Die verspreiding van God se Woord aan alle mense in die taal van hul keuse, is die verantwoordelikheid van elke lidmaat van die Kerk. Daarby bied dit die geleentheid aan gemeentes van die Kerk om ’n verskil te maak in die gemeenskap en met ander kerke saam te werk, en dit dra by tot die opbou van die gemeente. Hier is enkele voorbeelde.
Rooihuiskraal koop elke jaar ’n aantal Bybels aan wat hulle saam met ’n lidmaat aan ’n skool in die Oos-Kaap stuur. Hulle versprei ook deurlopend Bybels aan leerders by skole in die gemeente, asook onder sekuriteitswagte.
Laeveld oorhandig elke jaar Bybels aan al die graad 7-leerders van die plaaslike laerskool.
Van Warmelo bied elke jaar saam met die ander kerke in die omgewing die Stap-vir-Bybels aan. Die gemeente was nou al verskeie kere die wenners van die byeenkoms, en die fondse wat hulle daarmee insamel, dra daartoe by dat hulle een van die gemeentes in die Kerk is met die hoogste gemiddelde bydrae per lidmaat aan die Bybelgenootskap.
Potchefstroom-Suid koop groot hoeveelhede Bybels aan wat lidmate jaarliks in verskillende gemeenskappe versprei. Hulle het al projekte na die Noord-Kaap sowel as KwaZulu-Natal geloods. Die gemeente dien ook as ’n verspreidingspunt waar almal in Potchefstroom gebruikte Bybels kan aflaai. Daar is dan ’n groot uitnodiging by die kerk vir enigiemand wat ’n Bybel nodig het, om een gratis te kom kry. Hulle voorsien selfs gebruikte brille indien nodig!
Krugersdorp-Noord gebruik die Bybel-Buddie-projek van die Bybelgenootskap om fondse in te samel vir Bybelverspreiding by van die plaaslike skole. Daarmee oortref die gemeente jaarliks die mikpunt vir bydraes aan die Bybelgenootskap en voorsien hulle ook Bybels aan leerders in die omgewing, sowel as in die res van die land.
Zuurfontein maak gebruik van die Bybel-genees-pilhouertjies om bydraes aan die Bybelgenootskap in te samel. Die gemeente gee op sosiale media gereeld terugvoer aan lidmate oor hoe die projek vorder en betaal die fondse maandeliks in. Hulle het ook ’n projek om Bybels aan motorwagte te voorsien.
Outeniqua het in 2021 al die gemeentes van die Kerk uitgedaag om die meeste kilometers af te lê in die Virtuele Stap/Draf/Trap vir Bybels. Die geleentheid het groot opwinding en samehorigheid in die gemeente ontlok. Gemeentes soos Kaapstad, Philadelphia en Pietermaritzburg het ook deelgeneem. Inskrywings vir vanjaar se geleentheid kan nou gedoen word.
(Dr Gerhard Lindeque is Spanleier: Streekverhoudings vir die BSA se Noordelike Streek)

Rooihuiskraal

Laeveld

Van Warmelo
BYBELSONDAG
DV Sondag 21 Augustus 2022
Spesiale deurkollekte: Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Potchefstroom-Suid

Outeniqua

Outeniqua

Outeniqua

Outeniqua

