Die Reformasie word gewoonlik geassosieer met prominente figure soos Martin Luther, Philipp Melanchthon, Johannes Calvyn, Huldrich Zwingli, Martin Bucer en John Knox. En hul bydraes gedurende die onstuimige 16de eeu is natuurlik onbetwisbaar.

Daar was egter ook verskeie ander minder bekende individue wat ’n aktiewe en beduidende rol gespeel het. Hierdie onbesonge helde van die Reformasie het elkeen op hul eie unieke manier bygedra tot die beweging se sukses en volhoubaarheid. Hier volg maar enkele voorbeelde:

Die uitgesproke Straatsburgse teoloog Katharina Schütz Zell (1497-1562) was een van die eerste, en waarskynlik invloedrykste, skryfsters van die Reformasie. Straatsburg was deel van die Heilige Romeinse Ryk met die aanvang van die Reformasie, en Zell het vurige openbare debatte gevoer met teenstanders van die nuwe teologiese beweging. Sy het ook gereeld in haar geskrifte gepleit vir ’n aktiewe rol vir vroue in die kerk. Sy was veral bekend vir haar barmhartigheid, medelye en omgee. Tydens ’n vlugtelingkrisis in Straatsburg het sy die behoeftiges versorg en haar by meer as een geleentheid ook ontferm oor voortvlugtige hervormermans se vroue. Sy was gereeld betrokke by die ontlonting van plofbare konfliksituasies wat gespruit het uit die reformatore se handelinge. Sy het byvoorbeeld by Luther gepleit om sy geskille met Zwingli op ’n vreedsame manier by te lê.

Thomas Cranmer (1489-1556) was ’n baanbreker in die Britse Reformasie en ’n groot bron van ergernis vir die pous. Koning Hendrik VIII wys hom in 1532 aan as aartsbiskop van Kantelberg. Cranmer is instrumenteel in die nietigverklaring van die koning se huwelik wat tot die totstandkoming van die Anglikaanse Kerk gelei het.

Een van Cranmer se mees prominente bydraes was die Book of Common Prayer wat in 1549, tydens koning Eduard VI se heerskappy, gepubliseer is. Hierdie liturgiese boek het ’n sentrale rol in die aanbidding van die Anglikaanse Kerk gespeel en het ’n belangrike teks in die Engelse reformatoriese beweging geword.

In 1553 het koningin Maria I aan die bewind gekom, en sy het ’n herlewing van die Roomse Kerk in Engeland nagestreef. Cranmer is van kettery aangekla en na ’n wrede marteling is hy op 21 Maart 1556 op die brandstapel tereggestel.

Argula von Grumbach (1492-1568), afkomstig uit Bavaria se adelstand, was reeds van kleintyd af ’n ywerige Bybelleser. Sy moes tuis studeer want jong meisies het nie formele onderrig ontvang nie. Sy verskyn op die kerklike toneel wanneer ’n eertydse student van Melanchthon in Wittenberg, Arsacius Seehofer, hom in die openbaar by Luther se hervormingspogings skaar.

Seehofer, wat verder by die teologiese fakulteit in Ingolstadt (waar Von Grumbach saam met haar man, Friedrich, gewoon het) gestudeer het, haal hom die gramskap van die rektor en die universiteitsraad op die hals wanneer Lutherse geskrifte by hom gevind word. Hy word in hegtenis geneem en gedwing om sy steun vir Luther terug te trek. Von Grumbach het ’n brief aan die universiteitsowerhede geskryf waarin sy hulle uitgedaag het om met haar in debat te tree oor die teologiese kwessies wat deur Seehofer geopper is. Die brief word nie beantwoord nie, en gevolglik word dit as ’n polemiese geskrif uitgegee. Sy beroep haar op die oppergesag van die Skrif en begrond haar standpunte met meer as 80 aanhalings uit die Bybel. Haar brief het een van die mees gedrukte geskrifte van daardie tyd geword.

Hierna volg nog sewe polemiese briewe uit haar pen. Uiteindelik word ongeveer 30 000 eksemplare van haar briewe versprei. Sy beywer haar vreesloos vir vryheid van spraak en veroorsaak so ’n opskudding in Bavaria waar dit verbode was om reformatoriese leerstellings te verdedig.

Die Sweedse predikant Laurentius Petri (1499-1573) was saam met sy broer, Olaus, en koning Gustav Vasa die leidende figure van die Reformasie in Swede. Laurentius (as Lars Persson in Örebro, Närke gebore) het Luther in 1520 tydens sy studies in Duitsland ontmoet. Hy is later verder in klassieke tale en teologie aan die Universiteit van Uppsala opgelei en is in 1531 deur koning Gustav as aartsbiskop van Uppsala aangestel. Vanaf hierdie basis het hy begin om hervormingsmaatreëls in die Sweedse kerk in te voer. Hy het die liturgie aangepas en die kerkdienste vereenvoudig om dit in ooreenstemming met reformatoriese beginsels te bring.

Petri het die posisie van aartsbiskop vir ’n ongeëwenaarde 42 jaar beklee. Gedurende hierdie tyd het hy met verskeie staatshoofde gebots, veral as gevolg van sy vurige verdediging van Luther en die Reformasie. Hy het ’n belangrike rol in die vertaling van die Nuwe Testament in Sweeds gespeel wat die Bybel toeganklik vir gewone mense in Swede gemaak het.

Daar is nog vele ander onbesonge helde van die Reformasie. Maar straks is die invloedrykste van almal elkeen wat vandag steeds nederig maar rotsvas bly staan wanneer ander teologiese fokus verloor; en ook vasstaan waar die leer van die Reformasie in onguns verval, soms selfs by eertydse lojaliste; en ook elkeen wat ten spyte van groot eksterne druk getrou aan hul belydenis bly en die suiwer beginsels van die Reformasie in leer en lewe handhaaf. Dit is elkeen wat sonder ’n sweem van skroom bely dat ons uit genade alleen gered word, in Christus alleen, deur geloof alleen; wat hulle beroep op die Skrif alleen; en wat met hul hele hart uitroep: Aan God alleen die eer!

Share via
Copy link
Powered by Social Snap