Wie is die toonaangewende vroue in die kerk? Is dit enkele vroue wat buitengewone dinge doen, of die vrouepredikante, of bekendes waarvan almal weet? Of is dit die “gewone” vroue wat Sondag vir Sondag in die kerk sit, die vroue wat opoffer ter wille van hul gesinne?

My vrou se gunstelingliedjie is She van Charles Aznavour, van sy album A tapestry of dreams. Sy het dit die eerste keer in die rolprent Notting Hill gehoor, waar Elvis Costello dit gesing het, maar sy verkies die oorspronklike.

Die lied vertel die verhaal van ’n besonderse vrou wat die minnesanger se lewe vir altyd verander. Sy is nie ’n supervrou of glanspersoon nie; nee, sy is ’n gewone vrou en tog uniek en spesiaal. Hy vertel dat sy die een is wie se gesig hy nooit sal vergeet nie, ’n gesig wat vertel van oomblikke van plesier en oomblikke van verwyt. Hy sê sy is die grootste skat wat hy ontdek het, of dalk, vra hy, dalk die prys wat hy moet betaal?

Sy is vir hom die lied wat die somer sing, maar sy is ook die koue wat die herfs bring. Ja, sy is die honderd verskillende dinge wat een enkele dag kan bring. Sy is die skoonlief of dalk die ondier, sy is die hongersnood of die fees, sy kan enige dag in die hemel of die hel verander. Sy is die spieëlbeeld in sy droom, ’n glimlag gereflekteer in ’n waterstroom.

En tog is sy nie wat jy dink sy is nie, want jy kan nie sien wat diep in haar gedagtes en gemoed aangaan nie. Al lyk sy so gelukkig tussen ander, laat sy nie toe dat iemand haar sien as sy huil nie. Dalk, sê hy, is sy die liefde wat hy weet hy dalk nie kan behou nie, liefde wat kom uit die skadu’s van die verlede, maar liefde wat hy sal onthou totdat hy sterf.

Ja, sy is die vrou waaroor hierdie artikel gaan. Gewone vrou en tog supervrou, unieke vrou, vrou wat die wêreld kan verander. Digters en sangers besing die vrou, en tog kan die vrou nie in woorde, of selfs met die kwas van ’n skilder of die beitel van ’n beeldhouer, vasgevat word nie. Want vroue, veral Christenvroue, is veel meer as wat woorde kan beskryf.

Aanvanklik was die plan om vir die voorblad van hierdie uitgawe ’n onderhoud te voer met een van die toonaangewende vrouepredikante in ons Kerk. Ons sou haar gevra het hoe dit voel om, as vrou, ’n voorloper in die kerk te wees.

Ek het egter een oggend op die kansel gestaan en oor die gemeente gekyk en besef dat die toonaangewende vroue in die kerk nie net vrouepredikante is nie, maar die vroue wat Sondag vir Sondag in die kerk sit, die vroue wat opoffer ter wille van hul gesinne. Die ma’s en oumas, sussies en dogters – hulle is die ware groot vroue, die toonaangewende vroue in die kerk.

Daar word vertel dat tydens die Russiese Revolusie aan Stalin gevra is wat met die oumas gedoen moes word. Almal en alles het aan die staat behoort, maar wat doen ’n mens met die oumas? Sy oplossing was om hulle te los om huis skoon te maak en kinders groot te maak. Dit was die oumas, so reken sommige, wat die Christendom in die ou Rusland lewendig gehou het. Kinders is op die skoot van ’n ouma van die redding en verlossing in Jesus Christus geleer, en so is volgende geslagte van Christene verseker.

Selfs hier by ons is dit baie maal die ma of ouma wat die kinders van die Here leer. Jaarliks wanneer ek nuwe jong lidmate vra by wie hulle die meeste in verband met hul geloof en die Bybel geleer het, bevestig hulle dat dit Mamma of Ouma was wat die grootste invloed gehad het. Dit was meestal Mamma of Ouma wat Bybel gelees het en hulle geleer het om te vertrou, te glo, te bid.

Ja, die groot vroue, die invloedryke vroue, die vroue wat die groot verskil maak, is juis gewone ma’s en oumas, gewone vroue wat buitengewone dinge doen. Soos die ma’s wat in die middel van die nag opstaan en gaan sit by ’n kind met koors. Die ma’s wat Boetie of Sussie se trane afdroog na ’n liefdesteleurstelling, die ma’s wat deur die nag bid vir ’n kind wat verdwaal geraak het.

Dit is dieselfde ma’s en vroue wat by die kerk voor vat en dinge laat gebeur. Dieselfde vroue wat ook by die kerk ’n verskil maak. Daarom kan ons nooit die een of ander enkele vrou uitsonder as voorbeeld van voortreflikheid nie. Nee, dit is gewone vroue wat die grootste verskil maak.

Wanneer ek terugdink aan die vroue wat in my tyd as predikant die grootste invloed op my gehad het, is dit juis die gewone susters, die ma’s en oumas wat voluit werk vir die Here.

In een van die gemeentes was daar ’n paar vroue wat by elke begrafnis tee geskink het. Ek het hulle eendag gesit en dophou. Ek het in hul oë die liefde en deernis gesien wat ek glo God by ons as sy kinders wil hê, en daardie dag het ek besef dat dié vroue, God se vroue, die invloedrykste mense in sy kerk is.

Ek het gedink aan enkelma’s wat alles opgeoffer het vir hul kinders. Aan die ma wat toe haar seun met die gereg gebots het, hom elke dag getrou in die selle besoek het. Aan die ma wat haar gestremde kind met soveel liefde versorg. So kan ek aanhou en aanhou.

In my amper drie dekades as predikant was dit ook feitlik altyd die vroue-kerkraadslede wat die getrouste hul werk gedoen het.

Daarom bring ek hulde aan elke vrou: geheimsinnig, sterk, voorloper.

Mag die Here elkeen van die supervroue wat aan Hom behoort met sy liefde en genade seën.

(Ds Willem Sauer is redakteur van Die Hervormer en leraar in Gemeente Waterberg)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap