“Ja-nee”. Tydens ’n onlangse uitstappie na die Leeu- en Safaripark in Hartbeespoort, probeer ek en ’n paar Suid-Afrikaanse vriende die omvang van “ja-nee” (ons Afrikaanse uitdrukking as reaksie op byna enige iets) vir een van my Duitse navorsingsgenote verduidelik. Sy is by ons Fakulteit vir drie maande se empiriese navorsing oor die impak van klimaatsverandering in geloofsgemeenskappe in Suider-Afrika en wil Afrikaans leer.
Ons is drie Afrikaanssprekendes in die motor dié dag en die gesprek begin omdat een van ons opgemerk het, “ja-nee, hier gaan ons lank wag om in te kom”, toe ons by die leeukamp wil ingaan om te sien hoe die leeus gevoer word. Dadelik val dit die Duitser op en sy wil weet: Is dit “yes-no”? En haar vraag: Wat beteken dit? Iets is tog “ja” of “nee”. Tegnies gesproke is sy reg, merk die res van ons op, maar ons beklemtoon dat dit nie eintlik in Engels só direk vertaal kan word nie. En daarmee begin ons prettige en taamlik ontoereikende poging om te verduidelik hoe ons dit in ons voertaal gebruik. Ek probeer eerste: “Ja-nee” kan as ’n bevestiging gebruik word of om iets te beklemtoon. Die ander vriendin las by: Dit word soms met ’n sug uitgespreek, met so ’n effense moedeloosheid. Soms, sê die ander vriendin, bedoel ’n mens eintlik net “ja” as “ja-nee” gebruik word. Ek weet nie of ons dit reg verduidelik het nie, want ons Duitse gas was taamlik deurmekaar en het daarna nog nooit die uitdrukking self as ’n respons gebruik nie, terwyl sy die hele tyd haar “ja’s” en “nee’s” in Afrikaans wel oefen. Die prettigheid van die gesprek het daarin gelê dat ons probeer verduidelik het hoe “ja” en “nee” saam “ja” óf “nee” kan aandui (instemming of verskil). Taal is mos maar dinamies en dikwels ietwat eksentriek.
Tydens ’n latere stil oomblik in die motor, terwyl ons na die sebras kyk, is ons elkeen met ons eie denke besig, en my gedagtes haak vas by die “ja” en die “nee”. Dit haak daar vas omdat ek twee dae tevore doelbewus besluit het om die uitstappie mee te maak terwyl “die merkwerk, die 112de verslag, skripsies, tesisse, artikels, en e-posse wat oornag kleintjies kry, en, en, en” ophoop – soos Anastasia de Vries onlangs in die Vrye Weekblad opmerk in haar versugting na ’n tyd toe ’n mens se tyd jóú tyd was. Ek het besluit om die uitstappie mee te maak enersyds uit protes teen ’n 14/15-uur-per-dag-7-dae-’n-week-werkpatroon wat besig is om algaande in my lewe pos te vat. Andersyds het ek die besluit geneem vir ’n (hopelik) meer positiewe rede (nie as teenreaksie nie), en dit was bloot die vooruitsig om ’n stukkie van ons pragtige dierelewe hier in Suid-Afrika te kan geniet.
Ek sit daar in stilte in die motor, en probeer my huidige situasie in oënskou neem, gegewe ons nadenke oor die betekenis van “ja” en “nee”. Wat lei alles daartoe dat ’n mens jouself op ’n goeie dag in ’n situasie bevind waar jy uit een dag uit val en binne-in die volgende een inval, sonder begrip van tyd en struktuur en horisonne, omdat jy by twee dinge op jou lys van sewe uitkom, ’n nuwe lys die volgende dag begin en totaal en al beheer verloor het oor jou e-pos, jou oggende en aande – jou tyd?
Toe ek ’n kelner was vir twee jaar na matriek om geld te spaar vir verblyf vir my eerste paar jaar op universiteit, het ons ’n uitdrukking gehad vir wat met kelners gebeur wanneer die restaurant so besig raak en soveel groepe mense aan jou toegekende tafels tegelyk gaan sit het – en dit was dat jy “spin”. Dit is dan wanneer bestellings en ’n vinnige versoek vir nog water of ’n ekstra mes/tamatiesous of ’n tweede koppie koffie agterweë bly omdat jy net al die mense sien wat aanhoudend inkom en letterlik net op die eerste volgende taak wat voorval, kan fokus. Die ander take wat op die lys was, bly agterweë en val deur die krake. Almal se belange is uiteraard belangrik binne die konteks en onmiddellike ruimte (bestek) van hul bestaan, so jy kan nie kies nie. Die kuns van prioritisering raak lewensbelangrik, en selfs dan val iets deur die krake, en jou skuldgevoel is ’n konstante metgesel – en so ook ontevrede mense. Nadat ek vir twee jaar in ’n baie besige koffiewinkel volgelaaide skinkborde tydens my “spin”-tye by trappe op en af gedra het, het ek ’n knop in een spier in my linkerskouer ontwikkel wat nooit weer weggegaan het nie. Wanneer ek nou vir masserings of na ’n fisioterapeut vir algemene behandelings gaan, merk hulle vinnig die knop op en vra hoe lank dit daar is – en my antwoord: meer as 20 jaar. En as my spanning toeneem en my skedule oplaai, dan kom die brandpyn maar net weer terug, so asof vir die eerste keer. Is dit ’n merkteken van ’n mens se vrywillige keuse of jou keuse ter wille van omstandighede?
In die stilte daar in die motor daardie middag kontempleer ek toe wat dit beteken om nou – in hierdie tyd – “ja” en “nee” te sê. Dikwels in my lewe het ek al gehoor, nadat ek ’n taak vinnig en goed afgehandel het, “jy is ’n staatmaker”, of “jy is ’n ster”, en dit het my altyd goed laat voel omdat ek besonder nougeset is, en omdat dit ’n bevestiging van my Godgegewe talente en ’n blye erkenning van my akademiese prestasies is.
Ongelukkig het ek mettertyd ook die ervaring gehad dat die “kompliment” dat jy ’n “ster” is, ’n skadukant het en dat ’n “staatmaker” – veral ’n vrou – op kort kennisgewing allerlei dinge gevra word, en take toegeken word, op ’n Sondagaand gebel vir ’n stuk onbenullige inligting, omdat jy weet sy sal dit taamlik blitsvinnig en volledig vir jou gee, of doen, of stuur. Hoe moet ek dit beskryf sodat daar nie vir my gesê word dat ek oorsensitief of emosioneel is en dat ek nie ’n kompliment kan aanvaar nie? Miskien kom dit daarop neer dat die een aan wie die werk as “staatmaker” en “ster” toegeken word en wat aanhoudend genader word, se kwaliteit nie misgekyk word nie en erken word (positief), maar dat dit algaande ’n stuk manipulasie kan impliseer en ook ’n stuk luiheid en entitlement aan die kant van die een wat die opdrag/taak/versoek maak (negatief). Ek wonder altyd wat beïnvloed die byna instinktiewe reaksie om vir ’n spesifieke persoon te vra om “gou-gou” iets te doen.
Om die hele tyd waaksaam te wees sodat jy nie misbruik of ge-patronise word nie, is taamlik uitputtend. En alhoewel ’n mens altyd ’n kompliment en erkenning van talent behoort te kan erken en waardeer, moet ’n mens egter wakker genoeg wees, sodat jy nie die hele tyd “ja” sê wanneer jy eintlik moes begin het om “nee” te sê nie. Binne die aaklige statistieke van geslagsgebaseerde geweld, word vroue (en ook mans) se “nee” dikwels nie aanvaar nie, omdat die aaklige oortuiging binne hierdie geweld-psigologie bestaan dat ’n “nee” ’n poging is om te manipuleer vir ’n beter uitkoms, en derhalwe is ’n “nee” eintlik maar ’n “ja”.
Dan kom ons by die vrees wat ons elkeen ook maar koester: dat om “nee” te sê binne ’n werkskonteks beteken dat jy vir jouself “deure toemaak” of dat jy miskien ondankbaar is, of – as ons eerlik is, is dit miskien die vrees wat die donkerste by ons woed – dat ons “nee” sal aandui dat ons nie in staat is om die ekstra werk te kan doen nie, of die ekstra verantwoordelikheid te kan dra nie, of dat dit vir jou werkgewer of departementshoof ’n boodskap uitstuur dat jy nie bereid is om die “ekstra myl” te loop nie. En alhoewel iemand wat die “ekstra myl” loop ’n gesogte werknemer is en hoog op prys gestel word, kan dit blitsvinnig in manipulasie en ’n subtiele magspel ontaard. Hiermee saam leef almal binne ons gebroke menslike werklikheid met die realiteit saam dat ons te alle tye meeding om beperkte goedere, en uiteraard sal sekere werkgewers hierdie kompetisie-mentaliteit uitbuit en selfs aanmoedig.
Die saak het ’n ander kant: dat jy werk uit iemand se hande uitneem omdat jy namens hulle besluit dat hulle te besig is, of dit nie kan hanteer nie, of omdat jy hulle wil “spaar”. Dit is doodeenvoudig ongeskik en mens-onterend, en dit word dikwels so subtiel gedoen, en so word sommige mense by voorbaat bepaalde geleenthede ontneem. Die goue reël is om met mense te praat en nie oor hulle nie en beslis nie namens hulle nie. Dit is ’n fyn lyn van onderskeidingsvermoë, ten opsigte van mekaar en van jouself. En dit is ’n voortdurende keuse om doelbewus jou onderskeidingsvermoë te toets, en te oefen. Om hard te werk, is prysenswaardig en in sommige omstandighede vir lang tye noodsaaklik – en dit bied tevredenheid en trots en genoegdoening. Maar beide die uitbuiting van ’n goeie werketiek en selfoorlading in die naam van ’n goeie werketiek, is iets waarvoor ons besonder waaksaam behoort te wees – veral te midde van ons voortslepende veranderende werklikheid waarin vergaderings en werkswinkels en simposiums en toerusting “gou-gou” in die aand of oor ’n naweek moet plaasvind, waarin werkgewers vir hul werknemers buite werkstyd en oor naweke work-related WhatsApp-boodskappe stuur, en waarin ons onsself dan mettertyd in ’n always on-kultuur bevind.
As iemand vir jou sê “pas jouself op” of “kyk mooi na jouself”, maar hul gedrag teenoor jou spreek van die teendeel of lei tot ’n teenoorgestelde uitkoms, wat bly dan vir jou oor? Miskien is dit om te leer en te oefen om “nee” te sê. En miskien nog belangriker as dit: Ons moet leer om daardie “nee” te respekteer.
(Hierdie teks is ’n persoonlike meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Ja-nee is mynsinsiens eintlik onvertaalbaar. Dis uniek aan Afrikaans.Die naaste daaraan in Engels is seker om met ‘n diep sug”Jip…” te sê.
Twee omies sit tjoepstil op die stoep. Elke nou en dan gee een ‘n sug en sê “Ja” Die een omie gee later ‘ndiep sug en sê “Ja-nee.. “Nou, praat jy!” roep die ander een uit.