2023 se dae, weke en maande is omtrent nou op ’n drafstap. Snel is 2024 op pad. Ons leef in ’n haastige wêreld. Tegnologie speel baas oor ons.
In die Voortrekkertyd was die pas rustiger. Die SP Engelbrecht-museum is die trotse eienaar van ’n oorspronklike Voortrekker-plankalmanak (aanwinsnommer SPE 89). Dié slim manier om tyd te hou in die 1830’s!
Die afmetings is: lengte 372 mm tot 377 mm (die langwerpige plank word wyer na bo – is nie haaks nie), breedte 172 mm, maar heel regs is die breedte 168 mm vir ’n afstand van 65 mm omdat ’n brokstuk bo lánk gelede (vóór 1917) uitgebreek het, en die dikte is 12 mm. Vervaardig van ’n onbekende houtsoort. Daar bestaan ook elders voorbeelde van ronde houtalmanakke.
Die almanak was noodsaaklik, maar terselfdertyd ook mooi. Volkskuns het daarop gepronk. Ons almanak spog met verskillende kleure asook versierde hoofletters in lopende skrif. ’n Onderlaag van rooierige verf is sigbaar. Voorop is vyf bruin balke waarvan die tweedeboonste een met die weekdae ornamentele eindpunte het op ’n swart agtergrond wat ’n raam vorm. Agter is dit rooierig en bruin. Die beskildering is witgoudkleurig. Die letters agterop is met ’n stensil gesnymerk en ingekleur met die verf. In die middel bo is ’n groter gaatjie waardeur ’n dun riempie of gevlegte grastoutjie geryg is om die almanak op te hang binne-in die ossewatent aan ’n haak of later in ’n pioniershuis aan ’n bokhorinkiekapstok.
Die boonste ry letters is die voorletter van elke maand. By elke letter word regs bo die hoeveelheid dae in klein syfertjies aangedui. Kyk na die V vir Februarie. Snaaks genoeg bestaan daar ook ander voorbeelde van Voortrekker-plankalmanakke met hiérdie spelfout. By elke letter is ’n klein, ronde gaatjie regdeur die plank waarin ’n kort, dun houtpennetjie of stokkie gedruk word ter aanduiding van die betrokke maand. Die middelste ry letters dui die weekdae aan beginnende by Sondag – ook met pengaatjies. Op ons almanak is daar bo en onder elke weekdag ’n gaatjie. Die rede vir die bykomende ry gaatjies is nie duidelik nie. Elke dag word die dagpennetjie dan aangeskuif na die bepaalde dag. Dan volg onder die 31 syfers in twee rye waar die pennetjie weer die hoeveelste dag van die maand aandui. Ons drie pennetjies het met die verloop van tyd verlore gegaan.
Ousus in die gesin moes getrou op haar pos wees om die pennetjies aan te skuif. Anders was daar konsternasie! ’n Geboorte- of sterfdatum of ander dergelike herdenkingsgebeure kon verkeerd opgeskryf word in die Familiebybel, in ’n dagboek of brief! Óf die gesin kon lelik deurmekaar raak met wasdag, bakdag en kerkdag… My oumagrootjie Kotie Ackermann (gebore Jacoba Magrietha Bakkes 1895-1965) wou graag altyd éérste wees om op Nuwejaarsdag die datum 1 Januarie op papier neer te skryf! Vir haar dalk ’n simboliese aanskuif van die houtpennetjie?
Uitsonderlik van ons almanak is dat ons ’n van en voorletters en twee datums daarop het. Heel onder staan geskrywe GOOSEN met links voorletters EJ en regs voorletters GNJ. Verder regs staan 1815 en D vir Desember en ’n klein 5, dus 5 Desember 1815. A daarnaas beteken Anno, dus nC 5 Desember 1815 was ’n Dinsdag – dikwels ’n gewilde troudag. Moontlik EJ en GNJ Goosen se huweliksdatum.
En dan die verrassing wanneer ons agterop kyk! ’n Datum wat ons as die vervaardigingsdatum kan beskou: ANO (spelfout) 1835 Saterdag 12 Desember. Onder regs op die agterkant is die groot letter S en kleiner t. Moontlik die merktekens van die vervaardiger. ’n 20ste huweliksherdenkingsgeskenk tydens die Trek – dalk van ’n seun? Netjies, met sorg en liefde gemaak. So ’n gebruiksitem was dikwels ’n spesiale geskenk op doopdae, verjaardae en huweliksherdenkings.
In die 1917 Kerkalmanak is ’n foto deur G van Belkum, seun van ds Jac van Belkum van Heidelberg. Toe was ons kalender nog BJ Labuschagne s’n (oud-ouderling van Heidelberg) van Witpoort digby Wolmaransstad, wat genoem het dat dit ’n erfstuk was van mev EJ Goosen. Ek kon ongelukkig nog geen genealogiese inligting opspoor nie. [Lesers met inligting oor plankalmanakke en die genoemde Goosen-familie kan my gerus kontak by careljohann@gmail.com.]
Vandag gebruik ons al hoe minder almanakke wat teen ons muur of kasdeur hang. Haastige, moderne mense gebruik nou tegnologie om tyd te hou. WhatsApp-groepe in gemeentes herinner lidmate aan gebeure – beter as gemeentekalenders. Maar ai, die ou-tydse manier van tyd hou, bly tog maar uitsonderlik en kosbaar. Voorspoed vir 2024!
Erkenning word gegee aan die volgende bronne: Aanwinsregister SPE-museum; Almanak NHKA 1917; Die Geskiedenis van Volkskuns in Suid-Afrika, JC Pretorius 1992; Die Groot Trek – Flitse vir senior primêre skole, red Frans van Niekerk 1988; Die Hervormer 1 Augustus 1968; Eeufees-album NHKA 1842-1942, SP Engelbrecht 1942; HAT 2015; Voortrekkerlewe – Agter die skerms op die Groot Trek, R Carstens 1988; Timeanddate.com 1815 en 1835.
(Artikel verkort; lees die volledige teks op die Kerk se webblad by www.nhka.org)
(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)