Jy het die verrigtinge geopen met ’n gepaste boodskap. Jy gaan sit weer om vir ’n wyle te vertoef – een helfte belangstelling, ander helfte ordentlikheid. Jy sal netnou uitglip. Die een wat die mikrofoon by jou oorgeneem het, het egter skaars begin, of jy hoor die gewraakte woorde: Die dominee sal saamstem as ek sê…

Die dilemma is dat hierdie dominee heel moontlik nie gaan saamstem met wat jy sê nie, of selfs lynreg daarvan gaan verskil – maar, nou ja, jý het die podium. Maar ek wonder wat het jou so seker gemaak van my siening oor die saak?

Daar bestaan ’n persepsie dat ons geloof- en lewensbeginsels eenvormig en enkelduidig is – en ons doen gereeld daaraan mee deur self te poog om dit in ’n borstrok van kritieklose eenstemmigheid in te forseer. Elkeen wat dan nie presies soos ek dink, glo en praat nie, kan eenvoudig nie ook die waarheid, of ten minste ’n deel daarvan, beethê nie –  mý waarheid is mos dié waarheid. Dit is onafwendbaar dat ons aannames maak op grond van ons eie vooroordele en persoonlike perspektief, maar ongelukkig lei dit tot ongegronde gevolgtrekkings, veralgemenings en gewaande sekerhede wat geen ruimte laat vir alternatiewe sienings nie.

Teoloë wat hul sout werd is, beoefen hul vakgebied verantwoordelik met genuanseerde uitsette. Hulle slaag daarin om hul eie subjektiwiteit op te skort en hulle is versigtig vir kategoriese uitsprake. Ons eksegese en dogma durf nooit finaal wees nie – daar word immers gesê dat die Bybel so vlak is dat klein kindertjies daarin kan baljaar, maar tegelyk so diep dat hooggeleerde teoloë nie die bodem daarvan kan vind nie.

Dat die samelewing graag woorde in die mond van die kerk en gelowiges lê oor aktuele en dikwels kontroversiële sake, is reeds problematies. Maar dit is die onverdraagsaamheid van kerkmense teenoor mede-Christene wat net effens “anders” leef en glo as hulle wat selfs meer pla.

Dit is natuurlik nie net verskillende kerkverbande wat onder mekaar inklim nie, maar sommer ook lidmate van dieselfde kerk wat, agterdogtig oor persoonlike motiewe, mekaar verskeur en verslind. En dit is gewoonlik nie kernkwessies nie, maar die sake op die periferie, die “mindere sake”, wat geensins Skrifgesag of belydenistrou in gedrang bring nie, wat lei tot verdagmakery en uiteindelik konflik. Ons kapittel mekaar oor nietighede en klein verskille want ons kan nie aanvaar ons “reg” is net so voorlopig soos die ander een s’n nie – en dus net so onderhewig aan korreksie.

Hierdie is natuurlik ’n ou-ou probleem. In dispute met sy opponente moes Jesus gereeld op die een strikvraag na die ander antwoord – alles pogings om getuienis teen Hom in te win en Hom as ’n “valse leermeester” te ontmasker. In Matteus 22 lees ons byvoorbeeld van ’n vraag oor belasting om Hom in die moeilikheid by die Romeinse owerheid te bring, en ook vrae wat moes aantoon dat Hy die wet van Moses minag. Meesterlik systap Hy al die pogings en snoer Hy keer op keer hul monde.

En dan, in Matteus 23, spreek Jesus die Skrifgeleerdes en Fariseërs skerp aan en in vers 24 sê Hy: Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in. Nou daar is ’n lekker manier om te sê dat jy so op die klein dingetjies fokus dat jy die groot en belangrike goed miskyk!

Jesus het dit teen die klomp huigelaars wat baie getrou tiendes gee van kruisement, anys en koljander, maar dan skeep hulle geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid heeltemal af – dit wat juis die belangrikste is. Om ’n muggie in te sluk, was teen die reinheidswette wat die Fariseërs slaafs nagevolg het. Hulle het daarom hul water noukeurig gesif. Maar hul harte het veel minder aandag gekry as hul wette.

Al daardie beuselagtighede waaroor ons so kibbel en ons in onverkwiklike konflikte laat vasval, is niks anders as muggies nie. Daar is immers veel groter probleme in die wêreld (en in die kerk) wat dringend ons aandag vereis.

Dit alles het deur my gedagtes gegaan terwyl ek dr Chris le Roux se artikel in hierdie uitgawe gelees het. Die omvang van die vervolging van Christene in lande soos Noord-Korea, Somalië en Jemen is weersinwekkend. In teenstelling daarmee geniet Suid-Afrika ’n gesonde mate van godsdiensvryheid, onder andere danksy grondwetlik-beskermde godsdiensregte. Maar juis daarom is dit ironies dat Christene hier te lande dikwels mekaar se grootste vyande is. Wat Christene aan mekaar doen, is in ’n sekere sin skokkender as wat die ongelowiges aan Christene doen – dalk omdat ons weet: Dit hoort nie so nie! Maar die makste honde byt mos die seerste…

Op ’n positiewer noot: Die redaksie wens elke leser van Die Hervormer ’n vredevolle, vreugdevolle en geseënde Advent en Kersfees toe. En mag 2024 alles wees waarop ons gehoop het en waarvoor ons gebid het.

Die laaste woord behoort aan Boerneef:

Dis skuins voor 12 op Oujaarsaand
Deetsimmermaand se laaste aand
ek soek ’n hartswoord om te sê
maar dalk word ek verbokkereerd
en sê my diepste woord verkeerd
kom staan liewer hier naby my
laat stilbly sê wat ons wil weet
hier skuins voor 12 op Oujaarsaand

Share via
Copy link
Powered by Social Snap