Ek is die afgelope tyd opnuut ontnugter en ontstel deur die samelewing waarin ons leef. Na my mening moet die profetiese stem van die Kerk ’n slag gehoor word jeens die onreg van ons tyd.

Weens die voorreg wat ek gehad het om in Europa te studeer en weens my lewendige belangstelling in geskiedenis, het ek die verwoesting van kommunisme gesien. Daar is tot vandag toe nog ’n aantoonbare en aanvoelbare agterstand tussen Oos- en Wes-Duitsland. Die armoede en gebrek aan onderhoud is tasbaar wanneer ’n mens die grens tussen Oostenryk en Joego-Slawië oorsteek. Uit ’n gesprek met ’n Poolse meisie in ’n jeugtuiste in Innsbruck hoor ek hoe sy en haar ma in die ysige winterkoue vir ure in ’n ry met ’n koepon moes staan en wag op hul daaglikse voedselrantsoen. Wanneer dit hul beurt is, is die vleis vir die dag op en hulle kan net brood kry wat al begin skimmel het. Op die staatshoof se verjaardag moet die volk baie bly wees, want dan ontvang elkeen ’n lemoen as spesiale toegif van die staat.

Toevallig, tydens my mees onlangse besoek aan Duitsland, arriveer my vlug op die Dag van die Duitse Eenheid. Dit is die dag waartydens die val van die Berlynse muur in 1989 gedenk word. Die koerante en televisie wemel van artikels en berigte om die gebeure in herinnering te roep. Daar word moeite gedoen om die toestand in die destydse Duitse Demokratiese Republiek (DDR) aan die jeug van vandag te verduidelik. Families wat permanent van mekaar geskei is en reismoontlikhede wat dramaties ingeperk is, om nie eens van vryheid van spraak te praat nie. Die enigste voertuig wat in Oos-Duitsland beskikbaar was, was die Trabant: almal met ’n maksimum snelheid van 60 myl per uur, standaard in dieselfde kleur. Wanneer jy ’n Trabant vir die gesin wou aanskaf, moes jy maande daarop wag, want daar was geen mededinging tussen verskillende fabrikate nie. Die Duitse kinders van 2019 kyk hierna en kan hulle dit hoegenaamd nie voorstel nie. Hulle woon in een van die vryste en rykste lande ter wêreld, met een van die sterkste demokrasieë. Vir hulle is hierdie inperking van vryhede ondenkbaar.

Ek lees tans ’n biografie van ’n Duitse Protestantse dominee in Leipzig. Sy ganse loopbaan het onder die kommunistiese bewind verloop. Hy skryf hoe sy gemeente daagliks vir ’n biduur byeengekom het om vir die val van die Berlynse muur te bid. Sommige lidmate het totaal hoop verloor en was oortuig dat die toestand nooit sou verander nie.

Met al hierdie kennis en ervaring as agtergrond, hou ek soos enige Hervormde dominee die nuusgebeure van die dag dop. Ek verklaar my verwysingsraamwerk en lê my persoonlike vooronderstellings bloot. Ek hoor hoe ’n verskriklike oortreding dit is om ’n skeldnaam te gebruik om na sekere bevolkingsgroepe te verwys. Dit het verdoemende gevolge vir diegene wat hulle daaraan skuldig maak. Natuurlik met reg. Godvresende mense behoort nie vir die vernedering of aantasting van die menswaardigheid van die medemens verantwoordelik te wees nie. Ek stem saam.

Maar terwyl hierdie storm voortwoed oor ’n oortreding wat hoogstens deur die hof as crimen iniuria beskou word, en terwyl betogings wêreldwyd gehou word en slagspreuke op sportspanne se klere pryk oor die kosbaarheid van dié bepaalde rassegroepering se lewens, stroom die boodskappe oor die veiligheidsgroep waaraan ek behoort in oor die 28 plaasaanvalle en drie plaasmoorde in 14 dae. Elkeen van hierdie aanvalle word gekenmerk deur uiterste geweld en wreedheid. Die slagoffers is dikwels weerlose bejaardes. Tog, geen veroordeling hiervan deur die openbare hoofstroommedia nie; geen betoging in enige stad in die wêreld nie; geen sportspanne met spesiale slagspreuke nie. Nou wonder ek: Is hierdie mense se lewens dan nie kosbaar nie? Goeie, Godvresende, vreedsame mense wat op hul plase ’n bydrae tot die land se voedselsekerheid wou maak, word wreedaardig met kapmesse vergruis.

Waar is die oproer? Waar is die protes? Waar is die stemme teen hierdie gruwel wat enige beskaafde mens, ongeag geloofsoortuiging, teen die bors behoort te stuit? Maar al wat ons hoor, is oorverdowende stilte. Waarom? Want dis nie nou polities korrek nie. Julle Afrikaners moet swyg en hierdie onreg maar verduur as vergelding vir al jul wandade onder apartheid. Intussen mag julle niks sê wat die regering van die dag se gevoelens kan seermaak nie, want julle het wit bevoorregting geniet. Ons mag nou terugneem wat jul voorvaders van ons gesteel het. Ons is verontreg en julle is die oortreders. Daarom geld daar twee stelle reëls. Daarom is jul lewens nie soveel werd as ons s’n nie. Ons hou wel van jul ruim bydraes tot die mankoliekige staatskas. Dit is ook ons reg om dit te plunder.

Indien die NHKA nie ’n profetiese stem teen hierdie onreg laat hoor nie, het ons geen bestaansreg in hierdie wêreld nie. Ons sal eendag aan die Here God moet verantwoording doen oor waarom ons maar weer polities gedienstig was aan die regering van die dag. Hopelik sal die enkele oorblywendes van die vermoordes se nageslag ons dankbaar wees dat ons darem oor 30 jaar van nou kransies gaan lê by hul grafte. Dalk sal ’n emerituspredikant uit my generasie ’n paar gevleuelde woorde spreek: Eendag, nie so lank gelede nie, was daar mense uit Europese bodem wat in Suid-Afrika geleef het. Hulle was die draers van die Kerkhervorming en hulle het Sondae Bybels-Reformatoriese teologie op hul kansels probeer verkondig. Hulle het gereeld kerkbasaars gehou en ywerig kospakkies onder minderbevoorregtes versprei sonder aansien des persoons. Hulle het ’n uiters lofwaardige diakonale sisteem gehad wat soveel vir kwesbares in nood gedoen het. Maar hul lewens was mos nie belangrik nie. Nou plaas ons hierdie blommetjies hier ter herinnering aan hulle.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link