Dat baie dinge baie skeefloop in ons pragtige land, is ’n feit. Dat daar baie probleme is met die infrastruktuur in die land, kan niemand ontken nie. Dat dit wil voorkom asof meer dinge stukkend is en stukkend bly as wat daar dinge is wat reg is en reg loop, is nie swartgalligheid nie, dis ’n realiteit. Maar daar is ’n ander kant ook. Ek wil probeer verduidelik.
Ek word gevra om die begrafnisdiens te doen van die moeder van mense in die gemeente waaraan ek gekoppel is. Die diens moet plaasvind in ’n Wes-Transvaalse myndorp, want dis waar die tannie se man begrawe is. Ek ry die dorp binne. Op die oog af lyk alles skoon en netjies, maar hier en daar sien ’n mens ’n huis wat ’n laag verf kort, ’n heining wat so ’n bietjie skeef hang.
Die kerkterrein is baie netjies, die kerkgebou word goed in stand gehou, die koster en die dominee is vriendelik. Alles wat moet werk, werk en die diens verloop sonder enige probleme.
Ons vat die pad begraafplaas toe. Ek val kort agter die lykswa in die stoet in, want ek het nie ’n idee waarnatoe om te ry nie. Ons ry ’n ent uit die dorp uit en draai af by ’n paadjie. Aan die een kant van die pad is daar ’n mielieland, aan die ander kant ’n laning statige bome. Die lykswa, wat so drie karre voor my ry, begin beweeg asof dit bestuur word deur iemand wat baie diep in die bottel gekyk het, maar die slingery, kom ek gou agter, is om die slaggate in die pad te probeer vermy. Na ’n tydjie gaan dit beter, want nou ry die stoet nie meer op die teerpad met die slaggate nie, maar op ’n tweespoor-grondpaadjie wat langs die teerpad uitgery is.
Ons kom by die ingang van die begraafplaas. Daar staan twee strukture wat eens hekke aan hulle gehad het, maar nou net eensame pilare is. Volgende is daar ’n murasie wat seker eens die ontvangskantoor was. Daar is nie ’n dak, ’n deur of ’n venster te sien nie. Verderaan is daar nog ’n struktuur wat kaalgestroop is van alles, behalwe van die bordjies wat wys dat dit die mans- en damestoilette was.
Die gras staan meer as ’n meter hoog. Dis lanklaas gesny. Naaste aan die ingang steek daar nuwer grafstene tussen die gras uit. Die vanne op die grafstene dui aan dat die begraafplaas deur al die bevolkingsgroepe in die land gebruik word.
Ons hou stil by die ouer deel van die begraafplaas. Daar is ’n oop graf en rondom die graf is die gras mooi kort gesny. Ek handel die formaliteite by die graf af en staan ’n bietjie terug. Die familie kom nader. Met groot teerheid sit hulle eers ’n stuk skadunet oor die kis, toe ’n blink sinkplaat bo-op die skadunet. Die mans trek baadjies uit en gooi eers skoon riviersand in die graf voor hulle met die hoop rooi Wes-Transvaalse grond begin. Dis warm en die manne sweet.
Daar was, en ek noem dit doelbewus, vyf swart mans onder die rougangers. Almal netjies geklee in pakke, duidelik werkkollegas van een van die kinders. Een vir een staan hulle nader. Soos die ander mans moeg raak, vat een van dié vyf ’n graaf oor. Een gee ’n graaf vol grond aan vir een van die kinders om in die graf te gooi, ’n ander langs die graf kry sy graaf by ’n ander een van die kinders. So werk almal saam in ’n respekvolle stilte om met groot eerbied hierdie laaste taak af te handel.
Ek kyk hierna en ek dink by myself: Daar is dalk min dinge wat nog ordentlik werk in Suid-Afrika, maar ons, die mense in Suid-Afrika, ons kan dit regkry om te werk en saam te werk. Ons is dalk in Suid-Afrika, maar ons is nie soos Suid-Afrika nie.
(Ds Etienne Fourie is emerituspredikant en subredakteur van Die Hervormer en Blitspos)