Avondsmaalviering is gehou op 23 en 24 Oktober 1920 in Gemeente Ventersdorp (gestig 20.02.1892 en kerkgebou ingewy 28.03.1913), waartydens ds DF Erasmus as herder en leraar bevestig is – vir ’n rekord van 43 jaar! In De Hervormer van 15 Desember 1920 word berig dat die opkoms by die geleentheid buitengewoon groot was en op ieders gelaat was vreugde en blijdschap duidelik zichtbaar. Uit hierdie vertelling leer ons baie van hoe so ’n Nagmaalnaweek en die ontvangs van ’n nuwe dominee gelyk het meer as ’n eeu gelede.

’n Gewone kerkraadsvergadering is Vrydagoggend 22 Oktober 1920 gehou onder leiding van die konsulent, ds Simon Vermooten. ’n Konsulent is ’n predikant vanuit die ring wat as instaanpredikant dien in die gemeente terwyl daar nie ’n vaste dominee is nie. Daarna volg die ontmoeting met ds Erasmus en sy gesin Vrydagmiddag om 16:00 ’n paar kilometer buite die dorp langs die hoofpad na Potchefstroom. Oudl Koomans van Potchefstroom het van daar af die Erasmusse per motor gebring.

’n Wagtende skare het vergader by die brug in Hendrik Potgieterstraat: onder andere di CW du Toit en S Vermooten (Gemeente Potchefstroom), PW Ennis (Gemeente Klerksdorp) en KT van den Heever (NH of G Gemeente Ventersdorp), en selfs kerkraadslede van die susterskerke. Daar was 15 motors, 16 rytuie, perderuiters en rywiele (fietse). Die tydelike pastorie was nog nie heeltemal gereed nie en daarom is die stoet na die huis van diak CW Hudson, waar die predikantsgesin vir ’n paar dae sou bly. Met ’n toespraak deur ds Vermooten, ’n studentevriend, en die skriba van die kerkraad, oudl FWC (Hansie) Buitendag, is almal verwelkom.

Vrydagaand vind die amptelike onthaal-ontvangs van ds en mev Erasmus, as aandete vir 30 gaste, in die Goewermentskoolgebou plaas. Weer het ds Vermooten gepraat namens die kerkraad en die gemeente. Die skriba lees en oorhandig ’n versierde, geskrewe verwelkomingsgroet genoem ’n “adres”. Ds Ennis voer daarna die woord. Hy wys daarop dat hy net soos ds Erasmus oorgekom het na die NHKA uit die Verenigde Kerk (NH of G), en hy hoop dat ds Erasmus ook net so tuis sal wees. Daar was toe ’n predikantenood in die NHKA. Ds Van den Heever spreek die wens uit vir hartlike samewerking op die dorp.

Verdere sprekers was emeritus ds CW du Toit, die stigter van die gemeente, asook die burgemeester dr Schulenburg, broer Hudson namens die skoolraad, mnr Neethling namens die onderwysers, en nóg sprekers wie se name nie in die berig vermeld word nie. Ds Erasmus het die toesprake afgesluit met ’n dankwoord. Nadat daar heerlik geëet is, keer almal huiswaarts. Want HEF AAN lê nog voor!

Die bevestiging geskied Saterdagoggend om 10:00 deur die konsulent ds Vermooten aan die hand van Esegiël 3: 17. Die grote kerkgebou was so vol (daar was 1 290 belydende en dooplidmate gelys) dat mense selfs in die voorportaal en konsistorie moes staan omdat die gange in die kerk ook reeds vol was. Saterdagmiddag om 15:00 het ds Erasmus sy intreepreek oor 2 Korintiërs 5: 11 gelewer. Weer eens was die gebou stampvol! Die onthulling van ’n monument op die graf van ds FS du Toit die aand om 18:00 deur ds CW du Toit was ’n hartverskeurende oomblik. Dit was ’n erediens in die kleine in die begraafplaas, met Psalmgesang, gebede, toesprake deur onder andere oudle R Buitendag en CJ Joubert, en die seën.

Saterdagaand was dit die voorbereidingsdiens met die oog op Sondagoggend se Nagmaalviering. Sondagmiddag om 15:00 was die dankseggings- en doopdiens waar 24 kinders gedoop is. Tydens die aanderediens het ds Vermooten as konsulent afskeid geneem. Die plegtige dae loop daarmee ten einde. De gemeente Ventersdorp leve in vreugde.

Wie was hierdie Ventersdorper? Daniël Francois Erasmus is op 4 Februarie 1893 in Graaff-Reinet gebore, gedoop op 16 April 1893, en lê belydenis af op 6 November 1911 in die NG Gemeente Aberdeen. Sy ouers was Cornelus Wilhelmus Erasmus en Maria Magdalena Johanna Joubert. Hy studeer aan die Universiteite van Amsterdam en Utrecht in Nederland. Op 22 Maart 1917 tree hy in Amsterdam in die huwelik met Anna Cornelia Georgina Krever (11.01.1891-12.02.1972) en vertrek op dieselfde dag na Suid-Afrika. Hy word georden in die Groote Kerk in Kaapstad, werk van 22 Junie 1918 tot Oktober 1920 in NG Pietermaritzburg. Die pastorie was geseënd met vier kinders: Francois Wilhelmus Leonardus (Leon), Euódia Krever (Sus), Cornelus Wilhelmus en Daniël Francois (jr). Die derde kind, Wilhelmpie, sterf op ses maande in 1928 aan meningitis en rus langs sy vader en moeder in Ventersdorp se Ou Begraafplaas. Op hul begrafnisbriewe dank die kinders die Heer vir voorbeeldige ouers. Ds DF (sr) emeriteer ná 43 jaar onafgebroke diens in die gemeente, en 46 jaar as predikant, op 11 Oktober 1963. 40 jaar lank was mev Erasmus-Krever orrelis. Hy was ’n pyproker, skaakspeler, motorliefhebber en ewige student. Hy sterf op 25 Mei 1978 in Heilbron aan huis van sy predikantseun Danie.

Op die foto’s is die egpaar op hul troudag wat hulle wys as jongmense in die tydperk van hul ontvangs op Ventersdorp, en ná 43 jaar: Ds (in sy stofjas) en Mev langs die kerk by sy geliefde 1959 Chevrolet Biscayne – ’n spiksplinternuwe geskenk van die gemeente in 1959!

(Bronne: Almanak 1979; Argief van die NHKA, Pretoria: foto’s; Argief van die NG Kerk, Stellenbosch: Doopregister NGK Aberdeen; Botha SJ: Nederduitsch Hervormde Kerk Ventersdorp 1892-1992; De Hervormer 15 September 1920 – Officieel, 15 Oktober 1920 – Kennisgeving, 15 Desember 1920 – Avondsmaalviering te Ventersdorp deur FB; Die Hervormer Desember 1960, Januarie 1961 en Augustus 1978; Erasmus DF: Na vyftig jaar: ’n Beknopte oorsig van die Ned Hervormde gemeente Ventersdorp 1892-1942; Erasmus FWL (Leon, kleinseun): Foto uit familiealbum en onderhoud; Nederlandse geboorte-, huweliks- en sterfregisters, asook stamboom (voor- en nageslag) van Daniel Francois Erasmus en aangetroude familie)

(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap