Op 24 Februarie 2022 gebeur die ondenkbare – Rusland val Oekraïne binne. Wanneer ek hier skryf, is die oorlog amper reeds drie weke lank, met verskeie sterftes aan beide kante.

Op ons televisieskerms sien ons grusame tonele. Mense vlug na buurlande, ’n pasgebore baba en ’n ma sterf in ’n bomaanval op ’n kraamhospitaal, kleuterskole word verwoes in bomaanvalle, daar is tekorte aan kos en water, woonstelblokke word totaal vernietig met gepaardgaande menseslagting, mense sit in bomskuilings, paaie en brûe word vernietig, en nog is het einde niet. Die wêreld staan verstom, byna magteloos.

En baie gou kom die oproepe van heinde en ver: Ons moet bid vir vrede. Hierdie oproepe word daagliks meer en meer, en verskyn op my rekenaarskerm, veral in die sosiale media, in verskeie gedaantes wat wissel van gebedskettings en gebedsgroepe tot spesiale gebedsgeleenthede en gebedseredienste. Hierdie oproepe het my weer laat nadink oor gebed. Wat is gebed? Wat beteken dit om te bid? Wat beteken dit om te bid vir vrede? Dat ons net moet vra vir vrede, net genoeg moet vra, en dan sal dit gebeur? Of gaan dit oor meer as net vra?

Ek dink oor hierdie vrae oor gebed terwyl die son wat opkom en sak my dae oop- en toesluit. Ek worstel hiermee in my gedagtes. En dan, in een oomblik, gaan my gedagtes terug na iets wat ek op ’n keer gelees het, iets wat my perspektief oor gebed verbreed en oopgebreek het. In die uitleg van die Onse Vader, skryf iemand (wie se naam ek ongelukkig nie kan onthou nie) die volgende: Om te bid Laat u koninkryk kom, beteken nie om te wag dat God hierdie wêreld anders sal maak nie. Nee, skryf hy, om dit te bid, beteken om jou aan te meld om sy koninkryk daar waar jy leef en werk sigbaar te maak, dit te leef, en dit so te laat kom. Om te bid, is nie maar net om te vra nie, dit is ook om te doen waarvoor jy bid, om dit wat jy vra, te gaan doen. Om te bid, in ander woorde, is ook om aan te meld vir diens.

Verrassend is dit hoe daar dikwels na vrede in die Nuwe Testament verwys word. Hier is ’n paar voorbeelde:

  • Voor jy jou gawe na die altaar wil bring, gaan maak eers vrede met jou broer (Matt 5: 24);
  • julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe (Mark 9: 50);
  • as dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense (Rom 12: 18);
  • laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede bevorder (Rom 14: 19);
  • die vrug van die Gees is vrede (Gal 5: 22);
  • julle daarop toe om in vrede met mekaar te lewe (Ef 4: 3);
  • leef in vrede met mekaar (1 Tess 5: 13);
  • beywer julle vir vrede met alle mense (Heb 12: 14);
  • wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak (Jak 3: 18); en
  • doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na! (1 Pet 3: 11).

Vrede is, as ek hierdie verwysings na vrede reg verstaan, iets wat gebeur wanneer ons iets doen. As God se kinders, God se mense, moet ons vrede maak, in vrede lewe, ons beywer vir vrede, ons toelê om in vrede te lewe, en vrede najaag in ons verhoudinge met ander.

Natuurlik terwyl ons bid vir ander, vir mekaar, vir vrede, bid dat die koninkryk sigbaar sal word waar ons woon en werk, waar ons besig is, waar ons lewe. Maar dan moet ons onthou: Om te bid, is ’n ernstige saak, dit vra iets van jou. Om te bid vir vrede, is om jou aan te meld om in vrede te gaan lewe, om vrede te soek, in alle omstandighede. So lyk God se mense, so het Jesus dit ook verstaan: Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word (Matt 5: 9).

(Prof Ernest van Eck is Adjunkdekaan: Navorsing en Nagraadse Studies
en Hoof van die Departement Nuwe Testament en Verwante Literatuur aan UP se Fakulteit Teologie en Religie)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap