Lewe
Lewensloop

1497 Philipp Schwartzerdt word op 16 Februarie in Bretten, naby Heidelberg, gebore

1508  Philipp se pa en oupa sterf

1508   November: Latynskool in Pforzheim

1509  14 Oktober: Studie in Heidelberg

1509  Op 15 Maart verander Johannes Reuchlin Philipp Schwartzerdt se naam na Philipp Melanchthon

1511   Hy ontvang op10 Junie die graad Baccalaureus Artium

1512   Hy studeer vanaf 17 September met spesiale toestemming as 15-jarige in Tübingen vir ʼn Magister

1514  Hy behaal op 25 Januarie as 17-jarige ʼn Magister in Grieks in Tübingen

1518   Sy Griekse grammatika word op 15 Mei 1518 gepubliseer

1518   Professor in Grieks in Wittenberg op 21-jarige ouderdom (28 Augustus)

1519   Op 19 September ontvang hy die graad Baccalaureus Biblicus

1520  Hy trou met Katharina Krapp

1521  Eerste uitgawe van die Loci Communes

1522  Sy dogter Anna word gebore

1528  Hy hervorm die skoolsisteem in Sakse

1529  Godsdiensgesprekke in Marburg

1530  Ryksdag in Augsburg en die bekendstelling van die Confessio Augustana

1547  Sy dogter Anna sterf

1553  Die eerste Duitse uitgawe van die Loci

1557  Sy vrou Katharina sterf

1560  Philipp sterf op 19 April

Sy lewensverhaal

Philipp is in die laat-Middeleeue, op 16 Februarie 1497, in Bretten, Duitsland gebore as seun van die wapensmid Georg Schwartzerdt en sy vrou Barbara. In 1508 gaan woon hy as 11-jarige weeskind by sy oom in Pforzheim wat sy van “Schwarzerdt” (wat letterlik “swart aarde” beteken) in die humanistiese gees op 15 Mei 1509 omvertaal in Grieks tot “Melanchthon”. Vanaf 1531 het die lispelende Philipp sy van vereenvoudig na “Melanthon” (die akademiese literatuur het hom egter nie hierin gevolg nie (Scheible 2014:164).

Melanchthon kom uit ʼn welgestelde familie. Sy oupa aan moederskant was ʼn vermoënde koopman. Hy kon bekostig om die “huisonderwyser” Johannes Unger aan te stel, wat Philipp van jongs af Latyn geleer het. Ná die dood van sy pa en oupa in 1508, het hy die “Latyn-skool” van Georg Simler en Johannes Hiltebrant (leerlinge van Wimpfeling) bygewoon. Hier kon hy, naas Latyn, ook Grieks as vak neem.

In 1509 gaan studeer hy as 12-jarige (ná slegs een jaar formele skoolonderrig) in Heidelberg by Pallas Spangel (leerling van Wimpfeling) en wissel in 1512, nadat hy die BA-graad (Baccalaureus Artium in Via Antiqua) behaal het, na Tübingen. Op 25 Januarie 1514 lê hy dáár die Magistereksamen af en word hy ’n universiteitsdosent. Gedurende die volgende vier jaar het hy ʼn grondige studie gedoen van die Skolastiek sowel as die Griekse filosofie en antieke letterkunde. Op 15 Mei 1518 word sy Griekse grammatika gepubliseer. Sy tydgenote het hom geloof as die grootste geleerde naas Erasmus van Rotterdam.

In 1518 word hy as 21-jarige as professor in Grieks in Wittenberg aangestel. Die Universiteit van Wittenberg is in 1502 gestig met die bedoeling dat studente dáár al die klassieke tekste in letterkunde, filosofie en teologie nie net in Latyn nie, maar ook in Grieks en Hebreeus, moes bestudeer. Op 25 Augustus 1518 het hy sy intreerede gehou oor die “verbetering van die onderrig van die jeug”. Die “verbeteringe” wat moes intree, het te make gehad met die terugkeer na die bronne van die Westerse beskawing, soos die Griekse filosofie en digkuns. Daarbenewens moes die jeug geskiedenis en wiskunde geleer word (Scheible 2014:164-165). Spoedig het Luther by Melanchthon Grieks begin geloop, terwyl hy weer by Luther teologie gaan studeer het. Reeds op 19 September 1519 disputeer hy vir die graad Baccalaureus Biblicus. Sy disputasie het gehandel oor kritiek op die Roomse transsubstansiasieleer en die priesterwyding (dus nog voordat Luther hieraan aandag gegee het (Scheible 2014:165).

Luther het gou besef dat Melanchthon ’n vrou in sy lewe nodig gaan hê en het letterlik vir hom ’n goeie vrou gesoek. In 1520 trou hy onder druk van Luther met die 23-jarige Katharina Krapp. Deur die loop van die 37-jarige huwelik het hy vir haar baie lief geraak. Die egpaar het vier kinders gehad.

Melanchthon het aanvanklik in ’n klein, beskeie huisie gewoon. In 1536 het keurvors Johann Friedrich van Sakse vir hom ’n baksteenhuis met 11 kamers laat bou, wat vandag ’n museum is wat jaarliks deur meer as ’n miljoen toeriste besoek word. Naas Luther, was hy die hoogs-betaalde professor in Wittenberg. Op hierdie wyse het die vors verseker dat hulle vir Wittenberg behoue bly. Hy het verder ’n manlike huisbediende gehad wat 34 jaar lank vir hom gewerk het. Dít was nodig aangesien daar talle buitelandse studente en weeskinders by hulle tuis gegaan het. In die Melanchthon-huishouding het daar daagliks tuisonderrig (schola domestica) en Bybelstudies plaasgevind. Hy het ’n klomp mense in Wittenberg geïnspireer om dieselfde te doen.

Foto (bo): Melanchthon se huis. Aangrensend is die Leucoria

In 1521 skryf hy die eerste Protestantse dogmatiekhandboek genaamd die Loci Communes. In 1530 skryf hy die Confessio Augustana (die Augsburgse Geloofsbelydenis). In 1546 sterf Luther, en oorlog breek uit tussen Protestante en Rooms-Katolieke. Vir enkele maande moes sy familie uit Wittenberg vlug. In die jare 1548-1560 moes hy baie kritiek verduur uit Lutherse kringe weens sy pogings om Lutherane en Gereformeerdes te verenig.

Hy het 14 jaar langer as Luther gelewe, en het só die ganse Reformasietydperk beleef. Interessant is dat ’n paar Rooms-Katolieke universiteite hom probeer “koop” het. Hy het werkaanbiedinge van oral ontvang, maar getrou gebly aan Wittenberg. 

Twee groot lewenskrisisse het sy persoonlike lewe en sy private godsdiensbeoefening radikaal beïnvloed. In die 1540’s het hy ’n fatale teologiese oordeelsfout begaan wat hom tot in ’n diep staat van depressie gevoer het. Philipp van Hessen, een van die Protestantse vorste in Duitsland, het soos talle van sy kollegas ’n skelm verhouding met een van sy jong hofdames gehad. Philipp het egter besef dat dit verkeerd was en het van die Nagmaal weggebly. Aangesien die vors werklik lief was vir die 17-jarige Margarete von der Sale, het Melanchthon hom aangeraai om skelm met haar in die huwelik te tree. Op hierdie wyse het hy aan bigamie (een man met twee vroue) teologiese legitimasie gegee. Ander teoloë het Melanchthon daarvoor verguis. Vir lang rukke wou hy ophou lewe uit skaamte vir sy oordeelsfout. In 1522 is sy oudste dogter, Anna, gebore. Sy trou as 14-jarige met die véél ouer Georg Sabinus, wat later die rektor in Keulen geword het. Dit was ’n baie ongelukkige huwelik. Georg was ’n karakterlose mens wat groot verdriet vir die gesin veroorsaak het. Sy sterf uiteindelik as 24-jarige in 1547. Melanchthon se smart oor sy geliefde dogter was vernietigend. Nadat hy uit die as van sy skuldgevoelens en hartseer opgestaan het, het hy bely dat dit net gebed en die wonder van God se genade was wat hom gered het. Wat hy later oor lyding en sonde sou skryf, het dus in ’n groot mate met sy persoonlike belewenisse te make gehad. 

Hy sterf op 19 April 1560 en word langs Luther in die “kasteelkerk” in Wittenberg begrawe. Tot op die heel laaste het hy gewerk: raad gegee, briewe, gebede en ’n geloofsbelydenis geskryf. Sy sterfte en begrafnis was ’n groot openbare aangeleentheid. Die hele Protestantse wêreld het getreur en aan hom hulde gebring. En onthou! Hy was nie ’n predikant nie – hy was en is die verpersoonliking van die priesterskap van die gelowige.

Sy bydrae tot die Reformasie

Die Reformasie het nie uit die lug geval nie. Die groot kulturele ontwikkelingsprosesse in Europa tydens die laat-Middeleeue het die weg gebaan vir nuwe benaderings tot godsdiens en teologie. Dit was ’n tydperk van gebed en godsdienstige toewyding. Vir diegene wat kon lees, was daar ’n oorvloed vroomheidsliteratuur in Latyn beskikbaar. Hierdie literatuur was egter wêreldvyandig en het geteer op die negatiewe dinge van die lewe. Al het Augustinus die Rooms-Katolieke geleer dat die skepping God se goeie skepping is, het die teoloë van daardie tyd nie waardering gehad vir die goeie van die verlede, die mooiheid van die lewe en die belangrikheid van die wetenskap nie. Vrees, bygeloof en wantroue in alles en almal het die menslike bestaan gekenmerk. Talle mense uit verskillende sfere van die lewe het hierteen in opstand gekom. Die groot kulturele bewegings wat bekend staan as die “Renaissance” en die “Humanisme” het hierdie protes verwoord en begelei. Alreeds teen die 14de eeu het mense begin om die goeie dinge van die Antieke, soos die letterkunde, filosofie en wiskunde, te herontdek. Om diepte aan hierdie proses te gee, moes die klassieke bronne ontsluit word. Hiervoor was kennis van Grieks, Hebreeus en Latyn nodig. Teoloë was in die ideale posisie om in hierdie navorsing die voortou te neem. Teoloë het dus deur hulle historiese navorsing bygedra tot die herontdekking van die mooiheid van die lewe. Mense het weer positief geraak oor die wêreld. Wetenskaplike navorsing is aangemoedig, aangesien dít, só is geglo, sou bydra tot ’n méér menslike samelewing. Mense soos Melanchthon is in hierdie “humanistiese tradisie” opgevoed en het uiteindelik self ʼn enorme bydrae gelewer tot die vermensliking van die lewe.

Hierdie genie was grootliks verantwoordelik vir die simbiose tussen humanisme en Reformasie. Hy was die man wat 28 jaar lank aan Luther se sy was, en grootliks verantwoordelik was vir die gestaltegewing van die Protestantse Kerk (of méér korrek, die Evangeliese Kerk). Ná Luther se dood het hy vir ʼn verdere 14 jaar die Reformatoriese stryd voortgesit. Hy was die rektor van die Universiteit, wat self in verskillende fakulteite en vakke lesings aangebied het. Volgens Luther was hy die enigste geleerde van daardie tyd wat oor res et verba beskik het – met ander woorde, oor die saaklike kennis sowel as die skryf- en redenasievermoë om die saak van die Reformasie te dien.

Met die hulp van Luther, het Melanchthon die kloosters wat deur die Protestante oorgeneem is, in openbare skole verander. Persoonlike, wêreldvermydende meditasie moes plek maak vir publieke verantwoordelikheidsbesef. Die vrou is in die hele proses herontdek as dié wese waarsonder se samelewing nie goed kan ontwikkel nie. Om hierdie rede het Melanchthon gesorg dat die amp van die diaken oopgestel is vir vrouens.

Melanchthon was verantwoordelik vir die vestiging van ’n positiewe verhouding tussen Protestantse teologie en die natuurwetenskappe. Hy self het Astronomie, Astrologie, Wiskunde, Geografie en Anatomie gedoseer. Die ontwikkeling van die mediese wetenskap en algemene gesondheidstelsel in Duitsland is aan hierdie Kerkhervormer te danke. Hy het handboeke oor al die wetenskappe van sy tyd geskryf, behalwe die Metafisika. Natuurwetenskaplike ondersoeke het volgens hom ingepas by die nadenke oor God. Wiskunde was vir hom ’n weg tot die ontdekking van die bestaan van God. Hy het ook ’n liefde vir die Geskiedenis gehad. Die talle oorloë en politieke veranderinge het hom laat vra na die verbande tussen historiese gebeure en die handelinge van God. Dit was veral die vraag na die Turkse gevaar wat mense geboei het. Hy het die suksesvolle Turkse imperialisme as “God se roede” gesien. Die aantog van hierdie “wrede boosdoeners” moes Christelike Europa tot omkeer aanspoor. Hy het egter ook daagliks gebid dat God Duitsland van die Moslemgevaar sou bewaar. As gevolg van sy humanistiese opvoeding het hy besef dat die klassieke geskiedenis besondere waarde vir die kerk en teologie inhou. Hy het almal aangemoedig om te leer by die ou leermeesters. Die teologiegeskiedenis was dus vir hom van uiterste belang. Om die kerk te help tot ’n historiese bewussyn, het hy ’n uitgebreide liturgiese kalender opgestel. Op hierdie wyse kon predikante nie net aan ’n wye spektrum temas aandag gee nie, maar ook aan die rykdom van teologiese gedagtes wat deur die eeue heen ontwikkel is.

Melanchthon staan bekend as die praeceptor Germaniae – die leermeester van Duitsland. Inderwaarheid was hy die leermeester van die ganse Reformatoriese beweging. Hy en Calvyn het ’n besondere vriendskapsverhouding gehad. Hy was Calvyn se vertroueling en raadgewer. Dit was eintlik ’n vanselfsprekendheid dat Calvyn die Augsburgse Belydenis, wat deur Melanchthon opgestel is, sou onderteken as ’n betroubare opsomming van die belangrikste aspekte van die Bybelse boodskap. Melanchthon word vandag gereken as een van die grootste ekumeniese persoonlikhede van alle tye. Die vorige pous (Josef Ratzinger) het byvoorbeeld in 1958-1963 seminare in Bonn oor Melanchthon aangebied en sy doktorale studente aangemoedig om proefskrifte oor sy teologie te skryf.

Gedurende die laat-Middeleeue is daar na die predikante as die “narre” en die “dommes” verwys. ’n Groot persentasie van hulle het feitlik geen teologiese kennis gehad nie. Hulle het ’n skamele onderrig gehad in “sistematiese teologie” (’n versameling van uitsprake van die kerkvaders deur Petrus Lombardus) en “eksegese” (die verklaring van enkele teksverse met behulp van aanhalings van die kerkvaders – die sogenaamde glossa ordinaria). Soos verwag kan word, het teoloë hulle daarom met onsinnighede besig gehou. Sommige het die vraag gedebatteer wat van ’n muis gaan word wat na afloop van ’n Nagmaalviering aan die brood eet. Ander het weer ’n antwoord bedink op die vraag wat van Jesus se voorhuid geword het na afloop van sy besnydenis. Melanchthon, Luther en ander was gedetermineerd om die predikantsamp in ere te herstel. Die enigste manier hoe dit gedoen kon word, was deur verbeterde onderrig en ’n aanmoediging om teologie te lees. Die plek waar die verbeterde onderrig na vore moes kom, was in die prediking. Dit was nie slegs die stelwyse wat verbeter moes word nie, maar ook die inhoud van die prediking. Trouens – Melanchthon het geoordeel dat die retoriek en stilistiese glans van die prediking van sekondêre belang was. Hy wou eerder sien dat die inhoud verbeter. Om dít reg te kry, het hy op die volgende aangedring: a) ’n Bybelse teks (lectio) moet die grondslag vorm van ’n preek. b) Hierdie teks moet binne die groter raamwerk van die Christelike leer (doctrina) verduidelik word. c) Die boodskap moet uiteindelik dien tot troos en hoop in die lewe (adhortatio). Om te verseker dat studente eendag as predikante die saaklike kennis en begrip van die evangelie sal bevorder, met hart en siel sal meewerk aan die onderrig in die geloof en die morele opvoeding van die bevolking sal dien, het hy Luther oortuig om ’n proponentseksamen in te stel. Om te verseker dat predikante op hierdie weg volhard, het hulle toe ook met ’n proses van jaarlikse visitasie begin. Die visitasiegesprek moes volgens Melanchthon afgestem wees op die motivering van predikante om voortdudurend besig te wees met intensiewe studie van die Bybel, die filosofie en die kerkvaders. Dít was volgens hom die voorwaarde vir die stuiting van die godsdienstige verval en die herstel van die kerk.

Ten slotte iets oor sy teologiese etiek: Melanchthon is in die humanistiese gees opgevoed. Dit beteken dat hy op voetspoor van Cicero (106-43 vC) geleer is dat die taalkundige, sedelike en geestelike opvoeding van mense belangrik is. “Humaniste” heg waarde aan die ontsluiting van antieke tekste vir eietydse gebruik. Met behulp van die kennis en insig van vorige tydperke, moet mense geleer word hoe om “mens” te word, aangesien ons nie as “mense” gebore word nie. Ons word “mens” wanneer ons ’n menslike samelewing en omgewing kan skep. Een van die invloedrykste humaniste, Pico della Mirandola (1463-94), het geleer dat die mens in staat is om sy hele wêreld te omvorm en te herskep op grond van goeie opvoeding. Erasmus van Rotterdam (1465-1536) was versigtiger en het gesê dat ons slegs op ’n beperkte skaal mense en hulle samelewings kan verbeter. Melanchthon het egter geleer dat ons in ’n beperkte mate op grond van opvoeding en die leiding van die Heilige Gees ’n beter wêreld kan skep. Hierdie poging het egter niks met ons saligheid te make nie. Hierdie “geregtigheid” word nie deur God aanvaar nie, aangesien dit altyd deur egosentriese belange gekenmerk word. Die feit dat ons nie die ewige lewe sal beërwe op grond van ons pogings om ’n menslike wêreld te skep nie, beteken egter nie dat ons nie hiermee moet voortgaan nie. Inteendeel! Dit is ons menslike plig. 

Werk
Akademies

Soos reeds vermeld, het Melanchthon as jeugdige reeds akademies naam gemaak met sy Griekse grammatika. Daar is ook vermeld dat hy binne enkele maande ʼn BA-graad in Teologie verwerf het. As Baccalaureus Biblicus was hy verplig om lesings uit die Vulgaat (die Latynse Bybel) aan te bied. Om te kwalifiseer vir ʼn volgende graad, moes hy die Stellings van Petrus Lombardus (ʼn versameling uitsprake van die kerkvaders) voordra. Hiervoor het hy nie kans gesien nie, en eerder ʼn totaal nuwe literatuursoort geskep. Met gebruikmaking van die humanistiese metodiek, ontwikkel hy op grond van die Romeinebrief, die Loci Communes, die eerste Reformatoriese geloofsleer (of Dogmatiekhandboek). Hierdie Latynse titel word op verskillende maniere vertaal, soos Common Topics [Algemene Onderwerpe] (Melanchthon [1521] 2014 of Grundbegriffe der Theologie [Teologiese Grondbegrippe] of Theologische Skizzen [Teologiese Sketse] (Melanchthon [1521] 1997). Luther en die vors was só beïndruk met hierdie “klein mannetjie”, dat hy in 1525 ʼn aanstelling in die teologiese fakulteit ontvang. Sy Griekse leerstoel is met iemand anders gevul. Toe daar in 1533 vir die eerste keer studente in die teologie in Wittenberg kon promoveer, het hy die reëls en standaarde op skrif gestel (asook in 1545 statute vir universiteite) – wat tot vandag toe wêreldwyd as voorbeelde geld. Toe hy in 1523 rektor geword het, het hy die volgende vernuwings ingestel: Elke student moes by die rektor aanmeld vir ʼn onderhoud, waarna daar vir elke student ʼn dosentementor aangestel is. Hy verminder die tradisionele disputasies en koppel dit aan tematiese onderwerpe. Heeltemal nuut was die declamationes – spraakoefeninge wat nie alleen die formeel-logiese denke ontwikkel het nie, maar ook daartoe bygedra het om die tema mooi aan te bied. Hy self het meermale toesprake gelewer oor die kuns van goeie redevoering. Hy het die tradisie gevestig (in verskillende fakulteite) dat dosente se lesings uiteindelik in leerboeke moes eindig. Hy het self die voorbeeld gestel: Naas die Griekse en Latynse grammatikas publiseer hy in 1531 sy Retoriek, 1540 en 1553 De anima (Antropologie / Anatomie vir mediese studente vanuit ʼn teologiese perspektief), 1547 sy Dialektiek, 1549 sy Fisika (gesprek met Kopernikus) en 1550 die Moraalfilosofie. Teologies verdien die volgende vermelding: 1527 Kommentaar op Kolossense, 1532, 1540 en 1556 Kommentaar op Romeine, 1543, 1558 en 1560 Kommentaar op Daniël (wat ook ʼn geskiedenishandboek was), die Loci herskryf hy tussen 1533 en 1543 telkens nuut, in 1555 (en ook 1559) skryf hy ʼn eie Duitse weergawe van die Loci. Hiervan word (in sy leeftyd) Italiaanse, Franse en Kroatiese vertalings gemaak (vgl. Scheible 2014:165-166).

Kerklik

Melanchthon was ʼn uitstaande akademikus wat ook ʼn reusebydrae gelewer het tot die vestiging en ontwikkeling van die “Evangeliese Kerk” (die name “Lutherse Kerk” en “Protestantse Kerk” dateer uit tye ná Melanchthon se dood). Hy het Luther bygestaan tydens die Disputasie van Leipzig in 1519. Hy het die opdrag gekry om die akademiese geveg met Johannes Eck verder te voer. Tydens Luther se verblyf op die Wartburg (1521-1522) het hy die lesings in teologie waargeneem, en saam met Andreas Karlstadt die reg van priesters om in die huwelik te tree, verdedig. Op 29 September 1521 is die eerste Protestantse (of dan “Evangeliese”) Nagmaal in Wittenberg danksy Melanchthon gevier. Hy het Luther in September 1521 aangemoedig om die Nuwe Testament in Duits te vertaal, en het hom tot en met die afhandeling van die vertaalwerk aan die Ou Testament in 1545 daarmee gehelp. Sonder Melanchthon, sou Luther nooit die Bybelvertaling suksesvol kon afhandel nie.

Sedert Julie 1527 was Melanchthon as visitator onderweg in Thüringen. Hy was ontsteld oor die gebrekkige kennis van die predikante en die goedkoop genade wat hulle verkondig het. In Maart 1528 word die Duitse weergawe van sy Unterricht der Visitatoren [Onderrig van die Visitatore], met ʼn voorwoord van Luther, gepubliseer. Hierdie traktaat sou die fondament vorm waarop die Duitse skoolstelsel hervorm en verpligte universiteitsopleiding vir predikante ingevoer is. Hierdie geskriffie sou ook die basis verskaf vir latere kerkordes wat die lig sou sien. Kom ons sê dit weer: Melanchthon het met sy Onderrig van die Visitatore die skoolsisteem hervorm, toegesien dat teologiestudente aan ʼn universiteit opgelei word, en dat Protestantse kerke oor kerkordes sal beskik, waarvan visitasie ʼn kernelement sou wees (Scheible 2014:167).

Die kern van Reformatoriese teologie het volgens Melanchthon te make met die regte onderskeiding en regte samehang van wet en evangelie. Nadat Luther die regverdigmaking deur die geloof alleen beklemtoon het, kon Melanchthon weer aandag skenk aan die belangrikheid van die wet. Sy verstaan en uitleg van die wet het sy nawerking in die liturgie van die Hervormde Kerk. Melanchthon het ons geleer dat die wet drie funksies of gebruike het, te wete a) die teologiese gebruik van die wet (usus theologicus), b) die maatskaplike gebruik van die wet (usus civilis), en c) die derde gebruik van die wet (tertius usus legis). Die wet van God (die tien gebooie en saamgevat in die dubbele liefdesgebod) oortuig ons van sonde en skuld en laat ons ons toevlug tot God neem. Die wet, en spesifiek die tweede tafel, lê die mees basiese morele bakens neer vir die goeie en ordelike funksionering van die samelewing. Die wet, veral soos dit gestalte kry in die morele onderrig in die Nuwe Testament, funksioneer as die riglyn vir die Christelike lewe (Scheible 2014:168).

Melanchthon het ook ʼn belangrike bydrae gelewer ten opsigte van die belangrikheid van Sondag Trinitatis in die liturgiese kalender. In die eerste uitgawes van sy Loci het hy glad nie aan die Triniteitsleer aandag gegee nie. Sy gedwonge bemoeienis met die anti-trinitariërs, Johannes Campanus en Michael Servet, het hom genoop om hierdie rigtinggewende uitspraak te maak: Die geheimenisse van God moet ʼn mens eerder aanbid as om dit te probeer deurvors. Die implikasie is dat die fees ter ere van die drie-enige God op lofprysing en aanbidding moet konsentreer, eerder as om die geheimenis van die Drie-eenheid te probeer verstaan (vgl. Grosse 2008). Kersfees het hy ook aan ʼn nuwe dogmatiese onderbou onderwerp. Die ontologiese verstaan van die tweenatureleer het hy na ʼn soteriologiese verstaan verander deur te sê: Om Christus te erken, beteken om sy weldade te ken en nie om sy nature te probeer begryp nie. Op grond van hierdie dogmatiese invalshoek is Kersfees bevry van kil, abstrakte denke en verander in ʼn fees van dankbaarheid oor wat Christus vir ons gedoen het.

Melanchthon was ook verantwoordelik vir die ordelike reëling van huwelike. Hy het, as deel van sy etiekhandboek, ʼn register van familieverwantskappe opgestel. Tot vandag toe, danksy Melanchthon, trou broers en susters, neefs en niggies nie met mekaar nie. Interessant is dat hy die tugbevoegdheid oor predikante van die kerkleiding weggeneem het, en dit in die hande van die plaaslike kerkraad geplaas het. In 1535 het hy ook die ordening van predikante vanaf die kerkleiding na die teologiese fakulteite verskuif. Só het hy, as dekaan, die proponente self georden en vir hulle getuigskrifte geskryf (Scheible 2014:168).

Melanchthon was ʼn prominente deelnemer aan die Ryksdae. Op die Ryksdag van Speyer in 1529 het hy nog Luther se verstaan van die Nagmaal verdedig. By die Godsdiensgesprekke van Marburg (1529) het hy probeer om Zwingli te oortuig om ʼn buigsamer standpunt in te neem. Tydens die Ryksdag van Augsburg (1530) het hy die Confessio Augustana neergeskryf en in die agtergrond oorredende gesprekke gevoer. Melanchthon was ook die outeur van die Apologie van die Confessio Augustana en die Wittenberger Konkordie (1536).

Foto (bo): Luther en Melanchthon

Melanchthon was ook ʼn prominente ekumeniese figuur. Sedert die Vorstedag in Frankfurt (Mei 1539), het hy opgetree as Calvyn se mentor. Calvyn het byvoorbeeld aanbeveel dat Servet gedood moes word, eers nadat hy goedkeuring by Melanchthon gekry het. Melanchthon is in sy latere lewe deur sekere Lutherse groeperings verdag gemaak as ʼn verskuilde Calvinis. Een rede wat aangevoer is, het te make met sy goedkeuring van die Calvinistiese Nagmaalbeskouing by keurvors Frederik III van die Palts in 1559. Melanchthon se ekumeniese invloed het egter indirek deur sy leerling Zacharias Ursinus gegroei. Deurdat Ursinus primêr vir die skryf van die Heidelbergse Kategismus verantwoordelik was, het Melanchthon se teologie groter invloed op ons denke as wat ons ooit kan besef (Scheible 2014:171).   

Publikasies
Primêre geskrifte

Melanchthon, P., 1834-1860, Philipp Melanchtonis opera quae supersunt omnia. Edidit Carolus Gottlieb Bretschneider 28 voluminibus, Halis, Saxonum [Werke deur Philipp Melanchthon wat die toets van die tyd deurstaan het, uitgegee deur Carolus Gottlieb Bretschneider in 28 volumes, Halle, Sakse (1834-60)]. Algemeen bekend as Corpus Reformatorum (CR).

Melanchthon, P., [1521] 1997, Loci Communes. Lateinisch – Deutsch.  Übersetzt v H. Pöhlmann, Hrsg von Lutherischen Kirchenamt der VELKD, 2. Aufl., Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh.

Melanchthon, P., [1521] 2014, Commonplaces, translated with Introduction and Notes by Christian Preus from the original Loci Communes 1521, Concordia Publishing House, St. Louis, MO.

Melanchthon, P., [1559] 1856, Loci Praecipui Theologici, Sumtibus Gust. Schlawitz, Berolini / Berlin. (Abdruck der 1559 zu Leipzig erschienenen Ausgabe. Copied and distributed by Amazon.de 2015).

Melanchthon, P., [1559] 2011, The chief theological topics, translated by J.A.O. Preus from the original Loci Praecipui Theologici, second English edition, Concordia Publishing House, St. Louis, MO.

Melanchthon, P., [1553] 2010, Heubtartikel Christlicher Lere. Melanchthons deutsche Fassung seiner Loci Theologici, nach dem Autograph und dem Originaldruck von 1553 herausgegeben von Ralf Jenett und Johannes Schilling, 2. aktualisierte und ergänzte Ausgabe, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Melanchthon, P., 2011-2012, Melanchthon deutsch. 4 Bände, Hrsg von M. Beyer, S. Rhein und G. Wartenberg, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Aanbevole sekondêre literatuur

Van Wyk, I.W.C., 2017a, ‘Die lewe en werk van Philipp Melanchthon (1497-1560): ʼn Leksikografiese bydrae tot Reformasie 500’, HTS Teologiese Studies 73(1), a4575. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v73i1.4575.

Van Wyk, I.W.C., 2017b, ‘Philipp Melanchthon: A short introduction’, HTS Teologiese Studies 73(1), a4672. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v73i1.4672.

Jung, M., (Hg), 2010, Ich rufe zu dir: Gebete des Reformators Philipp Melanchthon, Hansisches Druck- und Verlagshaus, Frankfurt. 

Jung, M., 2010, Philipp Melanchthon und seine Zeit, Vandenhoeck, Göttingen.

Jung, M., 2011, Philipp Melanchthon – Gebildeter Glaube, Luther 82,150-162.

Kuropka, N., 2010, Melanchthon, Mohr (UTB Profile), Tübingen.

Müller, G., 2010, Melanchthon (1497-1560) und Luther (1483-1546): Ein Vergleich, Kerygma und Dogma 56(3),166-181.

Scheible, H., 1992, s v Melanchthon, Philipp (1497-1560), Theologische Realenzyklopädie Band XXII, 371-410, Walter de Gruyter, Berlin.

Scheible, H., 2002, s v Melanchthon, Philipp, Religion in Geschichte und Gegenwart4 Band 5, 1002-1011, Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.  

Scheible, H., 2014, Philipp Melanchthon, in I. Dingel & V. Leppin (Hrsg.), Reformatorenlexikon, pp. 163-173, Wissenschaftliche Buchgesellschaft, Darmstadt.

Scheible, H., 2016, Melanchthon: Vermittler der Reformation; Eine Biographie, C.H. Beck, München.

Schilling, J., 2013, Nachbar Melanchthon, Luther 84/3,183-186.

Schweitzer, F., Lorenz, S. & Seidl, E. (Hg), 2010, Philipp Melanchthon: Seine Bedeutung für Kirche und Theologie, Bildung und Wissenschaft, Neukirchener Theologie, Neukirchen-Vluyn. (Theologie Interdisziplinär Band 8).

Selderhuis. H., 2010, Praeceptor Europae: Philippus Melanchthon over kerk, recht en universiteit, Apeldoornse Studies (55), Theologische Universiteit Apeldoorn.

af
af
Deel met behulp van
Copy link