Ds Anna-Marie Kloppers, Rustenburg Jac van Belkum

Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word: Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die vul van ’n pakdier. (Matteus 21: 4)

Lees in die Ou Testament Sagaria 9: 9-10 en in die Nuwe Testament Matteus 21: 1-11

Bely ons Jesus as Koning? Die beeld van ’n koning is vir sommige van ons ’n veraf beeld, een wat ons koppel aan vrees en magsmisbruik. Ons verbind dit selde aan leierskap en lof. Ons is bekend met die gebruik in Engeland, wat sowel ’n grondwetlike koning as ’n premier het. Die koningin is slegs die skynhoof. Die premier is die een wat die politieke besluite van die volk tot uitvoer moet bring.

Vir talle mense is Jesus ook net die skynhoof van hul huishoudings. Ander word gedreig met Koning-Jesus, sodat hulle ’n vrees ontwikkel en minderwaardig voel in die teenwoordigheid van die Koning.

’n Kommentaar verduidelik dat dié teks, wat hier uit Sagaria aangehaal is, die eindtyd skets. Hierdie koning wat kom, is so anders as dié wat hulle voor die ballingskap geken het.

Die Nuwe Testament herken die Koning as Jesus van Nasaret. By die intog in Jerusalem speel aanhalings vanuit die Ou Testament ’n belangrike rol. Hierdie “Jesus” is die Seun van God en Koning, maar Hy is nederig en ry op ’n donkie, nie ’n trotse oorlogsperd nie!

Die skrywer van die Matteus-evangelie lê klem op hoe die mense rondom Jesus in beweging gebring is – hulle het van hul klere op die donkie gesit en daarvan op die pad gegooi. Ander het takkies afgebreek om ’n tapyt te vorm, en hulle het agter die Heiland uitgeroep: Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Prys Hom in die hoogste hemel!

Hartstogtelike vreugde word wakker gemaak – Hosanna! Jesus het nou die hulde openlik aanvaar, en Hy het as Messias die tempelstad binnegekom! Hierdie gebeure getuig van sowel sy koningskap as sy lydensweg.

Wat is u verwagting van die Koningskap van Jesus Christus? Party verwag politieke en ekonomiese bevryding. Party verwag die daarstel van ’n heilige volk, ander hoop die Koning sal met ’n katastrofe ingryp en so weer hoop vanuit omstandighede bewerk.

Iemand het egter dringend gesê: Die Kerk is nie die eindpunt van verkondiging – dat ons ’n katolieke instituut van saligheid word – waar hierdie uitroep en entoesiasme moet swyg nie.

Laat ons Hosanna in die Lydenstyd gehoor word in die woorde van Gesang 340: 1: Kom ons loof die Jesuskind, Hy is waarlik Koning. Ons Verlosser het gekom, maak by ons sy woning. Vir ons sondes kom Hy sterf; so word ons vergewe. Nou kan ons Hom loof en prys – Heer so hoog verhewe.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap