Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. (Romeine 7: 18 en 19, AFR 1983)
Lees Romeine 7
Ons staan op die drumpel van 2023 se Paasgebeure. Soos elke jaar, kom Christene wêreldwyd bymekaar om hierdie grootste verlossing van die mensdom te vier. Jesus, wie se geboorte ons op 25 Desember gevier het, het nou skielik grootgeword. Sy lewe, sy doel, het nou ’n realiteit geword. Jesus bly nie net by geskenke onder ’n Kersboom nie. Jesus, ons Verlosser, het nou die ware doel waarom Hy mens geword het, bereik. Die boodskap aan Christene wêreldwyd is die daaglikse uitdaging om die goeie te doen. Paulus wil ons bewus maak van die uitdaging. Juis met die Paasgebeure word ons as gelowiges nou diep bewus gemaak van ons redding en verlossing.
Paulus was ook deeglik bewus van sy redding en verlossing in Jesus Christus. Tog, as sekerlik een van die grootste teoloë van alle tye, skryf hy in Romeine 7: 18b en 19: Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. Wat presies die slegte is wat Paulus gedoen het, weet ons nie, maar een ding weet ons wel, en dit is dat hy dieselfde worsteling met die sonde gehad het as ons in die moderne samelewing. Die sonde is wesenlik deel van sy lewensbestaan.
Vroeër, in Romeine 6, sê Paulus dat die sonde deur die wet ’n vastrapplek in mense se lewens gekry het en elke soort begeerte in hulle aan die gang gesit het. Die wet het die sonde gebring. Die wet het ook die dood gebring. Die wet het ’n geweldige skuldlas op gelowiges geplaas, van so ’n aard dat ’n mens byna heeltemal moedeloos kan word.
So is Paulus se worsteling in Romeine met die sonde en die wet. Ons kry hier by Paulus ook ’n sterk vorm van moedeloosheid. Hy word deur goeie bedoelings met slegte gevolge geweldig aangekla. Die wet het hierdie worsteling by Paulus veroorsaak. Is dit nie maar die worsteling wat ons as gelowiges ook in hierdie lewe het nie?
Ons as gelowiges se bedoeling in die lewe is dikwels dat ons die regte woorde wil spreek, en ook die regte dade wil doen. Selfs ons beste bedoelings is nie gevrywaar van die sonde nie. Somtyds loop goeie bedoelings uit op hartseer, misverstande en selfs gebroke verhoudings. Om goeie verhoudings te handhaaf, voel dikwels na ’n opdraande stryd. Daar is soveel afleidings in die lewe, soveel sonde, dat ons bedoelings soms heeltemal verkeerd verstaan word. Goeie bedoelings is ’n goeie begin, maar soms nie goed genoeg nie.
Juis daarom bely Paulus dat hy die regte ding wil doen, maar hy doen die verkeerde. Hoe kan ons die regte bedoelings met die verkeerde resultate onder beheer kry? Luister wat sê Paulus later in hoofstuk 7: 24: Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.
Ons hoor amper hoe Paulus sug van verligting. Paulus roep die verlange uit om van die gevangenis van die wet los te kom. Wat menslik nie moontlik is nie, het God deur Jesus Christus op Golgota gedoen. Misverstande en gebroke verhoudings is herstel soos nog nooit tevore of daarna nie. Jesus Christus se kruisiging het ons van die mag van die wet bevry. Die wet heers nie meer oor ons. Die genade en vergifnis van God het ’n werklikheid in ons lewens geword. Ons hoef nie op ’n hoop te gaan sit omdat ons beste bedoelings op niks uitloop nie. Ons kan opstaan en God die Vader prys vir sy genade in Jesus Christus ons Here.