Die frase The circle of life is bekend aan enigiemand wat al ooit The Lion King gekyk het. Die begin- en eindtonele waarin ’n leeuwelpie – die volgende geslag – aan die diereryk bekendgestel word, is alombekend en dit is die hooftema van die film. Tydens hierdie tonele klink die musiek van The circle of life op. Ek het die tonele al baie, baie keer gekyk en elke keer kry ek hoendervleis. Miskien is dit die musiek, die verbinding met Afrika, of die belofte van ’n begin – ek is nie heeltemal seker nie. Die tonele laat my nooit onaangeraak nie.

Tussen die film se beginpunt en eindpunt wat nuwe lewe uitbeeld, lê daar egter ’n paar uitdagings, moeilike besluite, teleurstellings, verraad, afskeid, en die dood. Dit is ’n herinnering dat die circle of life nie sonder die dood plaasvind nie. Daarom het ek onlangs die titel van ’n kinderboek wat ek op Kaapstad se lughawe gesien het, so interessant gevind. Dit is getitel The circle of life, met ’n leeu en ’n paar ander diere op die voorblad. Onmiddellik neem ek aan dat dit ’n geskrewe, korter weergawe van die Lion King-film is. Maar nee. Dit is die Engelse vertaling van ’n Nederlandse boek met die titel Ballade van de Dood, geskryf deur Koos Meinderts en Harrie Jekkers. Hierdie boek is deur Piet Grobler geïllustreer. Hoe interessant, dink ek, dat die Engelse vertalers Ballade van die Dood met Sirkel/Siklus van die Lewe vertaal het. Toe ek later daaroor nadink, besluit ek hulle het dit reg gehad.

Die ballade – ’n lang gedig – handel oor ’n koning wat alombekend en magtig was, en net een vyand gehad het: Die Dood. Dit was vir die koning soos ’n tipe vlek/klad op ’n andersins perfekte bestaan. Die koning besluit toe om die slimste mense van sy koninkryk bymekaar te kry en hy daag hulle uit met die vraag: Hoekom sterf ons? Die slim manne kyk dak toe, en grond toe, en sukkel maar om te antwoord. Iemand waag dit toe: Ons sterf, o koning, meestal van ouderdom. Die koning antwoord vies: Ja, ek weet dit – maar wat is die Dood nou eintlik?

Een van die wyse manne vra of dit nie maar moontlik is vir die koning en Dood om in harmonie met mekaar saam te leef nie. Daarvan wil die koning net mooi niks weet nie en hy ontwerp ’n plan om Dood te vang, sodat Dood niemand weer kan aanraak nie. Die plan word onmiddellik uitgevoer. Hulle vang vir Dood en hy word uitgestal in ’n museum as ’n artefak van die verlede. Almal in die koninkryk hou partytjie. Daar is geen grense aan hul baldadigheid nie.

Die bevolking groei en groei. Kort voor lank is daar is niks nuut meer onder die son nie en hulle word verveeld. Hulle word angstig en depressief. Die koning is op ’n dag moeg en verklaar dat hy eintlik nou heeltemal te lank regeer het. Weer roep hy die slimste mense in sy koninkryk. Hul voorstel om die angstigheid in die koninkryk op te los: Dood moet vrygelaat word. Daar is natuurlik net een klein probleempie: Die een wat Dood vrylaat, gaan onmiddellik sterf. Sonder voorbehoud tree die koning vorentoe en sluit Dood se glaskas oop en sterf onmiddellik. Die Engelse vertaling van die ballade eindig met die woorde: Lank lewe die Dood. Hoeveel van ons dink dat dit ’n aardige woordspel is? Miskien selfs effens belaglik of ’n belediging vir diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het…

Hierdie tyd van die jaar is vir my altyd ’n tyd van paradokse: Twee sake wat soos uiterstes voorkom, is tegelyk teenwoordig én geldig. Die tradisionele kerse van die Advent-krans beeld dit eintlik uit: drie pers kerse (vir die donker of boetedoening) en een pienk kers (vir die lig en vir vreugde). Al vier, elkeen op ’n Sondag van Advent aangesteek, verteenwoordig die reis na die wit kers – die Christus-kers. Hierdie tyd van die jaar handel nie net oor vreugde nie. Trouens, die verskillende tipes verlies wat ons in die gesig staar, is gedurende hierdie tydperk meer sigbaar. Daarom is dit ’n tyd van die jaar wanneer ek dikwels oor die dood nadink – miskien juis ook omdat die Christelike liturgiese kalender voorsiening daarvoor maak dat ons te midde van die siklus van lewe, ook oor die dood nadink. Dit gebeur tradisioneel op Ewigheidsondag wat dikwels plaasvind op die Sondag net voor die eerste Sondag van Advent.

In my persoonlike lewe is Oktobermaand ’n moeilike een: Benewens akademiese druk wat akuut is gedurende hierdie tyd, is dit die maand waarin beide my broer en my ouma sou verjaar het. Hulle is ook in een jaar, agt maande uitmekaar, oorlede, sewe jaar gelede. Op Ewigheidsondag in November, wat kort op die hakke van Oktober is, steek ek kerse ter nagedagtenis aan. Hierdie kerse se doel is nie om my geliefdes terug te lok of terug te wens nie. Nee. Die gevare daarvan om die dood te ontken, of te probeer uitstel, of te probeer terugdraai – dit beeld The circle of life, oftewel Ballade van de Dood, uit.

In baie opsigte het die dood die funksie van ’n raam van ’n skildery of ’n venster: Dit bied perspektief en afronding aan die skildery en die lig wat deur die venster gelaat word. Derhalwe is ek meestal gefassineer as mense verklaar dat hulle lank wil lewe, of nie wil doodgaan nie, of ’n oneweredige klem plaas op hul beskouings van “ewige lewe”. In die Christelike teologie dink ons juis nie aan lewe as ’n eindelose, herhalende, sirkelgang nie. Lewe en dood – soos ons liturgiese kalender – is ’n ritme van ons bestaan.

Hierdie tyd van die jaar is ons geneig om die mensheid te verdeel in dié wat “het” en dié wat “nie het nie”. Ons kry – vir ’n oomblik, soms uit dankbaarheid, soms uit momentele skuldgevoelens – hulle wat volgens ons “nie het nie”, jammer, en vir ’n oomblik probeer ons die saak beredder. Dit is egter vlietend en dit ontken die werklikheid van die teenstrydigheid van ons almal se bestaan: die ligkant en die skadukant. Die een is nie beter of slegter as die ander nie – beide lig en donker, lewe en dood, ís. Dit is die groot gelykmaker tussen ons almal.

Hierdie tyd van die jaar, veral gegewe die implikasie van die Advent-simboliek, is juis ’n tyd vir balans, vir aanvaarding, en vir die toe-eiening van die misterie van ons bestaan, waarop ons nie aldag antwoorde het nie. Dit bied vir ons die ruimte om na mekaar uit te reik, mekaar in al ons gebrokenheid werklik raak te sien, en mekaar te ontmoet in die verskeidenheid van ons omstandighede en identiteite. Dit is soos die bekroonde teoloog Denise Ackermann in haar boek Surprised by the Man on the Borrowed Donkey geskryf het: Blessed are those who embrace contradiction, for they will find promise in paradox.

Geseënd is dié wat die lewe se teenstrydigheid, veral hierdie tyd van die jaar, tegemoet gaan, want in daardie teenstrydigheid vind hulle die belofte van die Een wat nêrens behoort het nie, en vir almal ’n tuiste geword het.

(Prof Tanya van Wyk is medeprofessor in Sistematiese en Historiese Teologie aan UP)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap