Die Bybel roep ons as gelowiges op om tot eer van die Here te sing. ’n Kerklied verskil egter van gewone liedere – die inhoud, taal en melodie is anders.
Van vroegste tye af, sedert die volk Israel begin het om die Here hul God te dien en te verheerlik, was die sing van verskeie soorte liedere deel van hul aanbidding. In die boek van die Psalms is daar 150 van hul liedere opgeneem. Dit kan ook as gebede of gedigte verstaan word.
Kerkliedere bestaan uit verskillende soorte liedere, onder andere lof- en prysliedere, smeek- en klaagliedere, skuldbelydenis- en bekeringsliedere. Van laasgenoemde is Psalm 51 ’n mooi voorbeeld.
Die Israeliete het hul liedere tot eer van die Here by die tempel, ander bidplekke, tydens godsdienstige feeste en met pelgrimstogte gesing as hulle op pad was na Jerusalem om die Here daar te aanbid.
Die eerste lied in die Bybel is die loflied van Moses en sy suster Miriam, soos opgeteken in Eksodus 15: 1 en 21, ná die uittog uit Egipte.
Sedert die Christelike geloof wȇreldwyd versprei het, het elke volk vandag seker hul kerkliedere in hul eie taal. Ook ons Afrikaners. Ons kerklied het ’n besondere geskiedenis wat hier kortliks weergegee word.
Vir 130 jaar lank het ons voorouers, soos die Voortrekkers, net Psalms en Gesange in Nederlands in die Kerk gesing. Geleidelik het Afrikaans as spreektaal ontstaan, en in 1933 is die Afrikaanse Bybel in gebruik geneem.
Daar was egter ’n groot behoefte om ook in Afrikaans in die kerk te sing. ’n Predikant van die Gereformeerde Kerk, ds JD du Toit (bekend as Totius), het ’n reusebydrae gelewer deur die 150 Psalms in Afrikaans om te dig. Tussen die twee ander susterskerke – die Nederduitch Hervormde Kerk en die Nederduitse Gereformeerde Kerk – is saamgewerk om die Gesange in Afrikaans om te sit. Verskeie kundige persone was daarvoor verantwoordelik.
Uiteindelik is die eerste Afrikaanse liedboek op Sondag 29 Oktober 1944 in die Ned Herv Kerk in gebruik geneem. Die drukkoste het sowat 25 sent per boekie beloop en die boekie is later teen 55 sent verkoop.
Maar taal is nie stagnant nie. ’n Taal “lewe”. Deur jare heen ontstaan nuwe uitdrukkings en spreekwyses, en dit het daartoe gelei dat daar weer ’n nuwe liedboek ontstaan het. Vir 34 jaar was dié liedboek in gebruik, tot Oktober 1978. Die 1978-boek is vir 23 jaar gebruik.
Toe het die behoefte weer ontstaan om ’n nuwe liedboek saam te stel. Hierdie keer is sommige bekende en geliefde Gesange weggelaat, maar vervang met heelwat nuwe liedere wat deur verskeie persone geskryf en getoonset is. In 2001 is die huidige Liedboek van die Kerk in gebruik geneem. Daar bestaan ook nog die Vonkk-liedboek wat deur die gemeentes wat oor die nodige toerusting beskik, met groot vrug gebruik word.
Die twee liedboeke wat tans bestaan, voorsien aan die Kerk en ons Afrikanervolk, vir die tyd, voldoende liedere om tot eer van die Here te sing te midde van al ons vreugdes en nood.
Daar is ten slotte nog twee belangrike opmerkings om van kennis te neem:
Die liedere wat ons tot eer van die Here sing, moet eerstens Bybels verantwoordbaar wees, én met die Kerk se belydenis oor die drie-enige God ooreenstem. Ons Liedboek vorm dus so eintlik deel van ons belydenis.
In tye van nood, beproewing en bittere smart, kan ’n mens gerus kennis neem van die vertroostende inhoud wat ons kerkliedere bied. Die liedere dra die evangelieboodskap wat ons verseker dat ons aan die Here behoort en altyd onder sy troue sorg verkeer. Dink gerus aan die woorde: Ruwe storme breek in woede, alles om my heen is nag. Tog hou God my in sy hoede (beskerming) – Hy hou oor my heil die wag.
Dit is gevolglik sinvol om, naas die Bybel, ook ’n liedboek te hȇ om gelowig vrugbaar te gebruik.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels)