Dit is al vier jaar sedert 2020 se Covid-19-pandemie. In vandag se lewe, waar alles teen ’n snelspoed gebeur, het ons al amper vergeet van ons broosheid, ons nietigheid wat hierdie pandemie vir ons kom uitwys het.
Nie een van ons het geweet wat in 2020 op ons wag nie. Ons vergeet so maklik van die mense wat weke alleen in hospitale om hul lewe geveg het. Ons het vergeet hoe drasties ons lewens verander het: om elke dag met maskers rond te loop, die sosiale afstand wat ons moes behou het en oral waar ons gegaan het, het ons ons hande met saniteermiddels gespuit.
Ons vergeet van die vrees wat die pandemie in ons wakker gemaak het en ons vergeet hoe dit ons gemeentes geraak het. Ewe skielik het lidmaatskap van ’n geloofsgemeenskap minder belangrik geword…
Baie gemeentes is (na vier jaar) steeds besig met ’n keer-terug-kerk-toe-poging, want Covid-19 het ons nie net bewus gemaak van ons nietigheid nie, dit het ons ook herinner aan hoe belangrik dit is om iewers te behoort.
As gelowiges is ons geneig om ons verhouding met God as persoonlik te beskou, en ons wil dit in privaatheid beoefen, daarom is ons van mening dat ons nie ander gelowiges nodig het nie. Ons is egter (sonder om dit te besef) met elke ander gelowige verbind, want as volgelinge van Christus beteken dit nie net ons glo in God nie, ons behoort ook aan Hom, ons is ’n familie.
CS Lewis het gesê dat die woord lidmaat ’n Christelike oorsprong het, maar dat die wêreld daardie betekenis oorgeneem het. Lidmaatskap beteken deesdae bloot dat jou naam iewers by ’n winkel op ’n lys is, vir afslag of vir punte – selfs in die kerk bestaan lidmaatskap daaruit dat jou naam by ’n lys gevoeg word, sonder enige vereistes of verwagtinge.
Lidmaatskap word dus minder en minder belangrik. Deesdae se individualistiese kultuur het as’t ware talle geestelike weeskinders geskep, wat van een kerk na die ander spring, sonder enige toewyding, of mense wat selfs die kerk totaal en al vermy, want die kerk stel hulle teleur of maak hulle seer, en terselfdertyd skreeu die wêreld kliphard dat die kerk nie meer nodig is nie.
Dit is hoog tyd dat ons die Bybelse betekenis van lidmaatskap herontdek en dit uitleef. Lidmaatskap is nie net ’n naam op ’n lys nie, lidmaatskap van die familie van God gaan oor baie meer…
Vir Paulus het lidmaatskap van die kerk beteken dat jy ’n noodsaaklike, onmisbare deel van ’n lewende liggaam word. Ons moet besef, ware gemeenskap is meer as net opdaag vir dienste, ons is nie net daar om kerkbanke warm te sit nie. Lidmaatskap beteken ons is nie net verbruikers nie – wanneer ons as gelowiges uit verskillende agtergronde, ouderdomme en sosiale stande bymekaar kom, in liefde, stel dit vir die wêreld ’n sterk voorbeeld: Ons is een liggaam.
Sodra ’n geloofsgemeenskap gesond is, word daar egte verhoudings gesmee, sonder oppervlakkige hoflikheid, skyn- en leë praatjies. God wil hê ons moet eg wees, nie perfek nie. Natuurlik vereis egtheid moed van elke persoon wat hom- of haarself blootstel – dis ’n kans wat ’n mens waag, maar dit is ook hoe ’n mens geestelik groei.
Om ’n volwasse gelowige te word, vereis dat ons nie net passiewe toeskouers tydens ’n erediens moet bly nie. Ons kan nie net die voordele van die kerk wil hê, sonder die verantwoordelikhede nie. Ware gemeenskap, ware lidmaatskap, is veel meer as net om vir die eredienste op te daag. Dit sluit praktiese diens, opoffering, vertroosting en onselfsugtige liefde in.
Elke persoon wat langs jou op die kerkbanke sit, saam met jou sing en aanbid, het die behoefte dat iemand sal verstaan, en dat hul gevoelens bevestig sal word. Dit is hoe gemeenskap versterk word. Om deel van ’n ware geloofsgemeenskap te wees, beteken dat selfs wanneer ons geloof wankel of wanneer omstandighede ons afdruk, dan is ons geloofsfamilie daar. Galasiers 6: 2 (AFR1983) sê immers: Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. Lidmaatskap in sy volle vorm beteken om die lewe saam te ervaar.
Ons het nie geweet wat die jaar 2020 vir ons inhou nie, so weet ons ook nie watter hoogte- en laagtepunte hierdie jaar op ons wag nie, maar ons weet in Wie ons ons vertroue stel. Ons kan nie ons geloof in isolasie uitleef nie, ons het ander gelowiges ook nodig.
Ons moet daarna streef om lewende, toegewyde lidmate te wees, want ons is deel van ’n familie, ’n geloofsgemeenskap – ’n plek waar ons kan behoort.
(Ds Yolandé de Lange is leraar in Gemeente El-Flora in die ring van Roodepoort)