Hierdie artikel is ’n verwerking van ds Marina Kok-Pretorius se referaat wat by die HTK-opening in Februarie vanjaar gelewer is. Dit is gebaseer op haar PhD-graad in Semitiese Tale wat sy in Mei 2024 aan UP verwerf. Die titel van haar proefskrif is Remembered space: Memory and imagination in Psalms 90-92 and Psalms 105-106.

Agtergrond

Dink jou ’n wêreld in waarin jy alles verloor wat betekenis aan jou bestaan gee – jou sin van sekuriteit, identiteitsmerkers en geloofsinstellings. Die grootsheid van so ’n verlies oorweldig alle ruimtes van ’n mens se wese. Gekonfronteer met die trauma en verlies wat die ballingskap meegebring het, het die mense van Israel hulle op hul kollektiewe herinneringe beroep om hul verhouding met die Here te ondersoek. Hierdie handeling het hulle in staat gestel om nuwe ruimtes van syn te verbeel waarbinne hul geloof, identiteit en toekoms gerekonstrueer kon word.

Struktuur van die Psalms

Die vorming van die Psalmboek het oor ’n lang tydperk plaasgevind. Wanneer die Psalmboek in geheel bestudeer word, blyk dit dat daar samehangende aspekte teenwoordig is wat bepaalde betekenis verleen aan die finale vorm van die Psalmboek. Dit beteken dat die Psalmboek nie ’n versameling van lukrake, individuele psalms is nie, maar doelbewus georganiseer is om ’n narratief te vertel.

Tradisioneel word die Psalms in vyf dele of “boeke” verdeel. Hiervolgens word die eerste drie boeke (Psalms 3-89) tematies in verband gebring met die Dawidiese koningskap en die verbond met Dawid, terwyl die laaste twee boeke (Psalms 90-145) eers in die na-ballingskapse tydperk bygevoeg is as deel van die finale redigeringsproses van die Psalmboek as geheel.

Die Psalms wat die onderwerp van hierdie artikel is, is geleë in die vierde boek, wat strek vanaf Psalm 90 tot en met Psalm 106. Histories speel die Psalms in Boek IV af in die tyd van die ballingskap, hoewel die teikengehoor van die Psalms ’n na-ballingskapse gemeenskap is, terwyl die Psalms inhoudelik die voor-ballingskapse geskiedenis van Israel onthou. Die fokus val hier spesifiek op die inleiding en slot van Boek IV, wat gevind word in Psalms 90-92 en Psalms 105-106. Hierdie Psalms gebruik ruimtelikheid, kollektiewe herinneringe en religieuse verbeelding in hul eksistensiële soeke na ’n wêreld verby die chaos van die ballingskap.

Ruimtelike dimensies van Bybeltekste

Bybelwetenskaplikes het in die laat 1990’s en vroeë 2000’s toenemend begin om Bybeltekste vanuit ’n ruimtelike perspektief te bestudeer. Toegepas op die Ou Testament, behels dit dat die ruimtelike kontoere van ’n teks geanaliseer word volgens die Ou Nabye Oosterse wêreldbeeld en ruimtelike oriëntasie. Die ruimtelike oriëntasie van die Ou Nabye Ooste het bepaal dat mense hulself óf in ’n positiewe óf negatiewe ruimte bevind, in-balans of van-balans-af.

Verder word daar ook onderskei tussen verskillende dimensies van ruimte: Eersteruimte as fisiese ruimte, tweederuimte as geestelik-verstandelike ruimte, en derderuimte as sosiale ruimte. Namate Bybelwetenskaplikes tekste vanuit ’n ruimtelike perspektief bestudeer het, het hulle ook bewus geword van ’n vierde dimensie van ruimte in Bybeltekste, naamlik kollektiewe geheue. Dit hou verband met die belangrike rol wat herinnering en onthou in ’n samelewing speel. Hierdie vierde dimensie van ruimte, of onthoude ruimte, word gedefinieer as die dimensie van ruimte waarin die kollektiewe herinneringe van ’n gemeenskap se gesamentlike geskiedenis op verbeeldingryke wyse herinterpreteer word om hul identiteit te herskep in terme van huidige omstandighede en vooruitsigte vir die toekoms.

Onthoude ruimte in Psalms 90-92 en 105-106

Die betekenis van Psalms 90-92 en 105-106 as inleiding en slot van Boek IV, kan ontsluit word wanneer dit deur die lens van onthoude ruimte gelees word, met kollektiewe herinneringe en religieuse verbeelding as die boublokke van vierderuimte.

Op grond van kollektiewe herinneringe wat herverbeel word, kan die ruimtelike narratief van Psalms 90-92 en 105-106 beskryf word as “ruimte verloor, ruimte onthou, ruimte gevind”. Op eersteruimtevlak verloor die volk hul land, stad en tempel. Op tweederuimtevlak verloor hulle die sosiale gom wat hulle bymekaargehou het – die monargie, hul religieuse instellings en hul teologiese sekerhede soos beliggaam deur Sionsteologie. Op derderuimtevlak is die mense van Israel weggevoer van hul huis en bevind hulle hulself verspreid oor ’n vreemde land. Hierdie ruimtelike ontwrigting het gelei tot ervarings van disoriëntasie, ’n verlies aan die sin van behoort, en uiteindelik ’n identiteitskrisis.

Al hierdie ontwrigtinge word op vierderuimtevlak verwerk deur die kollektiewe herinneringe wat Psalms 90-92 en 105-106 tematies aan mekaar verbind. Die figuur van Moses as bemiddelaar tesame met die eksodustradisie vorm vastepunte in die skep van ’n ruimte waarin die verlede onthou word en die toekoms verbeel word.

Hierdie twee hoofmotiewe van onthoude ruimte word gesien in die opskrif van Psalms 90-92 wat hierdie Psalms aan Moses toeskryf. Deur hierdie toeskrywing word die eksodustradisie tegelykertyd op implisiete wyse herroep. In Psalms 105-106 kom onthoude ruimte op meer eksplisiete wyse na vore. Die term “onthou” word regdeur gebruik en daar word in beide Psalms verwys na Moses, terwyl die historiese gebeure van die eksodus ook oorvertel word. Die hooftrajek vir onthoude ruimte in Psalms 90-92 en 105-106 word egter gevind in die intertekstuele skakels wat hierdie Psalms met Deuteronomium 32-33 het. Psalms 90-92 en 105-106 herverbeel die Lied van Moses in Deuteronomium 32-33 as die teologiese basis vir die inlywing van ’n nuwe era vir die volk van God – ’n na-monargiese en na-ballingskapse era.

Vanuit die onthoude ruimte in Psalms 90-92 en 105-106, ontstaan ’n hernude teologie. Die oorkoepelende tema in hierdie Psalms is die verbondsverhouding tussen die Here en Israel. Deur die verbondsverhouding te onthou, is die ballinge, sowel as die na-ballingskapse gehoor, daartoe in staat om hul identiteit te herverbeel as dié volk wat die Here se guns ontvang. Gevolglik ontwikkel daar ’n ruimtelike verstaan van die Here se wese in Psalms 90-92 en 105-106, waarin die Here Self die veilige ruimte vir sy volk word. Die herskeppende mag van die verbondsverhouding met God herstel die geleefde ruimte van die ballingskapse en na-ballingskapse gemeenskappe van hooploos na hoopvol. ’n Verhouding met die Here transendeer alle dimensies van ruimte. Ontwortel, met geen ruimte om “huis” te noem nie, word die Here Israel se tuiste.

Om te onthou en te verbeel: Verlede, hede, toekoms

Die ruimtelike interpretasie van Bybeltekste belig bepaalde aspekte van ’n teks se betekenis vanuit ’n vars perspektief. Ruimte is immers méér as bloot ’n geografiese ligging of fisiese plek. Ons ken betekenis toe aan ruimtes gebaseer op gebeure en herinneringe. Tog is ons herinneringe nie net gekoppel aan fisiese plekke nie. Ons herinneringe neem ruimte op in ons gees, verstand en bewussyn – onthoude ruimte woon eindelik in ons harte en verstand.

Op soortgelyke wyse funksioneer geloof binne die sfeer van onthoude ruimte. Ten einde sin te maak van die lewe en betekenis toe te ken aan ervaring, onthou geloof die verlede en gebruik religieuse verbeelding om die toekoms te konstrueer. In Psalms 90-92 en 105-106 leer ons dat die wyse waarop ons die ruimte van die verlede rekonstrueer, bepalend is vir die wyse waarop ons die ruimte van die toekoms sal verbeel. Deur kollektiewe geheue en religieuse verbeelding herontdek ’n verlies-geteisterde volk hul identiteit in die onwrikbare ruimte wat God is. Jahwe – ’n woonplek van geslag tot geslag (Psalm 90: 1).

(Ds Marina Kok-Pretorius is leraar in Gemeente Potchefstroom)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap