Om die lig vir die wêreld te wees, is om God se liefde vir die wêreld te wys, om die donkerte in ander se lewens te verdryf met God se lig wat daarop skyn. Dit word ’n lig wat aangesteek bly – dit is ons kinders van die Lig se nalatenskap aan hierdie wêreld!

2023 is ’n jaar van hernieude hoop, nuwe geleenthede en opwindende avonture, en die Nasionale NHSV Kongres wat voor die deur lê! Die wêreldwye pandemie in 2020 het die NHSV Kongres daardie jaar in die wiele gery. Dit maak 2023 se NHSV Kongres soveel meer spesiaal. Daar heers groot opgewondenheid onder vrouelidmate!

Nasionale NHSV Kongres 2023 – 23 tot 25 Junie 2023

Ons tema vir hierdie Kongresjaar is: Lééf die liefde – Laat julle lig so voor die mense skyn… (Matt 5: 16, AFR1983).

Die NHSV se 49ste Nasionale Kongres vind plaas van 23 tot 25 Junie 2023 in Pretoria – die openingsaand by Gemeente Montana, en die Kongresverrigtinge by Batter Boys, Montana, Pretoria.

Ons openingsaand by Gemeente Montana beloof om ’n luisteryke geleentheid te wees met prof Wim Dreyer, erepresident van die NHSV, wat die oordenking gaan lei. Die orrelis Pieter van den Berg en verskeie ander musikante gaan die begeleiding hanteer, waarna groeteboodskappe deur die Algemene Kerkvergadering en die Algemene Diakensvergadering gelewer gaan word deur onderskeidelik prof Wim Dreyer en diaken Wilna Gates. ’n Oorkonde word ook tydens die openingsaand oorhandig aan die vorige NHSV voorsitter, mev Tessa Oberholzer-Coetzer.

Lynette Beer – die mens agter die energieke glimlag!

Een van ons motiveringsprekers by die NHSV Kongres is Lynette Beer, ’n gereelde bydraer tot Finesse Voelgoed Tydskrif. Sy is ’n bekende gas op DStv kykNET se program Groot Ontbyt, en word gereeld gehoor oor die radiostasies RSG en Radio Kansel.

Na haar teologiestudies en vier jaar as jeugwerker en predikant, het sy die korporatiewe wêreld betree en internasionaal naam gemaak. Deur verdere studies in die sielkunde, ontdek sy haar passie – om mense te bemagtig om hul drome en ware potensiaal te ontdek.

In 2016 ontvang sy die Presidentstoekenning van die SA Raad vir Sakevroue, en internasionaal word sy erken as ’n toonaangewende verhoudingskenner. Sy is ’n inspirasie vir ander vroue en haar energie is aansteeklik!

Sonja Herholdt – musiek, motivering, inspirasie!

Ons tweede motiveringspreker, Sonja Herholdt, het geen bekendstelling nodig nie. Ons ken almal die gewilde liedjies waarmee sy haar suksesvolle sangloopbaan geloods het, en die vele SARIE-toekennings wat gevolg het vir beste sangeres en beste langspeler van die jaar. Sy verdien ook ’n ereplek in die geskiedenis van Afrikaanse musiek deur die SARIE-toekenning vir beste sangeres ses jaar na mekaar te verower!

Tydens haar landwye toere en met albums soos Reconstructing Alice en INCELEBRATION, waarin sy sing van haar ervaringe van die lewe, kom sy in kontak met veral vroue en hul verhale wat resoneer met haar eie lewenspad.

Nadat sy in 2007 haar biografie vrygestel het, ontvang sy heelwat versoeke om met groepe dames te praat. Haar musiekmotiveringsprogram ontwikkel hieruit en sy deel vanuit die oogpunt van vrouwees haar lewenservaringe en lewenslesse en sing musiek wat pas by die temas waaroor sy praat. Haar programme is propvol humor en opreg uit die hart!

OhYesLet’s

Wie het gesê ons Hervormde predikante is nie musikaal nie! Ons is baie opgewonde oor die sanggroep OhYesLet’s wat gaan optree by ons Kongres. Hul groep se naam het ontstaan uit hul antwoord op geleenthede waar musiek gedeel kon word: OhYesLet’s.

Hierdie talentvolle sanggroep, onder leiding van ds Schalk Zastron van Gemeente Ermelo, bestaan uit twee diensdoende predikante (NGK en NHKA), asook vyf onderwysers van Hoërskool Ermelo. Hulle tree gereeld op by funksies. Hul musiek is grotendeels sonder begeleiding, maar die groep het ook al die waagmoed aan die dag gelê om werke wat uit meer as agt stempartye bestaan, met sewe stemme vol te sing!

Ons identiteit lê in die vertroue en oortuiging dat ons op hierdie tydstip van ons lewe deur God bymekaar geroep is om te sing, want dit is lekker, en mense mag deel in daardie lekker!

Beskrywingspunte

Die beskrywingspunte wat gaan dien by die NHSV Kongres bepaal die NHSV se aksiestappe vir die volgende drie jaar en die projekte wat ons gaan aanpak.

Beskrywingspunt 1, Waarom verlaat die jeug die kerk, is ’n aktuele onderwerp in hierdie tydsgewrig. Ons word gekonfronteer met tendense soos dié in gemeentes, en ons probeer proaktief dink om hier ’n verskil te kan maak.

Beskrywingspunt 2, Ouerbetrokkenheid, is ’n oproep tot Christen-ouers om betrokke te wees in hul kinders se lewens. ’n Gebrek aan in-diepte-kommunikasie in gesinne is ’n groot bron van kommer en ’n realiteit waarmee ons gekonfronteer word.

Beskrywingspunt 3, Geestesgesondheid, bespreek die emosionele welstand van ons lidmate wat dikwels ’n invloed het op hul geloofslewe. Geestesgesondheidsprobleme word baie keer uit onkunde verkeerd hanteer; ons benodig kundiges vir die korrekte hantering daarvan.

Beskrywingspunt 4, Ondersteuning aan predikantsvroue en predikanteweduwees, is ’n onderwerp wat ons baie na aan die hart lê. Die NHSV is diep bewus van die groter ekonomiese en sosiale kragte wat inspeel op alle predikantsgesinne, emeriti en lidmate van ons Kerk, en ons wil hande vat met die Welstandsprogram van die NHKA wat deel uitmaak van die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB).

Mededelings, verslae en ons eie QUIZ

Saterdagaand hou ons ’n vasvra QUIZ in regte Noot-vir-Noot-tradisie met vrae oor die Hervormde Kerk, NHSV, Ons Tuis, ADV, DPS-huise, Rata, SP Engelbrecht-museum, Bybelgenootskap, Eendrachtkring, TOIBO, en Bybelvasvra-vrae tussenin vir die pret! Die dames gaan in groepe deelneem, en aan die einde van die QUIZ is daar ’n verrassing vir die wenners sowel as vir die ander Kongresgangers!

Al hierdie kerkgroepe en instansies waaroor die QUIZ handel, woon ook die Kongres by en gaan mededelings aanbied oor elke organisasie se werksaamhede binne en buite die Hervormde Kerk.

NHSV verslae maak deel uit van elke NHSV Kongres waar ons die NHSV se werksaamhede van die afgelope drie jaar met die afgevaardigdes deel.

Kongresoproep en geloofsbrief

Vir die vrouelidmate wat nog nie jul plek geboek het by ons NHSV Kongres nie, vra ons om so gou moontlik te bespreek en te bevestig.

Ons bied finansiële ondersteuning aan vir NHSV takke en vrouelidmate wat graag die Kongres wil bywoon – kontak die NHSV kantoor by 012 325 0117 of stuur ’n e-pos na admin@nhsv.org.za met die versoek – ons help graag.

Die Kongresoproep en geloofsbrief is reeds uitgestuur aan alle gemeentes se vrouelidmate en NHSV takke. Die geloofsbrief en besprekingsvorm is beskikbaar by https://nhsv.org.za/omsendskrywes/.

Dit beloof om ’n inspirerende geleentheid te wees vir vrouelidmate, waar ons ook die eerste doelstelling van die NHSV nakom, naamlik om vrouelidmate geestelik te verryk, hulle te bemagtig vir hul dienswerk, en onderlinge verbondenheid te bevorder.

Die mense wat jy aanraak, moet God se lig in jou sien – jy straal sy liefde en heerlikheid uit! Ons reflekteer God se lig in hierdie wêreld!

(Mev Mari-lizé Beukes is voorsitter van die NHSV Hoofbestuur)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap