Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. (Markus 16: 15)
Ek is in 2015 in Gemeente Waterberg ontvang en bevestig. Later daardie jaar het ons fees gevier, want die gemeente was 150 jaar oud. Met my eerste besoek aan die gemeente het dit my opgeval dat daar, vir so ’n ou gemeente, nie juis veel foto’s van vorige predikante teen die konsistoriemuur gehang het nie. Dr Daan van Wyk (sr), wat toe ’n lidmaat van die gemeente was en die feesbundel saamgestel het, vertel toe dat daar vir 75 jaar van die gemeente se bestaan nie ’n predikant in die gemeente was nie. Vir die helfte van die gemeente se bestaan was die gemeente op konsulente aangewese vir die sakramente en vergaderings.
Hoe op dees aarde het die gemeente deur hierdie tyd nie net oorleef nie, maar gegroei?
Vir die helfte van die gemeente se bestaan moes die kerkraad en lidmate verantwoordelikheid vir die gemeente neem. Ouer lidmate vertel hoe ouderlinge byvoorbeeld begrafnisse waargeneem het en mense waar daar siekte en smart was, besoek het. Die geskiedenis van Gemeente Waterberg het eintlik vir ons as Kerk in hierdie tye waarin ons leef baie te leer.
Op die voorblad skryf dr Wouter van Wyk oor die feit dat daar tans te min predikante in ons Kerk is. Dit is iets wat nie gou gaan verander nie. Ek dink dr Van Wyk verduidelik die redes vir die tekort aan predikante baie goed. Hierdie feit van die tekort aan predikante is iets wat ’n mens jou nie in 1991, toe ek afstudeer het, kon indink nie. In daardie stadium was daar van my klasmaats wat eenvoudig nie ’n werkruimte as predikant kon kry nie. Nie omdat hulle nie geroepe of goed genoeg was nie, maar net omdat daar ’n ooraanbod van predikante was. En nou is daar ’n tekort.
Ek glo die tyd het aangebreek dat ons weer soos Gemeente Waterberg se kerkraad en lidmate van weleer moet wegkom van die idee van ’n voltydse dominee wat die gemeente moet bedien. Dalk het die tyd gekom dat kerkrade en lidmate meer verantwoordelikheid moet neem vir die werk en bediening in hul eie gemeentes. Dit is ’n gegewe dat meer en meer gemeentes sal moet saamwerk om die verkondiging van die evangelie in hul dorpe te bly handhaaf.
Ten spyte van die positiwiteit waarmee ek hierdie redakteursbrief begin skryf het, ken ek ongelukkig ook ons mense alte goed. Destyds toe ek as predikant in Pretoria se Mootgebied gewerk het, het ons van die kant van die Ringskommissie probeer om samewerking tussen die gemeentes wat almal toe al begin krimp het, te fasiliteer. Die Ringskommissie het gedink dat ’n mens proaktief moet optree, om maar net teen stene wat deur Ouma se koeksisters gekoop is, vas te loop. Gemeentes was nie bereid om met ander saam te werk nie oor hul vrees dat hul kerkgebou die een sou wees wat opgeoffer moes word.
Ons as Kerk gaan in hierdie uitdagende tye baie mooi moet besin oor wat vir ons die belangrikste is. Om aan ’n gebou wat deur Ouma se koeksisters gebou is vas te klou totdat dit as gevolg van ’n gebrek aan instandhouding inmekaar val, of om die evangelie van hoop in ons gemeenskap te verkondig.
My bede is dat daar oor ’n paar dekades op hierdie tyd teruggekyk kan word en met trots vertel kan word hoe God se kinders hul verantwoordelikheid aanvaar het, en uitgegaan en die evangelie verkondig het, siekes vertroos het en dié wat brood en klere en hulp nodig gehad het, versorg het.
Gaan julle dan, en verkondig die evangelie aan alle mense.