Ek is nie ’n predikant nie, maar indien ek was, sou ek heel waarskynlik gereeld gepreek het oor verhoudings en vergifnis. Die afgelope jaar het ek ’n hele paar mense teëgekom wat iemand wat hulle te na gekom het, nie kan vergewe vir dit wat hulle gedoen het nie. Dit word soos ’n sweer en al waaroor hulle kan praat, is die onreg wat gepleeg is. Hulle raak verstrik in die negatiewe gevoelens en bitterheid en kan naderhand nie normaal funksioneer en omgaan met die mense en dinge om hulle wat graag hul aandag wil hê, of dit nodig het nie.
Dit laat my ook wonder oor hul verhoudings met ander mense. Luister hulle met aandag, of hoor hulle – net soos ek – soms ’n paar woorde en maak hul eie storie op, met dan ’n misverstand wat gekonstrueer word as ’n tenakoming?
Die lewe is so kort en eintlik net ’n oomblik in die ewigheid. Daar is ou mense wat in hul sterwensuur verskriklik wroeg omdat hulle vergifnis van en versoening met hul kinders wil hê. Matteus 5: 23-24 sê vir ons: As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe. Gaan dit nie daaroor dat as ek voel ek word te na gekom, ek na die persoon moet gaan en die lug moet suiwer sodat daar geen misverstand is nie? Het ons verleer om met mekaar te kommunikeer?
Waarom luister kinders ook nie meer na hul ouers nie? Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee (Eks 20: 12). Daar staan nie geskrywe dat ouers die respek of eer moet verdien nie! Dit is ’n gebod en beteken dat ons ook sal luister en die eie ek ’n bietjie agterweë sal hou, al wil ons self ook gehoor word.
Soms voel mense dat hulle iemand net moet “terugkry” vir wat aan hulle gedoen is, maar in Lukas 17: 3-4 lees ons: As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom. Selfs as hy sewe maal op ’n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.
Die vraag is dus: Waarom leef soveel mense steeds in onmin met mekaar, en waarom kan ons mekaar nie vergewe nie? Is dit omdat ons altyd reg wil wees en vir ander wil bewys dat ons nie soveel fouteer as wat hulle dink ons doen nie?
’n Slim persoon het eendag vir my gesê dit wat ander mense van jou dink, het absoluut niks met jou te doen nie. Ons moet elke ander mens die vryheid gun om hom- of haarself te wees sonder om hulle die heeltyd te kritiseer. Ons moenie die heeltyd wonder oor wat die mense gaan sê nie.
Dalk kom alles weer neer op die liefde. Liefde vir God en jou naaste. Volgens 1 Korintiërs 13 het ons niks as ons nie die liefde het nie.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
NHSV streekvoorsitter: Noordelike Pretoria