
Die gemeente van Silverton
In ’n tyd waarin kerkeiendomme verkoop word en gemeentes ontbind of saamsmelt, is daar steeds gemeentes wat hoë ouderdomme bereik en dit met trots vier.
Op hierdie blad het ons in Mei vanjaar berig oor Gemeente Bronkhorstspruit se 150-jaar-viering in April, en in Junie oor Roossenekal se 100-jaar-viering in Mei.
Intussen was dit die beurt van Turffontein (90 jaar), Silverton (80 jaar) en Greylingstad (75 jaar).
Turffontein het op Sondag 19 Mei hul 90ste bestaansjaar gevier. Hul stigtingsdatum is 15 Mei 1929. Dit was ’n tydperk waarin groot ekonomiese insinking beleef is. Die Stadsraad van Johannesburg het die stuk grond waarop die kerkgebou opgerig is, geskenk. Op 26 Februarie 1944 is die hoeksteen van die kerkgebou gelê.
Tydens die 90-jaar-fees is die erediens gelei deur ds Mc Donald. Lede van die Adorare Deus Music Performance Group, Liana Simmonds en Karen van Heerden, het opgetree. Groeteboodskappe is oorgedra deur dr WC van Wyk, sekretaris van die Kommissie van die AKV, en dr WA Strydom, voorsitter van die Ringskommissie van Johannesburg. Ds CJ van Wyk het as seremoniemeester opgetree.
Gemeente Silverton is op 20 Mei 1939 gestig en is dus vanjaar 80 jaar oud. Die tema van die Dankfeesnagmaaldiens op Sondag 19 Mei was Die Kerk is liefde uit 1 Korintiërs 13.
Na afloop van die erediens is ’n gemeentefoto geneem. Daar was heelwat oudlidmate teenwoordig wat diep spore getrap het. Na die ete was dit tyd om die verjaardagkoek te sny. Die suster wat die koek gebak het, het in die gemeente grootgeword – sy en haar voorgeslagte trap al van vroeg af diep spore in die gemeente, selfs nog voor die huidige kerk gebou is.
Ds Henk Labuschagne, die huidige leraar, se wens vir die gemeente is dat God hulle deur sy genade vir nog 80 jaar sal bewaar en seën, en dat hulle waarlik hul roeping in en om die gemeenskap van Silverton sal uitleef – dat hulle alles sal doen in liefde.
Gemeente Greylingstad het hul 75ste verjaardag op Sondag 26 Mei gevier met ’n dankdiens. Die gemeente is op 27 Mei 1944 gestig. Die feesdiens is gelei deur ds Fanie Naudé, wat sedert aftrede nou reeds meer as nege jaar vanuit Pretoria die gemeente bedien.
’n Brief van gelukwense van die Kommissie van die AKV is voorgelees. Oudl Dries Pretorius het namens die ring van Heidelberg gepraat, en ds Sarel Dry van die NG Gemeente Greylingstad het gelukwense oorgedra. Talle oudlidmate, familie en vriende van lidmate was teenwoordig, asook ds Johanns van Tonder, vorige predikant.
Die afgelope twee dekades het die lidmaattal geweldig gekrimp. Tans bestaan die gemeente uit ongeveer 44 belydende lidmate en 11 kinders tussen 6 maande en 10 jaar oud. Daar is egter steeds getroue lede wat die Here met toewyding dien en hard werk met funksies.

Die kerkraad en besoekende predikante van Turffontein

Greylingstad se kerkraad: Oudle Cas en René Pieters, diak Danie Riekert, diak Cas Pieters jr (skriba), ds Fanie Naudé, diak Elize van Jaarsveld (kassier), diak Bertus Erasmus en diak Kobus Els