2023 se dae en maande, ure en weke is omtrent nou op ’n drafstap. Haastig is 2024 op pad. Ons leef in ’n haastige wêreld. Jy moet jaag om by te bly, anders raak jy agter. Kalenders, dagboeke en alarms speel baas oor ons. Ons slimfone en rekenaars bewaar data-inligting met detail oor die tyd, dag en datum van alles wat geskep word.
In die Voortrekkertyd was die pas rustiger. Seisoene, sonsopgang en -ondergang en die gestaltes van die maan het die ritme van die tyd bepaal. Die SP Engelbrecht-museum is die trotse eienaar van ’n oorspronklike Voortrekker-plankalmanak (aanwinsnommer SPE 89). Die slim manier om tyd te hou in die 1830’s!

Die afmetings is: lengte 372 mm tot 377 mm (die plank word wyer na bo – is nie haaks nie), breedte 172 mm, maar heel regs is die breedte 168 mm vir ’n afstand van 65 mm omdat ’n brokstuk lánk gelede (vóór 1917) uitgebreek het, en die dikte is 12 mm. Dit is onbekend van watter houtsoort die langwerpige plank vervaardig is. Dit blyk dat daar ’n onderlaag van rooierige verf is met bruin en swart daarop geverf. Voorop is vyf bruin balke waarvan die tweedeboonste een met die weekdae ornamentele eindpunte het op ’n swart agtergrond wat ’n raam rondom vorm. Agter is dit rooierig en bruin. Die beskildering is witgoudkleurig. In die middel bo is ’n groter gaatjie waardeur ’n dun riempie of gevlegte grastoutjie gehelp het dat die almanak opgehang kon word. Dis opgehang binne-in die ossewatent aan ’n haak, of later wanneer ’n pioniershuis opgerig is, aan ’n kapstok. So ’n kapstok kon ’n klein bokhorinkie gewees het. Daar bestaan ook voorbeelde elders van ronde houtalmanakke.
Die heel boonste ry letters is die eerste (voor)letter van elke maand. By elke letter word ook regs bo die hoeveelheid dae in klein syfers aangedui. Kyk na die “V” vir Februarie. Snaaks genoeg bestaan daar ook ander voorbeelde van Voortrekker-plankalmanakke met hiérdie spelfout. By elke letter is ’n klein ronde gaatjie regdeur die plank waarin ’n kort, dun houtpennetjie of stokkie gedruk word by die betrokke maand. Die middelste ry letters dui die weekdae aan – beginnende by Sondag, die Opstandingsdag van Christus, ook met pengaatjies. Op ons almanak is daar bo en onder elke weekdag ’n gaatjie. Die rede vir die bykomende ry gaatjies is nie duidelik nie. Elke dag word die dagpennetjie dan aangeskuif na die bepaalde dag. Dan volg, onder die 31, syfers in twee rye waar die pennetjie weer die dae van die maand aandui. Ons drie pennetjies het met die verloop van tyd verlore gegaan.
Hierdie verantwoordelike taak was die plig van die oudste dogter in die gesin. Ousus moes getrou op haar pos wees by die almanak om die pennetjies aan te skuif. Anders was daar konsternasie! ’n Geboorte- of sterfdatum kon verkeerd opgeskryf word in die Familiebybel! Of die een of ander dergelike herdenkingsgebeure se onthoudag word verkeerd neergestip in die geheue of in ’n dagboek of brief. Óf die gesin kon lelik deurmekaar raak met wasdag, bakdag en kerkdag… My oumagrootjie Kotie Ackermann (gebore Jacoba Magrietha Bakkes 1895-1965) wou graag altyd éérste wees om op Nuwejaarsdag die datum “1 Januarie” op papier neer te skryf! Vir haar dalk ’n simboliese aanskuif van die houtpennetjie? Die almanak se merkpennetjie was ’n baken waar ons vir ’n oomblik kon stilstaan en dink oor die stroom van die geskiedenis waarin ons staan. Elke dag moes jy bewustelik dink oor die nuwe dag en die verloop van tyd.
Aangesien die almanak noodsaaklik en nuttig was, moes dit sigbaar wees vir almal wat die datum wou weet. Terselfdertyd kon dit ook mooi wees om uit te stal; ook aan besoekers. Volkskuns het daarop gepronk. In die geval van ons Museum se almanak, is verskillende kleure aangewend asook versierde hoofletters in lopende skrif (nie blokletters nie). Pragtig netjies. Met sorg en liefde gemaak. So ’n gebruiksitem was dikwels ook ’n spesiale geskenk op besonderse herdenkingsdae soos doopdae, verjaardae en huweliksherdenkings.
Uitsonderlik van ons almanak is dat ons ’n van en voorletters en twee datums daarop het. Heel onder staan geskrywe GOOSEN met links voorletters EJ en regs voorletters GNJ. Verder regs staan 1815 en D vir Desember, en ’n klein 5, dus 5 Desember 1815. A daarnaas beteken Anno oftewel in die jaar van ons Heer, dus nC 5 Desember 1815 was ’n Dinsdag. Dinsdae was dikwels gewilde troudae. Dan moontlik EJ en GNJ Goosen se huweliksdatum.
En dan die verrassing wanneer ons agterop kyk! ’n Datum wat ons as die vervaardigingsdatum kan beskou ANO (spelfout) 1835 Saterdag 12 Desember. Onder regs op die agterkant is die groot letter S en kleiner t. Moontlik die merktekens van die vervaardiger. ’n 20ste huweliksherdenkingsgeskenk – dalk van ’n seun? En die datum klop. Tydens die Groot Trek. Dit blyk dat die agterste letters soos met ’n stensil gesny-merk is en dan met die verf ingekleur is binne die lyne. In die 1917 Kerkalmanak is ’n foto van ons plankalmanak geneem deur G van Belkum, seun van ds Jac van Belkum van Heidelberg. Toe was dit nog in besit van BJ Labuschagne (oud-ouderling van Heidelberg) van Witpoort in die ou Wes-Transvaal (vandag Noordwes) digby Wolmaransstad. Daar word gemeld dat dit vroeër die eiendom was van mev EJ Goosen. Ek kon ongelukkig nog geen genealogiese inligting oor hierdie persone vind nie.
Vandag gebruik ons al hoe minder almanakke wat teen ons muur of kasdeur hang. Haastige, moderne mense gebruik nou selfone, tablette en skootrekenaars wat met mekaar gesinchroniseer is om dae te merk. Ons fone het slim maniere om weerpatrone, als van die son en die maan en die seisoene vir ons te vertel en ons aan te herinner. Alles sommer in ons hand. WhatsApp-groepe in gemeentes herinner lidmate aan gebeure – beter as gemeentekalenders. Ons toestelle is ook spesiaal, want dit kos duur en ons versier dit met gekleurde omhulsels en persoonlike skermprente en -foto’s. Maar ai, die ou-tydse manier van tyd hou, bly tog maar uitsonderlik en kosbaar. Voorspoed vir 2024!
Erkenning word gegee aan die volgende bronne:
- Aanwinsregister van die SP Engelbrecht-museum
- Almanak van die NHK van Zuid-Afrika 1917, 11de uitgawe, p 81
- Die Geskiedenis van Volkskuns in Suid-Afrika, ’n studie van Westerse Volkskuns in Suid-Afrika, J Celestine Pretorius, 1992, Vlaeberg Uitgewers, Kaapstad
- Die Groot Trek 150ste herdenking – Flitse vir senior primêre skole, red Frans van Niekerk, 1988, Natalse Onderwysdepartement Taal- en Publikasiediens
- Die Hervormer 1 Augustus 1968, “Katkisante van Pretoria-Wes besoek die SP Engelbrecht-museum”, G Bezuidenhout, p 22
- Eeufees-album NHKA 1842-1942, SP Engelbrecht, 1942, Wallachs, Pretoria, p 11
- Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, 6de uitgawe, 2015, Pearson, Kaapstad
- Voortrekkerlewe – Agter die skerms op die Groot Trek, Rhe Carstens met die medewerking van Pieter W Grobbelaar, 1988, Perskor, pp 239 en 241
- Timeanddate.com – vir kalenders 1815 en 1835
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels)
