koerant sinvol sou wees. Die redaksie het egter voortgegaan met die werwing en skepping van nuwe artikels, en Die Hervormer het deurgaans op die Kerk se webblad verskyn. Lesers wat normaalweg net die hardekopieweergawe lees, kan gerus die Kerk se webblad (www.nhka.org) besoek om die artikels wat intussen elektronies verskyn het, te lees.

Julie 2020

Die hoofartikel, deur ds Gerhard Stoltz, sekretaris van die ADV, handel oor die koninklike wet. “Die koninklike wet, soos Jakobus dit noem, is om jou naaste lief te hê soos jouself. Vir Jakobus is hierdie liefde (agape) die werk van geloof, ’n vereiste van geloof, en word dit moontlik gemaak deur geloof. Liefde is om ons plig teenoor ons naaste na te kom, en bevestiging daarvan dat almal wat God liefhet, my broers en susters is, my naaste – al is hulle verrinneweer, haweloos, verwaarloos.”

Dr André Ungerer, voorsitter van die Kommissie van die AKV, het vertel van die meningspeiling wat na afloop van Zoom-gesprekke onder predikante van die NHKA gedoen is. Dit het duidelik geblyk dat predikante deurgaans gedurende Vlak 5 en Vlak 4 van die grendeltyd eredienste of boodskappe op verskillende maniere met gemeentelede gedeel het. Baie van die predikante het ook op daaglikse basis dagstukkies versprei. Die skep van video’s of oudioboodskappe het aanvanklik by die meeste groot spanning meegebring, maar  gelukkig was daar vaardige dominees wat altyd bereid was om die minder ervare kollegas by te staan. Die leerkurwe wat predikante ondergaan het, was enorm. Daar was deurgaans ’n opgewondenheid oor die reik- en trefwydte van hul boodskappe. Vanuit ’n plattelandse dorp is gerapporteer dat hul eredienste deur mense in agt lande gekyk is!

Prof Johan Buitendag het onderhoudend berig oor die stand van die ekologiese krisis. Dit is nou pas 50 jaar sedert die Club of Rome gestig is en sy destydse opspraakwekkende eerste publikasie (Limits to Growth) in 1972 verskyn het. Die Club of Rome stel dit duidelik dat die 21ste eeu ’n eeu van versobering moet wees. Dit geld op alle terreine. Die mens is as beeld van God ook “mede-skepper”. Dit gee ons egter groot verantwoordelikheid en dit is elke Christen se taak om hieraan gestalte te gee. Geniet die skepping, maar onthou, dit is nie ons s’n nie. Ons leen dit net van ons nageslag! Ons moet nie net God en ons naaste liefhê soos onsself nie, maar ook die aarde.

En op ligter trant het Oupa Stoep gewaarsku: “Teen die tyd dat die volgende Algemene Kerkvergadering plaasvind, sal tegnologie seker al baie verander het, maar soos dit nou staan, gaan dit nogal ’n perd van ‘n ander kleur wees om meer as 600 mense so verbind te kry dat hulle almal saam aan een vergadering kan deelneem. Oupa wonder ook hoe so ’n langafstand-stemmery sal werk as daar ’n voorsitter, ensovoorts, verkies moet word. Oupa hoor dat die oom wat die stemmery in die verlede hanteer het, nogal ’n moeilike entjie mens kan wees…”

Augustus 2020

Ds Pieter Oberholzer, emeritus Weermagkapelaan, vra in die hoofartikel: Hoe lyk God se seën tydens Covid-19? Grendeltyd is ’n tyd vir besinning en herwaardering. Mense moes opnuut nadink oor watter dinge in die lewe regtig belangrik is. In die geroesemoes van ’n gejaagde lewe is daar nie altyd genoeg tyd om te reflekteer nie. Ons het geleer dat ons met baie minder kan klaarkom as waaraan ons die afgelope jare gewoond geraak het. Ons kom goed klaar sonder vakansie, fliek, uiteet, bediendes en ure in die verkeer. Die (on)belangrikheid van sport op TV is in perspektief geplaas. Ons raak opnuut daarvan bewus dat geluk nie in die eerste plek in materiële dinge, in dit wat ons het, of ontvang, te vind is nie, maar juis in die eenvoudige dinge en in die voorreg om te kan gee. Mense het opnuut die bevrediging ervaar om vir ander iets te beteken, al was dit net deur ’n bemoedigende woord, ’n luisterende oor of ’n skouer om op te huil.

Dr Barry Tolmay van die NG Gemeente Krantzkloof in Durban skryf dat die wêreld ná Covid-19 beslis anders gaan lyk, maar presies hoeveel anders, kan ons seker net oor bespiegel. Niemand weet presies nie, omdat net God die toekoms omsluit! Dit is asof ’n herprogrammering van die wêreld deur die grendeltyd geaktiveer is. Mense is abrup tot stilstand geruk en moes besin oor waarmee hulle besig is en of dit die moeite werd is.

Dr Thinus van Staden van Gemeente Montana reflekteer oor die impak van Covid-19 op gesinne en families. Hy skryf: “Ek loop hier in die huis rond met ’n hartseer binne my. Oor die Virus. Oor die dood. Oor die armoede en swaarkry. Oor die skepping se verdriet. Oor die besoedelde riviere. Oor al die plastiek in die see. Oor ’n kollega wat sy lewe geneem het. Oor plaasmoorde en droogtes. Oor die toekoms van ons land. Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God! Maar hier, uit die Jordaangebied, van Hermonberg, van Kleinberg af, raas die waters nog té teen mekaar om ’n klaaglied nou te verswyg. Hoe gaan dit met ons gesinne? Goed. Sleg. Wonderlik. Dodelik. Dit is nodig dat ons saam met ander gesinne ’n klaaglied sing. Uit ’n klaaglied word ons afhanklik voor God. En saam bid ons dat ’n nuwe dag sal aanbreek. Vertrou op God. Ons sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is ons helper en ons God!”

September 2020

Ds Gerrie Senekal van Gemeente Lichtenburg vertel van die Voortgesette Teologiese Toerusting (VTT) en Voortgesette Toerusting vir Kerkrade (VTK) wat aanlyn in ses Zoom-byeenkomste oor ses dae / drie weke aangebied is. Uit die aanbiedings en die gesprekke wat daaruit voortgevloei het, is dit duidelik dat Covid-19 nie ’n stopstraat is nie, maar ’n geleentheid om nuut te dink. Dit was goed om te hoor dat, al was die kerkgeboue se deure vir ’n tydperk toe, die evangelieverkondiging kragtig voortgegaan het.

Dr Annelie Botha van Mafeking en Zeerust berig oor die geleentheid toe predikante en kerkraadslede tydens die Voortgesette Toerusting saam kon luister en praat oor die tema van Aanlyn-nagmaal. Insette is gelewer deur proff Yolanda Dreyer, Ernest van Eck, Wim Dreyer en dr Tanya van Wyk, vanuit hul verskillende vakgebiede – Praktiese Teologie: Pastoraat; Nuwe Testament; Kerkgeskiedenis; en Sistematiese Teologie.

Dr Barry van Wyk stel prof Andries van Aarde aan die woord oor Jesus, Paul and Matthew, Volume One: Discontinuity in Content, Continuity in Substance; en Jesus, Paul and Matthew, Volume Two: To and From Jerusalem. In opdrag van Cambridge Scholars Publishing het prof Van Aarde hierdie twee volumes gepubliseer. Met ’n wye verskeidenheid temas plaas die boeke die klem terug op God se wysheid, geregtigheid en liefde soos prof Van Aarde dit terugvind in die lewe van die historiese Jesus, die apostel Paulus en Matteus. Hy sluit die volumes af met sy eie lewensverhaal en vertel van die pyn en vreugde wat die vashou aan Goddelike wysheid meebring.

Hierdie uitgawe berig ook oor die afsterwe van drie van die NHKA se geliefde predikante: Ds CJ (Stoffel) Smit (93) op 17 Augustus; ds PP (Paul) Jooste (77) op 18 Augustus; en prof PA (Piet) Geyser (76) op 29 Augustus.

Oktober 2020

Dr Frikkie Labuschagne, direkteur van die Sentrum vir Gemeentelike Bediening, bring die stories van hoop van vyf predikante: Dr Rudy Denton van Potchefstroom-Studente; ds Willem Breytenbach van Witrivier/Sabie/Hazyview; ds Adriaan Roets van Swartkop; ds Dalene Lourens van Selcourt; en ds Marius Kramer van Krugersdorp-Oos. Die NHKA dank die Here vir sy groot genade in hierdie tyd. Ons bid ook onophoudelik vir gemeentes wat broos is en besig is om weer vastrapplek te kry!

Dr Gerhard Lindeque van die BSA gee die agtergrond van die nuwe Bybel AFR2020 wat in November bekendgestel word. Dit is ’n direkte vertaling wat daarna streef om só te vertaal asof die Bybelskrywers in hul eie woorde van duisende jare gelede self aan die woord gestel word, en in vloeiende, idiomatiese Afrikaans. In hierdie opsig verskil die vertaling van ’n woord-vir-woord-vertaling.

Dr Willie Strydom van Eikenhof en Johannesburg-Suid skryf dat heling ná ’n traumatiese gebeurtenis soos die Covid-19-pandemie wat hom in ons lewens afspeel, eerlikheid vra ten opsigte van ons emosies. Hy verduidelik: “Maar dan kan ons genadiglik deur die krag van die Heilige Gees ook anders begin dink. Nuwe denke lei tot nuwe gevoelens en nuwe optrede. Ek kan kies om toe te laat dat die gebeure van die afgelope en dalk ook die volgende maande my lewe in ’n bepaalde rigting stuur. Of ek kan kies om God toe te laat om my gedagtes nuut te maak. Om anders te dink oor al die seer wat ek ervaar het en steeds ervaar, mag dalk my lewe in ’n nuwe rigting stuur.”

*** Gaan na www.nhka.org Gesprek Die Hervormer om al die artikels van hierdie vier uitgawes te lees.

(Tessa Oppermann is produksiebestuurder in die afdeling Kerklike Kommunikasie)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap