Ek en ’n paar kollegas het op 19 en 20 April sowel as op 10 en 11 Mei die geleentheid gehad om ’n kursus in korttermynterapie by te woon. Die kursus is deur die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB) ontwikkel en was beplan vir 2020, maar weens Covid-19 is dit uitgestel tot nou.
Hierdie tipe terapie (solution focused therapy) is ’n eerste van sy soort en is gebaseer op die neurologiese wyse waarop die brein werk. Daar word byvoorbeeld eerder gepoog om gedrag te help verander as om denke te probeer verander. Terapiesessies is ook meer gefokus op die positiewe dinge wat moontlik vanuit ’n probleem kan kom, in plaas daarvan om die heeltyd oor die probleem self te praat. Terapie wat fokus op oplossings het daarom die potensiaal om binne drie tot vier sessies reeds ’n verandering in ’n persoon se lewe teweeg te bring en is dus ideaal vir pastorale berading.
Behalwe vir die inligting wat deurgegee is oor hoe die brein werk en hoe die terapie aangewend kan word, was die kursus ook baie prakties. Ons het ’n gevallestudie hanteer van iemand wat reeds gegaan het vir ’n sessie by die terapeut, waarna ons ’n stemopname gemaak het vir die kliënt om haar aan te moedig om haar doelwit vanuit die terapiesessie te bereik. Dit is byvoorbeeld iets wat predikante ook met gemeentelede kan doen na afloop van ’n beradingsessie.
Die aanbieder het ook ’n sessie met een van ons kollegas gedoen sodat ons kon waarneem, en ons het in groepe verdeel om dit wat ons die eerste twee dae geleer het, toe te pas en te oefen. Iemand moes die predikant wees wat die terapie doen, iemand die gemeentelid, en die derde persoon het positiewe dinge uitgewys wat die predikant en die gemeentelid doen. Na afloop van ’n enkele oefensessie het die kollega wat in ons groep die “gemeentelid” was, se uitkyk op die probleem reeds verander.
Na die eerste sessies in Mei moes ons dit wat ons geleer het gaan oefen op twee gemeentelede en daaroor terugvoer gee. Die terugvoer was oorweldigend positief en in sommige gevalle kon kollegas reeds ’n verskil agterkom by gemeentelede met wie hulle die terapie gedoen het.
In die laaste twee sessies het ons geleer hoe om trauma te hanteer. Hier speel die gebruik van die persoon wat berading ontvang se verbeelding ’n belangrike rol. (Dit is iets wat ongewoon is in die gewone manier van traumaberading.) Die gebruik van verbeelding help die persoon om weg te beweeg van die trauma en om ’n nuwe toekoms daarsonder te kan insien. Die laaste dag is gefokus op verhoudingsterapie sowel as gesins- en huweliksterapie. Weer eens was daar praktiese oefeninge om dit te illustreer en te oefen.
Ek kan eerlik sê dat hierdie kursus baie verrykend was. Almal met wie ek gepraat het, het saamgestem dat die kursus ’n groot impak op hulle gemaak het – deur te help om te verstaan hoe die brein werk asook hoe om verskillende soorte berading te doen. Ek moedig graag almal aan om hierdie kursus, maar ook ander kursusse van die SGB, by te woon. Dit mag dalk net jou lewe, jou bediening en jou verhoudings met mense positief verander.
(Ds Henk Labuschagne is leraar in Gemeente Silverton)