Meer as 200 jaar gelede het Thomas Malthus reeds in sy geskrif An Essay on the Principle of Population (1798) voorspel dat die bevolkingsaanwas die ekonomie so sou verlam dat maatskaplike ellende toenemend die gevolg sou wees. Meer as 50 jaar gelede het die Klub van Rome dit toe met jota en tittel aangetoon.

Hul eerste publikasie, The limits to growth. A report for the Club of Rome’s project on the predicament of mankind (1972), het wyd opslae gemaak. Dertig miljoen kopieë is verkoop en dit is in 37 verskillende tale wêreldwyd vertaal. Dit het die eerste 70 jaar van die vorige eeu as basis geneem en bepaalde projeksies vir die toekoms gemaak. Die sogenaamde ontwikkeling sedert die Renaissance, het geblyk ’n illusie te wees en dat vooruitgang tegelyk ook agteruitgang beteken het.

Die gevolgtrekking uit die ekstrapolasie was dat die kwaliteit van lewe radikaal sou versleg binne die volgende aantal dekades. Dit sou ook nie alleen ’n geleidelike afname inhou nie, maar selfs ’n onvoorsiene en onomkeerbare draaipunt tot gevolg hê. Daar is ook verwys na die sogenaamde “grusame kurwe” wanneer die vraag- en aanbodkrommes mekaar sou kruis. Om dit in tegniese taal uit te druk: Die ekologiese voetspoor sal dan die produksiekapasiteit van die biosfeer oorskry het.

Die oliekrisis van 1973 het die aktualiteit en erns van hierdie waarskuwing met ’n skok onder almal se aandag gebring. In 1974 gee die Klub van Rome toe ’n tweede publikasie uit, Mankind at the turning point: The second report to the Club of Rome. Hierdie publikasie het ’n ietwat positiewer gees geadem omdat dit wel gemeen het dat die mens nog in beheer was en net daadwerklik iets moet doen aan die omgewing en die bewaring daarvan.

’n Derde opdatering het in 2004 gevolg met die publikasie Limits to Growth: The 30-Year Update. Die rekenaarprogram wat die ekstrapolasies gedoen het, World3, is ook aansienlik verfyn om die proses meer wetenskaplik te maak. Die gevolgtrekking was egter verdoemend en helaas baie meer pessimisties as voorheen. Waar in 1972 nog gesê was, wees langsaam, word nou dringend geëis, val terug! Die navorsing het aangetoon dat die vraag van die planeet teen die eeuwisseling reeds 120% was van wat dit kon aanbied. Die Klub van Rome het bely: Ons het heeltemal misluk om die konsep van “oorskryding” as ’n wettige bekommernis vir openbare debat aanvaar te kry.

Die outeurs van hierdie verslag het onder andere tot die gevolgtrekking gekom dat die begrip volhoubare ontwikkeling inderdaad uitgedien was. Die sleutelwoord sedert hierdie publikasie was eerder oorlewingsontwikkeling. Dit impliseer dat ons nie net ons groei moet beperk of begrens nie, maar dat die ekonomie (handel en nywerheid) inderdaad moet versober of, meer korrek, ontgroei (Engels: degrowth; Frans: décroissance). Sowel produksie as verbruik moet drasties ingekort word. Aanhangers van ontgroei benadruk dat ekonomiese groei losgemaak moet word van die gevolge wat dit op die omgewing het. Vreugde onder ’n land se mense is hoegenaamd nie eweredig aan die land se bruto binnelandse produk nie!

Wat opmerklik van die nuwe aanpak van die Klub van Rome is, is hul geïntegreerde strategie. Dit word duidelik uitgespel dat ons nuwe waardes en kulturele norme sal moet ontwikkel. Die program vir die nuwe millennium sentreer volgens hulle derhalwe om die volgende areas:

  • Omgewing en hulpbronne.
  • Globalisasie.
  • Wêreldontwikkeling.
  • Sosiale transformasie.
  • Vrede en sekuriteit.

Opmerklik is dat die Klub van Rome dit sterk beklemtoon het dat ’n bepaalde werklikheidsverstaan onontbeerlik vir ons voortbestaan is: Mense wat anders dink, sal ook anders optree. Omgewingsbewaring berus op ’n omgewingsbewussyn. Die kritieke kennis van so ’n nuwe paradigma sal wees dat daar vir óns maar net een planetêre stelsel is. By herhaling word gestel dat visionering, netwerkvorming, waarheidsoeke, leer en liefde, alles sleutelaspekte vir volhoubare lewe is.

Jørgen Randers was die enigste outeur van die vierde opdatering of 40-jarige verslag – 2052. A global forecast for the next forty years – waarin dit duidelik gemaak is dat die kultuur van verbruikerswese vervang moes word deur kulturele elemente wat aansienlike langertermynbevrediging verskaf en ons welsyn verhoog:

  • Darwin se grondwaarheid van die oorlewing van die sterkstes moet herinterpreteer word as lewe wat deur samewerking in plaas van oorheersing ontwikkel;
  • kulture wat nader aan mekaar woon moet bydra tot ’n globale samelewing wat op ’n hoër vlak bestaan; en
  • ’n nuwe begrip van gemeenskap moet waardes van ’n gunstiger vorm van individualisme ontwikkel en die belangrikheid van kollektiewe oplossings nastreef.

In 2022 is die jongste tienjaarverslag toe uitgebring. Die Klub van Rome se appèl tydens hierdie 50-jarige publikasie – Limits and beyond: 50 years on from The Limits to Growth, what did we learn and what’s next? – is kommerwekkend: Komaan! Ons het ’n krisisplan nodig! Dit beklemtoon dat die appèl van die Parys-protokol weer uiters ernstig opgeneem moet word, ondanks politieke opposisie. Kort nadat pres Biden die president van die VSA geword het, het hy sy voorganger se onttrekking uit die Parys-protokol, darem weer ongedaan gemaak. (Kyk hiervoor: https://www.whitehouse.gov/briefing-room/statements-releases/2021/01/20/paris-climate-agreement/).

Die Parys-klimaatooreenkoms is ’n wetlik bindende internasionale verdrag wat hoofsaaklik ten doel het om die wêreldwye temperatuurverhoging te beperk. Die ooreenkoms is deur afgevaardigdes van 196 lande in Parys op 12 Desember 2015 tydens die VN se 21ste konferensie oor klimaatsverandering onderteken, en het op 4 November 2016 in werking getree.

Die afgelope vyf jaar is ’n nuwe agenda van die Klub van Rome geformuleer in ooreenstemming met die Komaan-wekroep.

Vyf fokusareas van toegespitste aksie is toe vir die Klub van Rome aangedui, naamlik:

  • Planetêre nood- en aksieplan.
  • Herdefiniëring van ekonomie.
  • Finansies heroorweeg.
  • Ontluiking van burgerlike inisiatiewe.
  • Globale betrokkenheid van jongmense.

Die Suid-Afrikaner en ‘n voormalige visekanselier van die Universiteit van Kaapstad, prof Mamphela Ramphele, sedert 2018 een van die twee presidente van die Klub van Rome, verduidelik hul rol: Die Klub van Rome se unieke waarde setel in hul begrip van hoe lewende sisteme verander. Hul rol is om ’n katalisatorsrol te vervul ten einde transformerende stelselveranderings te bevorder.

Jürgen Moltmann, die bekende Protestantse teoloog van Tübingen, het in sy publikasies oor ’n ekoteologie die volgende kontoere vir ons getrek:

  • Ons het ’n vars begrip van wie en wat die beeld van die mens is.  Dit moet ’n beweging wees weg van die mens as die middelpunt van die skepping na ’n soort van planetêre of kosmiese integrasie. Voordat mense hulself as beeld van God gesien het, was hulle immers beeld van die aarde (imago mundi), ’n mikrokosmos waarin alle vorige lewensvorme geïntegreer is. Die Aarde is saamgestel uit vyf onderling-verbonde sfere: die stratosfeer – die atmosfeer – die geosfeer – die litosfeer – die biosfeer. Al die sirkels is konsentries en interafhanklik. Die beweging is egter eenrigting. Ons het die natuur nodig, maar die natuur het ons nie nodig nie. Daarom is die mens ’n “kosmiese beeld”, siende dat mense se Gestalt ingebed is in die natuur en die samelewing.
  • Ons het ook ’n nuwe beeld van God nodig. Dit moet wegbeweeg van die beeld van ’n verhewe en afgeleë God, na ’n beliggaming van ’n nabye en teenwoordige God. God is nie ’n vreemde God nie. Die Drie-Eenheid is die hermeneutiese sleutel om die geskiedenis te interpreteer. God skep alles, God bewoon hierdie skepping en God kommunikeer in, deur en met die skepping. Die implikasie is dat die kroon of toppunt van die skepping nie die mens is nie, maar die Sabbat wanneer (en uiteindelik waar!) God en skepsele in ’n toestand van harmonie saam is.
  • Ons het ’n nuwe begrip van die skeppingsopdrag nodig wat wegbeweeg van oorheersing en onderwerping, na dié van ’n kosmiese liefde. Die mensdom is nie die heer en besitter van die natuur nie (Descartes), en Genesis 1: 28-29 word geïnterpreteer as ’n aanduiding hoe daar kos bekom moet word: die dier leef van die veld se groenopbrengs. Die mens weer, moet van die vrug- of saaddraende opbrengste leef, wat uiteraard bewerking impliseer (vgl Gen. 2: 15 se “bewoon en bewerk”).
  • Die nuwe hemel en die nuwe aarde motiveer ’n oorgang van wêreldpolitiek na aarde-politiek toe, van die wêreldekonomie na aarde-ekonomie en van wêreldgodsdienste na aarde-godsdienste. Eskatologie is in wese nie die einde nie, maar die begin van alle dinge. Een wêreld of geen wêreld nie, sê Moltmann, en hoe nader ons aan God kom, hoe nader kom ons aan mekaar. Die nuwe hemel en nuwe aarde is die kosmiese tempel van God.

Moltmann is duidelik in sy visie vir die toekoms: Ons het dringend ’n nuwe Hervorming nodig, ’n Groen Hervorming.

(Prof Johan Buitendag is ’n emerituspredikant van die NHKA)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap